Kleinfontein-twis kring uit na Tshwane-stadsraad

Konflik tussen twee groepe inwoners van 'n nedersetting tussen Pretoria en Bronkhorstspruit wat sedert 2010 gestry word, het nou in die Gautengse Hooggeregshof 'n draai gemaak en uitspraak is gegee, maar dis lank nog nie die einde van die Kleinfontein-twis nie.

Die twis oor die Pretoria-oos Kleinfontein-nedersetting, wat as onwettig deur die Gautengse Hooggeregshof aan die begin van Augustus verklaar is, het nou ook na die Tshwane-stadsraad uitgekring.

’n Raadslid wat voorsitter is van die Finansiële Oorsigkomitee en lid van die Vryheidsfront Plus, Awie Erasmus, woon in Kleinfontein.

Die nedersetting is die tuiste vir sowat 650 huishoudings en 1 400 inwoners en selfversorgend ten opsigte van water en elektrisiteit sowel as vullisverwyderingsdienste.

’n Spesiale vergadering van die Oorsigkomitee is op 15 Augustus belê om Erasmus se betrokkenheid by die nedersetting sowel as sy raadspligte te bespreek aangesien dit as ’n botsing van belange beskou word.

Erasmus het glo om gesondheidsredes nie die vergadering bygewoon nie. In die voorsitterstoel was die voorsitter van voorsitters, Sakkie du Plooy.

Rekord het verneem daar is op Erasmus se bedanking aangedring deur van die komiteelede. ’n Versoek is aan Du Plooy gerig om die aangeleentheid met Erasmus te bespreek.

Dannie de Beer van die Kleinfontein Aandeleblokskema voor die Kleinfontein-museum.

Die Gautengse Hooggeregshof het Tshwane beveel om onmiddellik toepaslike stappe te doen om alle relevante wette met betrekking tot beplanning en bouregulasies af te dwing sover dit betrekking het op die plase waaruit die Kleinfontein-nedersetting bestaan.

Waarnemende regter Adrian Vorster het bevind dat die direkteure van Kleinfontein Aandeleblok (Edms) Bpk verder onwettig opgetree het deur die gebruik van die grond toe te laat sonder om te voldoen aan die vereistes soos in die wet uiteengesit.

Metrowoordvoerder Selby Bokaba sê die metro neem kennis van die hooggeregshof-uitspraak.

“Ons bestudeer dit saam met ons regspan met die oog op die bepaling van die pad vorentoe,” bevestig Bokaba.

’n Hof-aansoek is deur vier ontevrede aandeelhouers in die Aandeleblokskema gebring.

Hulle wil beter munisipale dienste en meer finansiële sekuriteit hê asook ’n verbod op verdere ontwikkeling van nuwe geboue.

Die vier – Paul McMenamin, Sakkie Booysen, Henk Celliers en Johan Venter – behoort aan die Kleinfontein Inwonersvereniging.

Die aandeleblokmaatskappy het op sy beurt ook ’n saak teen die Inwonersvereniging gemaak om lede te verhoed om ander aan te moedig om heffings te weerhou.

Die hof het die aansoeke gesamentelik hanteer.

Die hofuitspraak het die vereniging verbied om ander eienaars aan te moedig om hul heffings te weerhou wat betaalbaar aan die maatskappy is.

Die meer as 650 woonhuise in die nedersetting se eienaars besit nie ’n titelakte soos ’n gewone huiseienaar nie.

Die groep van vier maak voorspraak namens die Inwonersvereniging vir sulke besitreg en dat die nedersetting na ’n erkende grondontwikkelingsgebied omgeskakel word.

Booysen, ’n lid van die vereniging, het aan Rekord gesê alvorens die hofsaak, het hulle ook vir hulp aangeklop by gesagsorgane soos die Department van Handel en Nywerheid wat oorsig oor sulke skemas het.

