Fluitspelers eindig dalk jaar op hoë noot

Pretoria sal in die Nasionale Jeugkompetisie aan die einde van die jaar deur twee vriendinne wat beide fluit speel, verteenwoordig word.

Twee ontluikende sterre van Pretoria is onder die top 20 gekeurde klassieke musiek deelnemers aan die Nasionale Jeugmusiekkompetisie vanjaar.

Die kompetisie word van 2 to 7 Desember by die Endlersaal in Stellenbosch aangebied.

Om die kroon te span, gaan die twee vriendinne, Gabriella Claasen (19) van Centurion en Talitha Pienaar (18) van Wingate Park vanjaar in dieselfde kategorie teen mekaar meeding.

Beide speel dwarsfluit en loop saam klas in musiek aan Tukkies.

’n Paneel van gevierde musici het 20 kandidate deur video-oudisies gekies.

Hulle sal in vyf kategorieë vir orkesmusiekinstrumente meeding.

Claasen speel al ses jare fluit. “Ek hou van so baie dinge van fluit speel. Maar ek hou die meeste daarvan om tot eer van die Here te speel. Ek hou van die tye wat ek kan speel en van alles om my kan vergeet, en net musiek kan maak,” verduidelik sy.

Sy het vanaf driejarige ouderdom by haar ma vioolles gekry. Op vyfjarige ouderdom het sy met blokfluit en klavier begin.

“Al het ek nie altyd daarvan gehou om te oefen nie, en sou ek baie eerder heeldag buite wou speel, is ek so bly my ouers het my aan so baie aktiwiteite blootgestel. As dit nie vir hulle was nie, kan ek vir seker sê ek sou nie baie in my lewe bereik het nie,” verduidelik Claasen.

Sy probeer so produktief as moontlik oefen, eerder as om net soveel as moontlik ure in te sit en te speel.

“Ek probeer ook ‘mental practice’ waar ook al ek gaan. Dit behels dat ek my vingers, musiek en optrede-omgewing visualiseer sonder my instrument,” vertel die blondekop. Sy speel ook af en toe saam met die Universiteit van Pretoria se simfonieorkes.

“Ek geniet dit ook om saam met my familie musiek te maak, al is dit partykeer chaos met die voorbereiding vir ’n konsert. Mens kan van alles om jou vergeet as jy speel en saam met mekaar net aan musiek en emosie dink,” meen Claasen.

Sy is gaande daaroor om na fluitspeler Jasmine Choi te luister en vind dit altyd indrukwekkend hoe sy kleur gebruik in haar spel. Die groep Con Grazia se lede is vir haar rolmodelle.

Pienaar, haar musiekmaat, word daagliks geïnspireer deur fluitspelers Emmanuel Pahud, Cobus du Toit, en haar fluitlektor, Anna-Maria Vermeulen, sowel as haar tjello-lektor, Berthine van Schoor.

Gabriella Claasen

Pienaar vertel sy en Claasen ken mekaar vandat hulle babas is en speel al lank saam.

“Dit gaan baie lekker wees om saam met haar aan die kompetisie deel te neem,” glo sy.

Pienaar het begin fluit speel op tienjarige ouderdom en bespeel die instrument al agt jaar lank.

Van haar heel eerste fluitles tot op hede, speel sy onder leiding van Anna-Maria Vermeulen. In 2021 het sy ook bykomend fluit-onderrig by Handri Loots ontvang.

Pienaar sê sy was nog nooit mal oor sport, sang of enige vorm van praatjies voor mense doen nie.

“As ek fluit speel, dan hoef ek nie self met my gehoor te praat nie, maar ek kan my fluit met hulle laat kommunikeer. Idees of emosies wat ek aan my gehoor wil oordra, kan ek aan my fluit toevertrou. Dit wat ek nooit met woorde sal kan beskryf nie, kan ek baie makliker deur my fluit regkry,” verduidelik sy.

Sy geniet dit ook om fluit in hul kerk se musiekspan te speel waar “ek God deur musiek kan verheerlik en aan Hom kan glorie bring”.

Sy hou daarvan om vir haarself doelwitte te stel wanneer sy oefen.

“Ek sal eers na die groot prentjie kyk en op my hoofdoel besluit. Daarna sal ek dit opbreek in kleiner deeltjies waar ek meer haalbare doelwitte het om na te streef. Ek luister ook na menige opnames van professionele musikante om elkeen se interpretasie te analiseer. Dit is vir my belangrik om, nadat ek klomp idees bymekaar gemaak het, self te besluit waarvan ek hou en wat ek dink die beste interpretasie van die styl en agtergrond van die werk is,” verduidelik sy.

Pienaar sien baie uit na die kompetisie in Desember.

“Dit sal ’n ongelooflike ervaring wees om wel gekies te word vir die finaal saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes, en ek sal baie dankbaar wees vir die Here se genade om my so geleentheid te gee. Ek sal my beste poog om nie gestres te raak nie, maar te besef dat ek net my beste kan gee vir die Here, en maak nie saak wat die uiteinde is nie, solank ek dit vir my God gedoen het, is dit goed.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version