Motiveringspreker vuur en vlam om ander te motiveer

'n Motiveringspreker se outobiografie vertel van hoe hy sy daaglikse gesondheidstryd aanpak en sy beperkinge oorkom.

Dis nie by elke boekbekendstelling waar lesers die geleentheid kry om ’n vuurloop te doen nie.

Suid-Afrika se bekendste vuurloper, Cobus Visser van Centurion het onlangs sy outobiografie bekend gestel.

Visser is bekend daarvoor om as spreker en afrigter sy eie lewenservaring te gebruik om ander te motiveer en te inspireer.

Hy vertel graag oor die oomblik hoe sy lewe verander het toe ’n vriend hom tydens ’n moeilike tyd in sy lewe vir ’n wegbreeknaweek na Naboomspruit geneem het en hom uitgedaag het om oor brandende kole te loop om sy vrese vir die toekoms te oorwin.

Die boek, getiteld Loop deur vuur (ook in Engels beskikbaar) is ’n vertelling van hoe sy gesondheidstryd met hemofilie elke dag sy lewe beïnvloed en hoe hy hierdie stryd aanpak.

Visser is ’n gesertifiseerde meester-vuurloop-instrukteur en ’n gesertifiseerde lewens- en besigheidsafrigter.

Daarbenewens het hy onder andere kursusse in toegepaste sportsielkunde soos Train the Trainer voltooi.

Cobus Visser se boek, ’n meesleurende outobiografie, begin met sy kleintyd en kyk veral na sy gesondheidstryd en hoe hy dit met die waardes en ingesteldheid van die Vikings en vuurloop aanpak.

Hy het die verloop van sy lewe gedurende die boekbespreking geskets.

Visser moes ’n keuse maak tussen om met die familie se meubelonderneming in Limpopo voort te gaan of om ’n toekoms as ’n motiveringspreker aan te pak.

Hy het sy ouers, Ansie en Theunis Visser, wat die bekendstelling bygewoon het, bedank vir die geleentheid om sy eie pad te kan volg.

“Dit was ’n beslissende oomblik in my lewe om oor vuur te loop die eerste keer en het als vir my verander: My lewensingesteldheid en my lewenskoers. Indien jy dit kan doen, kan jy enigiets doen,” glo hy.

Hy is reeds twee keer met die Men of Valour-toekenning vereer.

’n Groep bergklimmers wat Kilimanjaro saam met Visser uitgeklim het, was ook by die boekbekendstelling.

Diaan Daniels en Hanco Jansen van Vuuren Foto: Elize Parker

Hy het hulle bedank dat hulle hom tydens die bestyging van die berg herinner het hoekom hy die tog aangepak het.

“Om ’n oorwinning oor myself te behaal. Sonder julle sou ek nie bo uitgekom het nie. Julle het my lewe gered,” het hy aan die lede van die ekspedisie gesê.

Van die lede het hom na die bereiking van die bergspits terug kamp toe gedra, omdat Visser ernstige asemnood ervaar het.

Sy gesondheidstryd as bloeier maak dit soms vir hom onmoontlik om ’n dag aan te pak en hy het dikwels bedrus nodig.

Hierdie stryd stuit hom nie om wêreldwyd sy boodskap te deel van hoé om verby jou beperkinge te kom nie.

Hy het al meer as 12 000 vuurlopers in 26 verskillende lande aangemoedig om die pad van 2m oor warm kole te stap.

Cuan Harmse Foto: Elize Parker

Die onlangse opneem van twee episodes van Stralend, die nuwe TV-realiteitsprogram, het hom besiel.

“Dit was ’n besondere ervaring waartydens die aspekte van skoonheid en selfbeeld dieper aangespreek is. Dit was ’n herinnering dat elkeen van ons ’n unieke skoonheid het wat van binne begin, iets wat nie deur uiterlike omstandighede bepaal word nie, maar deur ons eie selfaanvaarding en die liefde wat ons vir onsself en vir ander het.”

Hy het ’n jaar gelede die skryf van die boek aangepak om sy vrede en vervulling in die lewe te deel met ander.

“By wyse van die skryfproses kon ek my eie ervarings verwerk, my eie groei erken.”

Hy is reeds besig met die beplanning vir sy volgende boek wat spesifiek op besighede gemik sal wees.

Meer as 20 lede van die gehoor het sy uitnodiging aanvaar om na die bekendstelling op die parkeerterrein van die Centurion-golfklub die vuurloop te doen.

Toe hulle daar aankom was die vuurlooppad reeds voorberei op ’n stuk kunsgras waarop kole vanuit ’n kruiwa gepak en gereeld aangevul is.

Deftige hoëhakskoene is vir eers eenkant toe geskuif en ontwerpersdrafskoene is netjies aangegee vir lewensmaats wat eenkant gestaan het.

Cuan Harmse het met ’n glimlag die vuurloop voltooi en was opgewonde dat hy dit kon regkry.

“Dit was nou besonders,” sê Harmse. “Iets om te onthou.”

Visser het die vuurlopers een vir een op hul weg gehelp met sy voortdurende aanmoedigings dat jou vrese oorkom kan word indien jy in jou eie vermoëns kan glo en jou potensiaal erken om iets groters as die alledaagse aan te durf.

“Deur ons eie lewensvure te stap, kan ons saam ’n helderder, meer liefdevolle toekoms skep,” moedig hy aan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version