Met strykstok en saag maak Centurion-inwoner musiek

Rommel van der Riet se musiek op ’n ongewone musiekinstrument bly in aanvraag by groot geleenthede.

Suid-Afrikaanse saagmusikante raak al hoe minder. Waar daar vroeër jare ongeveer 750 musikante in Suid-Afrika was, is daar vandag skaars 20 mense wat nog ’n saag as musiekinstrument bespeel.

Volgens een van hierdie musikante, Rommel van der Riet van Centurion, is daar vandag nog net vyf sulke musikante in Pretoria.

Van der Riet word nog gereeld genooi om op te tree, veral saam met sy trekklavier-kollega, Willie Jooste, voorsitter van die ATKV-Centurion.

Rommel van der Riet speel op sy saag.

Hy verduidelik die musieksaag is langer as ’n skrynwerksaag.

Die tande is nie skerp gemaak nie en die rugkant is glad gepoleer. Die saag word meestal gespeel met ’n viool-, tjello- of kontrabasstrykstok.

Daar is ook musikante wat die saag met ’n dromstok, spyker, skroewedraaier of houtstokkie speel.

Hy dra handskoene terwyl hy die saag bespeel om die lem teen roes en vingermerke te beskerm.

Die speelposisie is meestal sittend met die saag tussen die bobene, hoewel hy al ’n musikant gesien het wat die saag in die staande posisie speel.

Sy eerste blootstelling aan musiek was toe hy in graad 1 (Sub A) die rol van die singende prins in ’n opvoering van Sneeuwitjie en die Sewe Dwergies gespeel het.

“Ek onthou die storie vandag nog, want my kleinkinders vra my gereeld oor my rol as die ridder op die witperd! Dalk rym my storie nie heeltemal met wat hul ouma hulle vertel het nie!”

Sy koshuisvader op laerskool, Puggy Munnik, was ’n kranige mondfluitjiespeler en het op ’n dag gevra dat ouers vir hul kinders mondfluitjies moet gee sodat hy ’n mondfluitjie-orkes kon stig.

Sy ma het toe vir hom twee fluitjies gekoop. Vandag speel hy steeds mondfluitjie.

Hy het ook die kuns bemeester om mondfluitjie en die saag saam te speel.

Rommel van der Riet met sy kissie mondfluitjies.

Sy kennismaking met die musieksaag het tydens ’n reënbui begin.

Hy het een middag by ’n huis in Oudtshoorn se bo-dorp verby gehardloop om uit die reën te kom. ’n Inwoner wat op die stoep gesit het, het hom ingenooi uit die onstuimige weer en gevra om na sy musieksaag te luister.

“Hy’t die saag oor sy knie getrek en my heeltemal verstom met die mooi note wat hy met ’n vioolstrykstok uit die instrument gestreel het,” glimlag Van der Riet nostalgies. “Ek het my daar en dan voorgeneem om ook eendag saag te speel.”

Sy eerste musieksaag het hy as geskenk van ’n vriend van sy skoonpa ontvang.

Hy het daarna elke aand vir nagenoeg ses maande geoefen om die instrument te bemeester.

In 2013 het Sakkie Kotze, die voorsitter van die Centurion ATKV-tak en direksielid van die ATKV, hom gevra om die eeufeesviering van die Vrouemonument in Bloemfontein met die speel van Koos du Plessis se “Gebed” op die saag te open.

“Dit was een van die grootste ervarings wat ek as amateur-musikant beleef het,” vertel hy.

Hy het daarna by verskeie geleenthede saam met die ATKV opgetree, soos byvoorbeeld die inwyding van die Vlam vir Afrikaans by die Voortrekkermonument, toekenningsgeleenthede vir die beste Afrikaanse leerders in verskeie skole en boekbekendstellings deur uitgewermaatskappye.

Willie Jooste

Hy het nog nooit vir geld of vergoeding gespeel nie.

Voor sy aftrede in 2015, was hy vir meer as vier dekades verbonde aan die Department van Korrektiewe Dienste, onder meer ook as hondegeleier.

Hy het sy bynaam by ’n kollega gekry nadat hy deur ’n Rottweiler gebyt is (die hond se naam was Rommel). Die naam het toe soos ’n veldbrand versprei na oral waarheen hy in die departement gegaan het.

Sy oefenplek is die stoep by die huis. “Ek is ’n stoep-musikant, seker ook tot ergernis van die bure!” skerts hy.

– Kliek hier om na ’n opvoering deur Rommel van der Riet op die musieksaag en Willie Jooste op die trekklavier te luister.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version