Oproep tot klasaksie gemaak teen metro oor beweerde metergepeuter

Inwoners in Pretoria-Noord wil saamstaan teen die metro in 'n hofsaak rondom beweerde metergepeuter. Een inwoner het wel 'n oplossing en doen aan die hand die metro moet daarvan gebruik maak.

Inwoners van Pretoria-Noord dreig om die metro hof toe te sleep oor hul versuim om gevalle van beweerde metergepeuter te ondersoek.

Hulle is so moedeloos oor die gebrek aan reaksie van die metro dat hulle hul tot prokureurs gewend het en saam wil staan in ’n klasaksie om regsonkoste vir sulke gedinge teen die metro te betaal.

“Ek sal graag kontakbesonderhede van ander mense wat dieselfde probleem as ek het, wil kry sodat ons die metro hof toe kan vat en die koste kan deel,” sê Johan Engelbrecht van Montana.

“Ek glo die metro ignoreer my want hulle weet dat my prokureurskoste meer gaan beloop as wat hulle my skuld,” sê Engelbrecht.

Vir hom het dit ’n saak van eer geword om bewerings dat hy hom skuldig maak aan metergepeuter te weerlê.

Hy het al die metro se stappe gevolg om sy klagte aan te meld, e-posse gestuur aan die nodige departement soos versoek, ’n polisieverklaring gekry asook om die saak onder die aandag van die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys gebring.

Engelbrecht wil veral ook vergoed word vir die eenhede (3 917) wat hy gedurende die bewerings rondom metergepeuter verloor het. Hy word daarvan beskuldig dat hy ’n draadjie geknip het.

Hy het sedert 11 April toe sy meter verwyder is tot vandag geen krag van die metro gebruik nie.

“Dis nie vir my nodig nie. Hoekom sal ek dan met die meter peuter as ek nie ’n meter nodig het nie?” vra Engelbrecht.

Hy het die Rosslynkantoor van die metro op 26 April besoek om die foto te sien van die meter in die kragkas voordat dit verwyder is. Hy kon geen metergepeuter daaraan sien nie. Niemand van die metro wou hierdie foto aan hom stuur nie.

Hy het homself afgevra: “Watter voordeel sal dit vir die metro inhou as hulle die draadjie knip? R40 000 in my geval. Ek is gedreig dat ek my eenhede gaan verloor en ook ’n boete van R28 000 gaan betaal as ek skuldig bevind word.”

Hy stel voor dat die metro moet ’n interne ondersoek doen om te kyk na moontlike misdadige bedrywighede rondom die metergepeuter.

“Ek het aangebied en is bereid om ’n leuenverklikkertoets af te lê en ek dink die persone wat die meters verwyder, moet ook so ’n toets doen,” stel Engelbrecht voor.

Hy weet van talle ander gebruikers wat met dieselfde beweringe geteister is.

“Nog meer mense gaan so gevang word, veral die mense wat sonkrag het en nie krag koop nie,” glo Engelbrecht.

Soos hy dit verstaan, is daar moontlik ’n program geskryf vir die metro se stelsel om diegene wat nie krag vir langer as drie maande koop nie, te ondersoek.

“Ek dink dit is goed, maar daar sal regulasies moet bykom om vir sonkrag voorsiening te maak. Meters kan nie net links en regs verwyder word nie.”

Hy glo dat dit die verantwoordelikheid lê by die metro om prosesse in plek te sit wat beide partye beskerm.

“Eerstens moet alle meterkaste gesluit wees. Indien daar vermoed word dat daar met die meter gepeuter is, moet die meter stelselmatig geblok word sodat daar geen verdere krag gebruik kan word nie.

“Dan moet daar ’n afspraak met die gebruiker gemaak word en die kliënt telefonies gekontak word sodra die munisipale personeel by die kragkas is. Indien daar gevind word dat daar met die meter gepeuter was, moet die nodige stappe gedoen word,” verduidelik hy.