“Ons is nie teen Kleinfontein nie. Dis ’n goeie idee, maar is sleg uitgevoer. Al wat ons sê is stop nou eers hier en maak reg wat verkeerd is. En dit is tyd dat ons die olifant in die vertrek moet aanspreek en sy naam is maar altyd geld. Kleinfontein moet ’n eie rioolwerke en waterverbinding van Rand Water kry,” verduidelik Booysen.

Vir hom lyk die pad vorentoe vir Kleinfontein egter duister.

“Die dilemma is as jy die dorp wil red, praat jy van groot geld soos in die lyn van R60-miljoen. Die gemiddelde ouderdom van die inwoners hier is 62 jaar. Selfs met oorbruggingsfinansiering, gaan jy nie kan regkom nie. In werklikheid moes daar al halt geroep gewees het op 350 huise,” sê Booysen.

Hy plaas die blaam op bemarkers en ontwikkelaars wat “soos volstruise met hul kop in die sand gestaan het”.

Die direksie van die aandeleblokmaatskappy sal op 22 Augustus met burgemeester Cilliers Brink vergader.

Dannie de Beer, woordvoerder van die Kleinfontein Aandeleblokskema (Edms) Bpk, sê Kleinfontein het ’n politieke speelbal tussen raadslede van Tshwane geword.

Raadslid Awie Erasmus Foto: Facebook

Volgens hom het hierdie politici “byltjies met mekaar te kap”.

Hy lê klem daarop dat burokratiese rompslomp verantwoordelik is vir die feit dat die aandeleblokskema se aansoek vir dorpstigting nog nie deurgevoer is nie.

“Ons het die burgemeester verlede jaar op 9 Mei met die aansoek en ’n versoek om uitklaring van struikelblokke gespreek. Ons het opdrag by hom ontvang om terug te kom met ’n meer omvattende voorlegging van hoe ons vorentoe kan gaan.

“Die afspraak van die 22 Augustus is lank voor die hofsaak al bevestig en is nie die gevolg van die hofsaak nie,” bevestig De Beer.

“Ons het al die afgelope tien jaar met vier Tshwane-burgemeesters oor Kleinfontein samesprekings gevoer, maar uitsluitsel oor hoe om vorentoe te gaan, kon nog nooit bereik word nie.”

Hy wys uit dat verskeie struikelblokke sedert ’n aansoek vir dorpstigting in 1998 by die destydse Eastern Gauteng Services Council ingedien is, verhoed het dat Kleinfontein wettig geregistreer kon word as ’n ontwikkeling.

Hierdie hindernisse sluit in die oorname van munisipaliteite soos Kungwini en die totstandkoming van die metro sowel as ’n voortgesette twis tussen direkteure.

“Tshwane is nie onskuldig in hierdie saak nie. Menige beloftes is deur die jare gemaak soos dat ons aansoek in ’n vinnige baan geplaas sou word, maar dit was als valse beloftes,” wys De Beer uit.

Vir De Beer is die heffingverhogings om Kleinfontein finansieel sterk genoeg te maak vir die eise rondom die uitvoering van die bevel deur Tshwane nie haalbaar nie. Meeste van die inwoners moet op ’n Sassa-toelaag van R1 800 per maand uitkom.

Die Aandeleblokmaatskappy se inkomste is volgens hom ongeveer R13-miljoen per jaar.

“Dit sal die dorp in ’n humanitêre krisis dompel,” glo De Beer. “Van hierdie inwoners het hier aangekom met Checkers-sakkies en in karavane.”

Hy bevestig dat die voorstelle vir die burgemeestersvergadering tans voorberei word en dat daar op die unieke aard van Kleinfontein sowel as die geskiedkundige verloop van die totstandkoming, klem gelê sal word.

“Een van die groot probleme is dat ons aansoek nie in ’n kategorie val wat die burokrate verstaan nie. Wat wel waar is, is dat ons ’n eie argief van bouplanne het sowel as ’n bou-inspekteur wat sulke planne afgeteken het en wel hiermee vorentoe kan gaan met enige verdere aansoek,” verduidelik hy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version