Drie Pretoria-skole is finaliste van 60ste ATKV-Tienertoneelkompetisie

Tienertoneelproduksies van drie Pretoria-skole is onlangs hoogs aangeskryf by 'n nasionale kompetisie vir tienertoneel waaraan 187 produksies deelgeneem het.

Drie Pretoria-skole se produksies het deurgedring tot die 60ste ATKV-Tienertoneelkompetisie waaraan meer as 3 000 tieners hul stories tydens nege streeksfeeste landswyd vertel het.

Die inskrywings is: Hoe lyk ’n engel? deur die Hoërskool Garsfontein, Kou my vingers tot die been deur die Hoërskool Eldoraigne in Centurion en Teddie et al deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion.

Die wenproduksie sal einde September wegstap met die ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee, R30 000 kontant en ’n speelvak tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees.

Die span van die produksie ‘Hoe lyk ’n engel?’ wat deur die Hoërskool Garsfontein opgevoer is.
Die produksie ‘Kou my vingers tot die been’ is deur die Hoërskool Eldoraigne opgevoer.

Hierdie drie opvoerings was deel van 187 produksies van regoor Suid-Afrika.

Solomon Cupido, een van vanjaar se mentorbeoordelaars, meen die talent wat tydens die kompetisie te siene was, is bemoedigend sover dit die toekoms van Suid-Afrikaanse teater betref.

“Ek het die geleentheid gehad om die afgelope drie jaar die spelers van die ATKV-Tienertoneel te mentor en ek kan eerlik sê dat ’n aantal skole en individue merkwaardige groei getoon het. Ek is veral beïndruk met sommige leerders wat voorheen ensemble- of ondersteunende rolle gespeel het, en nou hoofrolle met uitsonderlike vertonings vertolk het,” wys Cupido uit.

Die produksie ‘Teddie et al’ is deur die Hoërskool Zwartkop opgevoer.

Mentorbeoordelaar Liezl de Kock is dit eens met Cupido. “ATKV-Tienertoneel is vanjaar 60 jaar jonk en die talent van die tienerakteurs, skrywers, tegniese spanne en regisseurs is vir my verstommend.”

ATKV-woorvoerder Mercia Eksteen glo die kompetisie se unieke aanbiedingsformaat ontwikkel die jeug se liefde vir toneelspel. Deelnemers aan elke produksie kan na afloop van hul optrede met mentorbeoordelaars in ’n tweerigtingsgesprek tree en saam oor die produksies kopkrap.

Vanjaar se mentorbeoordelaars was Marijda Kamper, Mari Molefe van Heerden, Marlo Minnaar, André Lotter, Jacques Bessenger, prof. Marié-Heleen Coetzee, Lindsey Cele, Liezl de Kock, Chris Vorster, Donovan Pietersen, Wilhelm van der Walt en Solomon Cupido.

Die slegs-leerders-kategorie (vir produksies waar leerders alle aspekte van teater self behartig) het ’n geweldige groei in standaard getoon deurdat daar vanjaar vir die eerste keer sedert 2019 weer ’n slegs-leerders-produksie in die nasionale top-10-produksies is.

Die top-10-produksies word genooi na die nasionale Simbiose-finaal, wat tussen 23 en 28 September in die Kunstekaap-dramateater in Kaapstad plaasvind.

Die produksie ‘Teddie et al’ is deur die Hoërskool Zwartkop opgevoer.

Die drie Pretoria-skole sal teen die volgende skole se produksies meeding:

– 99 Luftballons deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
– CALLBACK deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad
– KAMP SAAM deur die Hoërskool Durbanville in Durbanville (*slegs leerders-produksie)
– Mensdom deur die Curro Durbanville Hoërskool in Durbanville
– SPEL deur Potchefstroom Gimnasium in Potchefstroom
– VIR SPOT deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
– Wat wolke weeg deur die Hoërskool Hugenote in Springs

Kaartjies vir die nasionale Simbiose-finaal is vanaf Woensdag, 4 September op Webtickets beskikbaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version