Local newsNews

Moot Projek maak vordering om area in pragbuurt te omskep

Die projek se statistiek bewys hoe suksesvol die gemeenskap hande neem met besighede en vrywilligers: Meer as 2 000 lamppale is geverf en sommige naweke word meer as 600 onwettige advertensies van strukture verwyder.

Die doelwitte van die Moot Projek die afgelope twee maande was om aan Queenswood se opknapping aandag te gee en dit vorder volgens beplanning.

So sê mede-stigter van die projek, Johan Oberholster.

“Ons het gemik om Queenswoord se kernarea by Queens Corner en Queens Quarter op te knap so teen die middel van die jaar. Ek is trots om te sê danksy skenkings van besighede en ook inwoners, het ons die gebied klaar opgegradeer. Ons kon die hoek van Gordon- en Soutpansbergweë mooi netjies maak en die absolute gemors op Woodlands Drive skoon maak,” vertel Oberholster.

Nog verfraaiing word rondom Queenswood en die Moot beplan.

Hy verduidelik die mikpunt vir die res van die jaar is om toe te sien dat munisipale infrastruktuur soos lamppale, swaai-asblikke, bushaltes en kragkaste op sypaadjies, geverf word in die kleure van die metro en graffiti en geplakte advertensies te verwyder.

“Ons is besig om die situasie mooi onder beheer te kry. Ons het nou al meer as 2 000 lamppale geverf in verskillende buurte in die Moot soos Pierneefrif, Deerness, Queenswood en Rietondale. Die verfprojek word tans voortgesit met die huidige poging om pale in Môregloed te verf,” verduidelik Oberholster.

Hy sê daar is ongelukkig ’n handjie vol moedswillige oortreders, wat eenvoudig nie omgee hoe hierdie skoongemaakte areas weer vuil gemaak word deur hul onwettige advertensies nie.

Oberholster sê dat van hierdie oortreders die Mootprojek se personeel en vrywilligers al ’n paar kere van aangesig tot aangesig en telefonies gedreig het, en die polisie gebel het om hulle te intimideer.

Verskeie straateilande is deur die Mootprojek in Queenswood opgeknap.

Hy wys daarop dat die Moot Projek-span nou saam met die metro werk en hulle het goedkeuring om onwettige advertensies af te haal.

“Een duidelike boodskap aan die onwettige adverteerders is dat ons sal aanhou om die advertensies af te haal, solank as wat hulle dit onwettig opsit. Ons vra ook die publiek om nie hierdie besighede te ondersteun nie, omdat hulle ons area ontsier.”

Hy wys daarop dat die projek se mense sommige dae tot meer as 600 sulke advertensies afgehaal het.

“Ons het die afgelope twee jaar derduisende onwettige advertensies in die Moot van munisipale en ander strukture afgehaal en dit is eintlik so eenvoudig om die advertensies wettig te maak deur bloot die toepaslike Tshwane-plakker te kry,” verduidelik hy.

“Alhoewel ons op detail konsentreer, hou ons die groter prentjie die hele tyd in gedagte,” vertel Oberholster.

Deel van die verfraaiingsplan is ook om onkruidbestryding te doen en waterslim plante (wat min water benodig) op sypaadjies aan te plant waar dit gepas is.

“Ons vra elke Moot-inwoner en besigheid om asseblief die sypaadjie voor sy eiendom skoon te hou. Op dié manier kan ons die hele Moot binne ’n maand in ’n pragbuurt omskep.”

Nog ’n park in die area anderkant die N1 het aandag gekry toe BFH Ministries se lidmate van die parkiekerk in Jan Niemandpark en vrywilligers ingeklim het om die park op die hoek van Jan Coetzee- en Swaanstrate reg te ruk.

Oberholster is ook uiters dankbaar vir vrywilligers wat die nuwe jakarandabome in Soutpansbergweg en die Vanwykshoutbome in CR Swartstraat water gegee en laasgenoemde gered het tydens ’n brand op die pad se middelmannetjie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button