Inwoner veg om besoedeling-kopseer op te los

Die geveg om 'n besoedelde stroom wat deur drie wyke vol riool na 'n visvangdam en voëlskuiling lei, skoon te kry het 'n bekommerde inwoner meer as 'n jaar geneem.

’n Inwoner van Waterkloof-Glen se voortgesette en vasberade jaarlange stryd om omgewingbesoedeling te bestry, het uiteindelik vrugte afgewerp.

’n Winkelsentrum het tot sy en ander inwoners se redding gekom nadat die metro verantwoordelikheid vir die oorsprong van die besoedeling ontken het.

Leon Trollip het die besoedeling van die stroom wat vanaf Waterkloof Glen deur die Jimmy Aves-park, Garsfontein en Menlyn Maine loop, meer as ’n jaar gelede aan die metro rapporteer.

Dié besoedelde stroom eindig in die Strubensdam en voëlskuiling in Lynnwood Glen. Dit vloei ook deur die Serene Park-aftreesentrum.

In daardie stadium kon hy nie die bron van die rioolstorting opspoor nie.

Toe hy teen einde Julie vanjaar deur die Jimmy Aves-park in Garsfontein stap, was die reuk erger as ooit tevore.

“Om nie van die besoedeling van die stroom eers te praat nie. Die water is deur die storting van riool in die Waterkloof Glen Park se stroom besoedel en die stank was veral ondraaglik,” wys Trollip uit.

Hy het besluit om die water stroomop te volg om die bron van die besoedeling op te spoor.

Die storting se bron, ’n geblokte drein, is in die Waterkloof Glen-park gevind.

Hierdie park, wat aan die metro behoort, is langs die Waterglen-winkelsentrum, tussen Garsfonteinweg en Mendelssohnstraat in Waterkloof Glen, geleë.

Hy het besluit om weer eens ’n poging aan te wend om die besoedeling aan te spreek.

Trollip het met die aanvang van sy stryd ’n jaar gelede die besonderhede aan die wyksraadslede van die drie wyke waardeur die stroom kronkel, die DA se kiesafdelingshoof, asook die burgemeester, die stadsbestuurder en die Groen Skerpioene gerapporteer – sonder enige sukses.

Hy het moed geskep met die opsporing van die bron en die besoedeling weer op 29 Julie by die metro aangemeld.

Die metro se span het kort daarna by sy huis aangekom. Hy het aan die spanleier verduidelik dat die probleem nie by sy huis is nie. Hy het ook uitgewys hy het die rioolstorting met aanwysings, asook ’n pen-liggingskakel na die area, aangemeld.

Die Waterglen-winkelsentrum het toegesien dat die bron van besoedeling van ‘n stroom wat deur verskeie wyke kronkel aangespreek word.

Die metro se spanbestuurder het aan hom gesê hy weet nie hoekom hy gestuur is nie en dat hy nie die drein gaan oopmaak en ontblok nie.

Trollip sê die metro het aangedui die oplossing van die probleem is die verantwoordelikheid van die Waterglen-winkelsentrum se bestuur.

Volgens Trollip het die span ook erken dat hulle elke dag verby die storting ry en bewus is daarvan.

In die stadium het dit vir hom geblyk asof die metro nie verantwoordelikheid wil aanvaar om die riool se lek op te spoor of die besoedeling van die water stroomaf van die Waterkloof Glen-park te verhoed nie.

“Ek het gevoel iemand moet hiervoor verantwoordelik wees, maar met geen reaksie nie, is dit onmoontlik om die verantwoordelike party op te spoor,” sê Trollip.

Hy het hom vroeg vandeesmaand, nadat hy die besoedelingsbron gevind het, op die Waterglen-winkelsentrum se bestuur beroep.

Marie Venter, winkelsentrumbestuurder by Centro Property Solutions, sê alhoewel die stroom buite die perseel van die sentrum en binne die metro se park daarlangs vloei, het hulle besluit om die gemeenskap te help.

Die eiendomsmaatskappy bestuur die Waterglen-winkelsentrum wat teen aan die park grens.

Sy het aan Trollip bevestig die sentrum se kontrakteur gaan weekliks al die dreine by die sentrum na en alle blokkasies word sonder versuim aangespreek.

“Ons het geen inligting oor hoe die metro tot hul gevolgtrekking gekom het dat Waterglen-sentrum die oorsaak van die rioolstorting in die rivier is nie, aangesien daar verskeie raadsriole in die stroom ingaan,” sê Venter.

Sy benadruk die sentrum se kontrakteur het bevestig dat die metro se drein geblokkeer is.

“Dis nie ons verantwoordelikheid nie en nie een van die sentrum se lyne is verantwoordelik vir hierdie verstopping nie. Ons kontrakteur het egter die raad se blokkasie oopgemaak en ’n bierbottel en ander rommel gevind wat hulle verwyder het en die water vloei nou,” bevestig Venter.

Sy het ook bevestig dat die sentrum se kontrakteur die stroom weekliks van rommel skoonmaak.

“Dit word al vir baie jare gedoen word en op die koste van Waterglen-sentrum sonder vergoeding van die metro of die gemeenskap,” verduidelik Venter.

Vir Trollip en ander inwoners is dit ’n groot verligting, maar die vraag bly in sy gemoed oor wie gaan nou verantwoordelikheid neem om die stroom te rehabiliteer.

“In sulke gevalle bly die vraag wie is verantwoordelik om hierdie soort ingrypende besoedeling met die korrekte owerhede op te volg, en wie sal nou verantwoordelik wees vir die rehabilitasie van die besoedelde waterstroom?” sê Trollip.

Navrae oor die storting van riool is aan die metro gerig maar geen antwoorde is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version