Student ontwerp LEGO weergawe van Voortrekkermonument

’n Student het besluit om een van Pretoria se mees ikoniese landmerke, die Voortrekkermonument, in boublokkies te omskep. Nou kort hy net 10 000 ondersteuners voordat dit op die winkelrakke sal kan verskyn.

Almal wat Pretoria binnery, kan ons ikoniese Voortrekkermonument (VTM) nie miskyk nie.

Danksy die kreatiwiteit van ’n Pretoria student gaan ons dalk binnekort die kans kry om ons eie weergawes van die monument tuis te kan bou – met LEGO-blokkies.

Cornel Meyer, ’n 24-jarige student aan Tshwane University of Technology TUT, en ’n self-erkende LEGO-fanatikus, het die idee gekry om die VTM te laat voortleef deur sy eie weergawe van die monument op die Lego-Idea webtuiste te ontwerp.

Cornel Meyer het ongeveer 30 ure ingesit om die ontwerp te voltooi.

Meyer is ’n megatroniese ingenieurswese-student en het in sy vrye tyd ’n replika met die boublokkies ontwerp – dit het hom 30 ure gevat om die projek te voltooi.

Lesers kan ’n volledige weergawe hiervan op ideas.lego.com bekyk én ook stem om dit dalk eersdaags op die rakke van speelgoedwinkels wêreldwyd te kan koop.

Meyer het aan Rekord vertel dat hy van kleins af ’n groot LEGO-liefhebber is en toe hy die idee kry om sy eie projek te ontwerp, het hy begin wonder wat ’n goeie ontwerp sou wees.

Die Voortrekkermonument wat vir elke Pretorianer ’n onmisbare deel van ons stad is, het in sy gedagtes vorm aangeneem. Hy het verduidelik dat hy ’n bekende landmerk wou gebruik en die VTM was ’n logiese keuse.

Die LEGO-model bevat ongeveer 3 450 blokkies met ’n basis van 512 mm x 512 mm en is 40 blokkies hoog (ongeveer 384 mm).

Die uitdaging om met die boublokkies te ontwerp het beteken dat hy tegnies by 3 000 blokkies moes bly, wat hom forseer het om blokkies te gebruik wat reeds bestaan maar nog nie in die regte kleur beskikbaar is nie.

Hy het die proses uiteengesit: “Ontwerp ’n idee, stuur dit in op die LEGO Idea webtuiste en wag vir goedkeuring. Sodra LEGO jou plan goedkeur, moet mens probeer om ondersteuning op die webtuiste te kry deur die publiek te kry om vir die ontwerp te stem.”

Meer as 50 mense het al gestem maar sy ontwerp moet binne die volgende 50 dae 100 ondersteuners werf.

“Sodra jy 100 ondersteuners het, kry jy nog 365 dae by om by 1 000 te kom. Daarna kry jy 182 dae om 5 000 te kry en daarna nog 182 om by 10 000 uit te kom,” verduidelik hy.

Wanneer die ontwerp 10 000 ondersteuners het, word dit deur sogenaamde “LEGO Experts” ondersoek om te bepaal of dit ’n stel kan word.

‘n Man met ‘n visie en ‘n plan: ‘n Lego-model van die Voortrekkermonument.

Meyer het aan Rekord vertel hy is opgewonde dat daar dalk eendag ’n LEGO-stel wat hy self ontwerp het op die winkelrakke regoor die wêreld beskikbaar kan wees.

Hy sal wel ’n kommissie verdien op verkope, maar beklemtoon dat dit nie die doel van sy deelname was nie en dat hy dit eers uitgevind het nádat hy die ontwerp ingedien het.

“Dis lekker om te dink dat kinders dalk my ontwerp sal kan bou.”

Alhoewel hy nog ’n student is werk hy al klaar aan nog projekte, maar wil nie aandui wat dit kan inhou nie. “Ek hou van die ‘element of surprise’.”

Wie weet? Dalk kan ons eie jongspan in die nabye toekoms ’n weergawe van die monument in hul eie huise bou!

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version