Metro sit bal aan die rol vir eenheid om gekaapte geboue te beveilig

Die gevestigde metro-taakspan se operasionele werking vorentoe word tans gefinaliseer met die oog daarop op om onwettig-besette geboue in die middestad binnekort te takel.

Die metro se reeds gevestigde spesiale taakspan wat aangestel is om gekaapte en vervalle geboue in veral die middestad te identifiseer en by wyse van wetstoepassing weer veilig en toeganklik te maak, sal eersdaags nog meer momentum kry.

Die multidepartementele span sluit die departmente van gesondheid, stadsbeplanning, omgewing sowel as die metro se regslui in. Amptenare is reeds na die nuwe eenheid gesekondeer.

Daar sal ook nou skakeling wees met die nuut ingestelde geïntegreerde bywette-toepassingsentrum.

So sê Grandi Theunissen, die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit.

’n Voorstel vir die toekomstige operasionele werking van die eenheid word tans aan die stadsbestuur voorgelê waarna dit deur die burgemeester afgeteken moet word.

“Dan kan ons die bal aan die rol kry, verkieslik nog vandeesmaand,” meen Theunissen.

Hy het in ’n onderhoud met Rekord sy skok uitgespreek oor die toestand van sekere geboue in die middestad.

“Dit is onaanvaarbaar en dra by tot misdaad. Verder is dit ook onveilig. Ons wil nie ’n tweede Marshalltown in Tshwane hê waar inwoners in onveilige geboue verbrand nie,” verduidelik Theunissen.

“Ons kan ook nie toelaat dat die middestad verder in wetteloosheid verval nie. Ander woonbuurte waar geboue en terreine ook gesondheidsrisiko’s vir bure en inwoners inhou, is ook op ons lys maar die middestad en onmiddellike omgewing sal prioritiseer word,” sê hy.

Op die prioriteitslys is die metro se eie besette en vervalle geboue sowel as die berugte Melgisedek-gebou wat inwoners van die omliggende Riviera-buurt al jare as ’n misdaadnes beskou.

Hy benadruk dat metropolisielede vorentoe opgelei sal word om ook doeltreffende polisiëring te doen in terme van munisipale verordenings sowel as nasionale regulasies soos die Drankwet en nasionale bouregulasies.

“Metropolisielede wat hierdie mandaat sekondêr sal moet uitvoer, kan nie net met standaardopleiding hul gespesialiseerde taak uitvoer nie en sal gevorderde opleiding kry waarby wetstoepassing van bywette ingesluit sal wees,” benadruk Theunissen.

Theunissen is veral ernstig om ’n einde te maak aan huurbaronne oftewel “slumlords” wat radelose besetters in die middestad manipuleer en uitbuit.

Die vandalisme wat hoogty vier in die middestad by geboue, is ook ’n saak wat voorkeur sal geniet.

Die taakspan se werksaamhede sal vanuit die kantore van die metropolisie bedryf word.

“Die metropolisie het ’n kritiese rol om te speel om die mandaat uit te voer om vervalle en besette geboue weer veilig en toeganklik te maak. Die werkswyse sal wees om byvoorbeeld ’n gebou as onbewoonbaar te verklaar volgens gesondheidsregulasies en daarna sal daar met die regsdepartement geskakel word oor hoe daar verder te werk gegaan moet word,” verduidelik hy.

Volgens Theunissen sal die metropolisie verantwoordelik wees vir die uitvoering van enige beslagbevel of inhegnisneming sowel as die beskerming van amptenare tydens die uitvoering van hul mandaat om die onwettige besetting van geboue te bekamp.

Hy beklemtoon ook dat die taakspan reeds ’n oefenlopie gehad het toe ’n eiendom in Waterkloof Ridge ontset is van besetters wat verskeie munisipale verordenings oortree het.

Theunissen waarsku dat moontlike korrupsie rondom die besetting van geboue ondersoek sal word en of die huurbaronne nie metro-amptenare omkoop om byvoorbeeld na die aankoop van geboue, uitklaringsertifikate by die metro te kry om aktes te registreer nie.

“Ons is ook hard besig om met die aktekantoor oor gekaapte eiendomme samesprekings te hou,” vertel hy.

Hy verwys na onlangse samesprekings van die burgemeester Cilliers Brink en die nuwe Minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, oor die toestand van geboue in staatsbesit in die middestad soos die berugte Telkom-torings.

Macpherson het beveel dat ondersoek na gekaapte geboue in staatsbesit in die middestad van Tshwane so gou as moontlik gedoen moet word.

“Dieselfde geld vir provinsiale geboue. Ons wil met die vlakke van regering saamwerk om die stad veiliger te kry,” verduidelik Theunissen.

Hy glo om die gevestigde taakspan ’n operasionele mandaat te gee, stroomlyn met die groter strategie van die metro om met nuwe strukture ou probleme aan te spreek en op te los.

“Die nuwe oorhoofse makrostruktuur van die metro se amptenary en hul voorgestelde werkswyse, is verlede maand deur die stadsraad goedgekeur en die mikrostruktuur sal eersdaags voorgelê word.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version