Gebou-aktiviste woedend dat ou TPA-gebou rot en kaal besteel word

Terwyl aktiviste die inspeksie deur die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur en die burgemeester aan die vervalle en gekaapte polisiegebou in Pretoria se middestad as prysenswaardig beskou, waarsku hulle dat daar veel meer werk is as hierdie een gebou.

Solidariteit verwelkom die voorneme van die nuwe Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, om agter die kap van die byl te kom van die verlate hoofkantoorgebou van die SAPD in Telkom-towers, Pretoria.

Die minister het ’n inspeksie gedoen by wat beskryf is as een van die departement se problematiese fasiliteite.

Hy en die burgemeester van Pretoria, Cilliers Brink, het saam die Telkom Towers-gebou op 1 Augustus besoek.

Macpherson het die taak om toesig te hou oor die bestuur van die regering se 880 000 geboue.

Van die geriewe is in ’n slegte toestand, terwyl ander deur misdadigers gekaap is.

Een van die gekaapte geboue, is die gewese TPA-gebou en nou Openbare Werke-huis.

’n Groep aktiviste wat hul beywer vir die behoud van ikoniese ou Pretoria-geboue, het die ou TPA-gebou uitgewys as een wat die minister “gerus ook kan besoek as hy nou sy departement se vervalle en gekaapte geboue in Pretoria se middestad wil red”.

Die gebou is by wyse van ’n ruilooreenkoms van die provinsiale regering na die staat oorgedra.

Die groep, wat uit vrees vir viktimisasie anoniem wil bly, meen dat die minister in die kelder sy inspeksie moet begin.

Die bewering is dat die krag na die gebou op ’n sentrale punt afgesit is. As gevolg hiervan werk die pompe in die kelder nie meer nie en is dit onder water.

Verdere bewerings is dat indringers en dwelmgebruikers in die gebou ingetrek het en dit stuk vir stuk wegdra.

“Daar is ongewapende wagte in die gebou wat nie in die donker kan patrolleer nie. Die informele inwoners is gewapen (al is dit met messe) en die sekuriteit kyk hoe hulle die stukke wegdra. Die sekuriteit bel die polisie, maar al is die Sentrale polisiestasie letterlik op die ander hoek van die straat, reageer hulle nie,” vertel een van die gebou-aktiviste.

“Al die vensters is gebreek en al die hortjies onder die vensters is gesteel. Die koperplate in Pretoriusstraat is gesteel en die plakkers dra die palissade stuk-stuk weg.”

Sover as wat daar vasgestel kon word was daar tot onlangs nog kunswerke in die gebou. ’n Alexis Preller-skildery kon glo gered word en is na die Universiteit van Pretoria geneem. ’n Waardevolle Walter Batiss-werk is glo steeds daar. Daar is ook kosbare mosaïek- en houtwerke in die verwaarloosde gebou.

“Hoe die standbeelde nog daar staan, is ’n wonderwerk,” meen ’n gebou-aktivis.

Die gebou was onlangs in die nuus toe lyke deur mediese en brandweerpersoneel in hyserskagte gevind is nadat hulle vir ’n brand uitgeroep is.

“Die polisie doen niks nie. Nie eers lyke wat ronddryf motiveer hulle nie,” benadruk ’n gebou-aktivis.

Lennox Mabaso, woordvoerder van die departement van Publieke Werke en Infrastruktuur, het bevestig dat reëlings rondom die registrasie van die eiendom in die staat se naam tans getref word en die gebou is onder hulle voogdyskap.

Hy het bevestig die gebou is een van die probleemgeboue waarmee die departement te doen het.

“Daar kan geen twyfel wees dat die kriminele netwerk voordeel getrek het uit die gebou wat onbewoon is nie,” sê Mabaso.

“Soos die minister gesê het, is daar ’n behoefte om hierdie geboue – wat uiteindelik deur misdadigers gekaap word en bydra tot die hoë misdaadsyfer in middestede – om te draai. Die departement het ’n strategie om die benutting van bates vir openbare belang te optimaliseer. Dit sluit in om te verseker dat openbare bates meer aangewend word as om by die private sektor te huur. Staatsbates sal vir middestadsverjonging aangewend word,” sê Mabaso.

“Ons kan bevestig dat daar geen permanente onwettige bewoners in die gebou is nie. Misdadigers betree egter die gebou en verniel soos hulle daardeur beweeg. Sekuriteitsbeamptes patrolleer en monitor die gebou deur die dag en nag, maar ná die elektrisiteitsonderbreking in die gebou, ondervind die sekuriteitsbeamptes uitdagings wanneer hulle roetine-patrollies snags binne die gebou doen,” benadruk hy.

Hy bevestig dat in sommige gevalle kom indringers met gevaarlike wapens die gebou binne en oorval sekuriteitsbeamptes op die terrein om te steel en met waardevolle goedere te ontsnap.

“Ons huidige interne departementele sekuriteitsbeleid ontmoedig die gebruik van vuurwapens in alle openbare werke-geboue. Ons persele is tot geweervrysones verklaar. Die beleid word tans hersien om die gebruik van vuurwapens te wysig weens die uitdagings wat ons tans in die gesig staar,” sê Mabaso.

Hy wys daarop dat die departement onlangs ’n privaat sekuriteitspesialisdiensverskaffer opdrag gegee het om omvattende sekuriteitsrisiko-assessering uit te voer vir alle geboue van die departement wat leeg staan in die middestad van Pretoria. Die verslag is ontvang en die departement werk tans aan die implementering van die aanbevelings van die verslag.

– Kliek hier om ’n video oor Brink en Macpherson se besoek te sien: https://x.com/i/status/1818984855952052570

– Lees meer oor die TPA-gebou in sy glorie-dae: https://visi.co.za/building-an-icon-transvaal-provincial-administration-building/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version