Besoekers stroom na kragekspo

Die Kragdag Ekspo wat jaarliks aangebied word, het meer as 32 000 besoekers vanjaar getrek wat belang stel om hul huishoudings meer selfstandig te bedryf.

’n Jaarlikse ekspo wat vanjaar vir die 15de keer in Pretoria-oos aangebied is, het oor die langnaweek (8 tot 10 Augustus) meer as 32 000 besoekers gehad.

Die Sakeliga Kragdag Sentraal 2024 het op die Diamantvallei Landgoed, 20km oos van Pretoria, plaasgevind.

Vanjaar se uitstalruimte was 11 hektaar groot en het ook ’n nuwe area afgestaan aan ’n vervoer-afdeling.

By hierdie afdeling is besoekers in staat gestel om die nuutste tegnologie in padvragvervoer te verken.

Vanjaar se tema het soos in die verlede gedraai rondom hoe huishoudings en gemeenskappe selfversorgend kan word.

Die honde-demonstrasie was ‘n gewilde item by Kragdag.

Meer as ’n 100 uitstallers het deelgeneem aan die ekspo wat in samewerking met die Transvaalse Landbou-unie aangepak is.

Uitstallers het praktiese hulpmiddels soos opsies vir alternatiewe kragvoorsiening, watervoorsiening en gemeenskapsveiligheid ingesluit.

Woordvoerder Sonè Saunders sê tuinbou-uitstallers is ook vanjaar saamgevoeg in ’n nuwe afdeling, waar vertikale plantpotte, akwaponika-toerusting, kompos en saailinge gekoop kon word.

“Die ekspo het weereens besoekers van heinde en verre gelok wat wou weet hoe hulle hul huishoudings meer selfstandig kan kry,” sê Saunders.

Besoekers het die geleentheid gehad om ses verskillende programme te besigtig, onder meer in die Skouring waar 48 alle-rasperde in talle klasse kon deelneem.

Lutri Serfontein op Amiratus Orion, een van die ruiters wat die koppe laat draai het tydens Kragdag se program vir ruiters en perde. Sy het weggestap met ‘n medalje as wenner van die o.15-ryperdklas.
Knortjorresies het menige spanne stof in mekaar se oë laat opskop.

Die SA Boerperde was goed verteenwoordig en het 62% van die klasse gewen.

Die Entrepreneuria Junior Entrepreneurskompetisie was vir talle besoekers ’n hoogtepunt van die ekspo.

Jong entrepreneurs het hul vaardighede ten toon gestel. Die wenner vir die Doelgerig-afdeling was 19-jarige Michelle van der Vyver met haar verbeeldingryke modulêre hoenderhokke.

Die “Voete Natmaak”-afdeling het jonger deelnemers aangespoor om hul eerste treë in die wêreld van entrepreneurskap te gee. Die wenners was Johanko en Tanika Fourie met hul tuisgemaakte lemonade-stroop.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version