Irene-beïnvloeder nou troostante vir tieners

'n Tiener van Centurion bou 'n stewige internetgehoor op met haar raad aan haar portuurgroep en ouers.

Hildegard Havenga van Irene noem haarself “’n doodgewone tiener wat soms stout kan wees”.

Hierdie gewilde 15-jarige tiener-beïnvloeder en inhoudskepper van Centurion het ’n natuurlike charisma wat haar in staat stel om goed met ander tieners te kommunikeer via sosiale en ander mediakanale.

Sy fokus daarop om verhoudings tussen ouers en tieners te verbeter, en tienerkwessies aan te spreek.

Haar video’s en raad oor radioprogramme en TV het haar portuurgroep aan die praat.

“Tieners luister eintlik net na ander tieners,” vertel die talentvolle wenner van menige talentkompetisies, deelnemer aan modevertonings en akteur in talle verhoogproduksies.

Sy is ’n model van Steele Model Studios en het drama-afrigting by Brümilda van Rensburg gekry.

Met haar bydraes op sosiale media, wil sy veral verhoudings tussen ouers en tieners verbeter.

Haar ouers, Therese en Harry, het ’n sterk vormende invloed op haar.

“My ma hou my voete op die grond met haar reëls en dissipline, en my pa kry my kalm voor ’n optrede en laat my toe om elke keer weer my balans te vind,” sê Havenga.

Hildegard en Therese Havenga

Sy glo nie in die rolmodelstatus wat aan ’n presterende tiener deur ’n portuurgroep toegeken word nie.

“Ek sal eerder bekend wil wees as iemand wat tieners help om met hul ouers ’n gesprek aan die gang te kry en om met mekaar oor hul probleme te gesels,” verduidelik Havenga.

“Jy is nie die aantal prestasiebalkies op jou skoolbaadjie nie.”

Volgens haar kan weerloosheid en om jou kwesbare kant soms vir ander te wys, help om gesprekke oor moeilike onderwerpe aan die gang te kry.

“Dit verg moed, maar tieners begin gesels oor hul probleme en kwessies as jy self sê jy is nie oukei nie.”

Om self op haar sosiale media platforms hieroor te gesels en raad te gee, het moed geverg.

“Dis moeilik aan die begin, veral toe ek die eerste motiveringsvideo die aand opgeneem het en die volgende oggend moes plaas. Ek was eintlik skugter om daarna weer skool toe te gaan. Maar indien jy die groter gedagte om mense te help voor die oë hou, kan jy voortgaan,” vertel die oudleerling van Laerskool Hennopspark. Sy is tans in graad 10 by Die Hoërskool Menlopark.

Van die kwessies wat sy graag aanspreek is boelies, verhoudingsprobleme tussen vriende en hoe om jou ouers met respek te behandel.

Hildegard Havenga

Sy glo om goeie kommunikasie tussen ouers en tieners te bevorder, moet tieners veral begrip vir ouers se grense en reëls hê.

“Dit help as jy verstaan hoekom die grens gestel word. Maar moenie op die verdediging uitgaan en vra vir redes nie. Vra net respekvol hoekom die grens nodig is. Kies jou woorde reg.”

Saans mag sy nie na 20:00 op haar selfoon wees nie, maar sy vind dat indien sy wel onafgehandelde sake met vriende en verpligtinge het, sy die selfvertroue het om haar ma te vra om bietjie meer toegeefbaar te wees.

“Ek moet erken my ouers is 99% van die tyd reg oor mense en grense, en dit kweek vertroue by my.”

Ondersteuning is ’n groot dryfveer in haar opnames en geleenthede om ’n motiveringspreker te wees. Sy vind veral haar ouma, Trudie Steyn, ’n “bemoedigende rasieleier” met als wat sy aanpak.

“Elke oggend as ek opstaan, motiveer ek myself ook deur te dink: As ek net een tiener se lewe kan verander of nuut na ’n probleem kan laat kyk, was dit als die moeite werd.”

Sy is gaande daaroor om blomme aan ander as geskenke te gee en sê nie maklik nee om ’n stuk vanilla-koek met haar ma te deel nie.

Vorentoe beplan die ambisieuse Havenga om dalk ’n voedingskundige na skool te word.

“Soms wil ek egter ook sommer net soos elke ander tiener op die bed lê en lui wees, en dalk ook net dink waar en hoe kan ek onnutsig wees.”

Hildegard Havenga

Hildegard Havenga se tien wenke vir tieners met depressie

– Praat met iemand wat jy vertrou: Ek weet dis moeilik vir ons tieners om soms ons emosies uit te druk, maar om met iemand naby aan jou te praat, kan regtig help. Of dit nou ’n ouer, onderwyser of ’n goeie vriend is, hulle wil jou help en by jou wees.

– Skryf jou gevoelens neer: As dit te moeilik is om te praat, probeer skryf. Dit help om jou gedagtes en emosies te verwerk en kan ook dien as ’n manier om jou gevoelens beter te verstaan.

– Onthou, jy is nie alleen nie: Baie mense rondom jou ervaar ook soortgelyke gevoelens. Jy is nie alleen in hierdie stryd nie, en daar is altyd hulp beskikbaar.

– Vermy “selfmedikasie”: Dit lyk dalk soos ’n goeie idee om jou pyn te probeer verdoof met dinge soos alkohol of dwelms, maar dit vererger net die probleem en isoleer jou net nog meer.

– Sorg vir jou liggaam: Gesonde eetgewoontes, genoeg slaap en oefening kan jou regtig beter laat voel. Dis klein stappies wat ’n groot verskil in jou gemoed kan maak.

– Maak tyd vir dinge wat jy liefhet: Probeer om betrokke te bly by aktiwiteite wat jou vreugde gee. Al voel jy nie altyd lus nie, is dit belangrik om aan iets vas te hou wat vir jou betekenisvol is.

– Wees lief en geduldig met jouself: Jy is besig om groot dinge te verwerk, so wees geduldig met jouself. Niemand is perfek nie, en mens hoef nie altyd 100% perfek of in beheer te wees nie.

– Stel realistiese doelwitte: Fokus op klein, bereikbare doelwitte om jou dag vir dag te help beweeg. Dit kan so eenvoudig wees soos om op te staan en te stort, jou bed op te maak of om net bietjie buite te gaan stap.

– Moenie alles op sosiale media glo nie: Onthou dat mense net hul beste en mooiste oomblikke deel. Moenie jouself vergelyk met die “perfekte“ lewens wat jy op sosiale media sien nie – dis ver van die waarheid.

– Soek professionele hulp: Daar is geen skande daarin om met ’n berader of terapeut te praat nie. Hulle kan jou help om jou gevoelens beter te verstaan en saam met jou maniere kry om dinge beter te hanteer.

– Kyk na Hildegard Havenga se motiveringsvideo’s hier: https://www.facebook.com/hildegardhavenga/videos/414115778330128

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version