Veteraankarre en basaarkos by Florandia kerk se 50ste herdenking

'n Gemeente wat 50 jaar oud word vandeesmaand se leraar glo vernuwing kan sorg vir gemeentegroei.

“Ons gaan ’n basaar op steroids hê om die gemeente se 50ste verjaarsdagviering te herdenk.”

So sê dr. Johan Wildenboer, mede-leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Florandia in Pretoria Noord.

Die gemeente het 50 jaar gelede van die Pretoria-Noord gemeente afgestig toe die buurte in die noorde se aantal inwoners begin styg het.

Mede-leraar dr. Johan Wildenboer

“Destyds was daar nog talle hoewes in die area, maar so mettertyd het daar al hoe meer woonbuurte ontstaan,” verduidelik Wildenboer.

Die hoeksteen van die gemeente is 1976 voltooi en by die kerkgebou aangebring.

Ds. Piet de Vries het die eerste voltydse beroep as predikant ontvang en voor die eerste kerkgehoor van sowat 250 lidmate die preekstoel bestyg.

Soos die buurt uitgebrei het, het die gemeente aangepas en is daar mettertyd ook ’n volledige kerkkompleks rondom die kerkgebou gebou wat Sondagskool-klaskamers ingesluit het.

Net soos wat daar destyds uitdagings was om die nuwe gemeente te vestig, is daar vandag weer volgens Wildenboer nuwe paaie wat die gemeente moet stap.

Mede-leraar dr. Gerrie Strydom

“Ons uitdaging nou is om aan te pas by ’n veranderende omgewing en omstandighede. Ons gemeenskap se demografie het baie verander,” verduidelik Wildenboer.

Hy benadruk dat ’n nuwe bedieningsmodel gevind sal moet word om veral ook aan die ouerwordende gemeentelede se behoeftes te voldoen, maar ook om vir die jonger gemeentelede plek te maak en ’n geestelike tuiste te skep.

“Ons moet almal die kopskuif maak dat die verlede verby is. Ons kan niks meer wen om daarby vas te haak nie. As kleiner gemeentes kan ons nie meer die kennis van die verlede toepas nie. Om te oorleef, moet ons nou wyer dink,” glo Wildenboer.

Hy verduidelik hierdie nuwe aanslag het “goeie en helder denke nodig”.

“Ons het ’n familiegevoel in ons kerk en dit is wat ons wil behou.”

Hy is trots op die talle maniere wat die gemeente uitreik om in die buurte daarrondom uit te reik met ’n kosbediening sowel as om geldelik steun te gee aan ’n kleuterskool vir die indiensneming van ’n administratiewe werknemer.

Maar vir eers is dit die gemeentebraai en feesnaweek van 23 tot 25 Augustus waarna hy uitsien.

Saterdag is dit basaartyd.

‘n Kerkkompleks is in 1979 deur die gemeente in diens geneem.

“Op Vrydag, 23 Augustus gaan ons gemeente heerlik saambraai so vanaf skemertyd. Op Saterdag, met die basaar gaan daar musiek wees, ou karre, uitstallers, heerlike eetgoed en iets om die kinders besig te hou. Ons het ook aandenkingsgeskenke te koop. Sondag is daar ’n feesdiens waartydens ons muurbehangsel gaan onthul word vir 50 genadejare van dankbaarheid, en ’n feesblaadjie sal uitgedeel word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version