LEES: Matriekleerling se wentoespraakvideo oor Afrikaans kry honderde trefslae

Engelbrecht sê indien dit blyk dat daar nie gepeuter is nie, moet die kode vir die kliënt gegee word om die meter weer te open.

“Laasgenoemde is reeds ’n bestaande proses en ek weet nie hoekom dit nie deurgaans toegepas word nie,” doen Engelbrecht aan die hand.

Hy glo dit is nie nodig om die meter te verwyder nie.

“Volgens my is dit nie regverdig teenoor die eerlike inwoners nie soos wat dinge tans plaasvind nie,” verduidelik Engelbrecht.

Nog ’n inwoner met ’n soortgelyke probleem van Montana Park het reeds op 14 Mei ’n versoek ingesit vir die terugbetaling van ’n bedrag wat sy moes inbetaal as gevolg van bewerings dat sy met haar voorafbetaalde meter op 8 Mei gepeuter het.

“Die feit dat die elektrisiteitskaste oop is en dat enigiemand enige tyd toegang daartoe kan kry, is ook ’n bekommernis wat ons in die verlede al uitgewys het,” vertel die inwoner, wat anoniem wil bly.

“Ons het dadelik na metro se kantoor by Park- en Hillstrate gegaan om hierdie saak op te los. Die dame daar was baie behulpsaam en het haar bes gedoen om ons te help. Sy kon selfs nie glo dat hulle ons beskuldig nie, aangesien ons weekliks elektrisiteit koop en volle sonkrag het,” vertel die inwoner.

Niemand kon haar tydens haar besoek enige uitslag op haar klagte gee nie.

Sy het daarna met die kantoor van die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, sowel as die dispuutkantoor hieroor gekommunikeer.

Rekord het tydens ’n besoek aan die burgemeester, Cilliers Brink, ’n uitgedrukte e-pos oor haar klagte en besonderhede aan hom oorhandig.

Brink het onderneem om ondersoek te laat instel, maar geen antwoord is nog van sy kantoor ontvang nie.

Die totale bedrag wat inbetaal moes word om bloot net steeds krag te ontvang deur hierdie huishouding was R27 600.

Die huishouding is ook ’n tweede keer van ’n metergepeuter beskuldig en die totale bedrag wat nou reeds aan die metro betaal is, beloop meer as R60 000.

“Na drie maande wag ek steeds op behoorlike antwoorde op my e-posse, klagte met die nommer 6000987850 en nie bloot net die antwoord dat die aangeleentheid geëskaleer is nie,” sê die inwoner. Sy is deur die metro van die beweerde metergepeuter per e-pos ingelig.

“Ek ontken ten sterkste enige sodanige aktiwiteit en is diep ontsteld oor hierdie beskuldiging. Ek wil graag gedetailleerde terugvoer en bewyse versoek wat hierdie bewering ondersteun. Om die besonderhede te verstaan, sal my help om enige misverstande of foute aan te spreek wat dalk plaasgevind het,” sê die inwoner.

Geen bewyse is nog aan haar verstrek of gegee nie.

Metropersoneel wou ook nie tydens hul eerste besoek om die meter te verwyder die meter vir haar wys wat hulle uitgehaal het nie.

Sy sê dat tydens haar gesprek met die elektrisiën is daar genoem dat die voorafbetaalde meters besig is “om met hulself te peuter””

Sy wag steeds ook vir tegnici om die meter wat vervang is, korrek te kom installeer. Sy het die foutiewe meter op 16 Julie rapporteer.

Uit desperaatheid het die inwoner ’n slot op die meterkas buite haar huis op haar eie onkoste laat aanbring.

“Hierdie meter is verkeerd geïnstalleer en ek het Tshwane asook die burgemeesterskantoor hiervan ingelig. Dit is ook nie verseël nie. Ek is bekommerd omdat niemand hieroor met my kommunikeer nie,” sê sy.

Sy meld dat die verkeerde installasie die bedrae op haar elektrisiteitsrekening onnodig verhoog.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version