Local newsNews

Konsert vir danslegende ‘n ware extravaganza

Huldeblyke tydens 'n gedenkkonsert vir geliefde danslegende André van der Nest van Pretoria-Noord het wyd en syd ingestroom.

’n Huldigingskonsert vir Pretoria se danslegende, André van der Nest, wat op 11 Augustus gehou is deur van sy voormalige studente sowel as diegene wat ’n pad saam met hom gestap het, was ’n reusesukses.

Dit was ook ’n gepaste wyse om die vriendelike en bedagsame oud-dansonderwyser en sy rol op die gebied van veral jazzdans in Suid-Afrika te vereer.

Dansers van ’n verskeidenheid dansskole wat deur Van der Nest se oud-studente gestig is, soos Tanya Fourie en Isabel Stapelberg, het ook die groot gehoor in die Heartfelt Arena beïndruk met hul begaafdheid as jong dansers.

Hulle het gewys waarop veral ook jazzdans in Suid-Afrika deur die jare gegroei het.

Fourie van die dansskool Leap for Joy Dance Studios sê die danslegende is verantwoordelik vir talle van die land se huidige nuwe sterre by wyse van sy bydrae aan haar eie en andere van haar dansgenerasie se loopbane.

Van der Nest was sedert die sewentigerjare intens betrokke by die ontwikkeling van moderne jazzdans, eers as ’n professionele danser en choreograaf en daarna as onderwyser en dosent.

Van die dansers wat eer aan hom gebring het, het uitgelig dat ook sy onskatbare blootstelling aan internasionale meesters en ander platforms, hul loopbane momentum gegee het.

Danser Natalie Tocknell het uit Los Angeles ’n videoboodskap gestuur wat tydens die vertoning gewys is, waar sy staaltjies vertel het uit haar dae as danser onder Van der Nest se leiding in veral die laat sewentigs en tydens die Sun City-dae.

“Hy het altyd mens gebly vir ons almal, maar het ’n strenge dissipline by ons almal as deel van ons loopbaan ingebou,” vertel Tocknell.

Organiseerder van die dans-extravaganza, Pinto Ferreira, het aan Van der Nest hulde gebring as “’n kunstenaar in elke aspek en vesel van sy wese”.

Hy het klem geplaas op hoe Van der Nest veral standaarde verskuif het en by uitnemendheid homself eenkant toe sou skuif om ander dansers te ontwikkel.

“Hierdie man is my held. Ek het my dansloopbaan aan hom te danke. Hy het my daarvoor op elke vlak opgelei en voorberei,” sê Ferreira.

Thodi Tefo, Siyabonga Makua, Lungisani Mtshali, Seth Squires and Percy Moeketsi

Ferreira vertel hoe hy nog wou dans voordat hy skool begin het. Hy het egter in ’n konserwatiewe boeregemeenskap gewoon, en dans was nie ’n ding wat seuns gedoen het nie.

“Dit was ernstig afgekeur! So, in die voetspore van my pa, het ek medies gaan studeer. Dit was nog in my eerste jaar toe dit my soos ’n bom getref het … Ek gaan nooit gelukkig wees nie. Al wat ek ooit, ooit wou doen, was dans.

“Nadat ek die mediese skool verlaat het om ’n danser te word, was ek redelik op my eie. My passie en ek. André het my onder sy vlerk geneem en my pro bono opgelei. Hy het my selfs laataand na klasse huis toe geneem, aangesien ek geen vervoer gehad het nie,” vertel Ferreira.

Talle soortgelyke stories is deur ander dansers vertel wat saam met André geoefen het. Soos die groep The Has Beens bestaande uit Bertus Dreyer, Annemarie Roodbol en Dina de Vine wat self nog opgetof het en die jong dansers regop laat sit het met hul energieke vertoning.

Danslegende André van der Nest.
Dansers van die Gauteng Dance Studio van Isabella Stapelberg

Ook aan die aërobiese danskultuur het Van der Nest met sy leiding gesorg dat lede van die span Protea-kleure verwerf en Suid-Afrika internasionaal verteenwoordig het.

Van hierdie aërobiese dansers het eer betoon oor hoe hy onbaatsugtig soveel van sy dansers gehelp het om hul drome na te streef.

Walter Frylinck sê: “Niemand kon aërobiese oefeninge gee soos André nie.”

Van der Nest, deesdae woonagtig in Pretoria-Noord, het heel aangedaan teen die einde van die program self die verhoog bestyg en in ’n grande finale ’n buiging saam met die dansgeselskappe gemaak.

’n Fondsinsamelingsblad is vir Van der Nest in die lewe geroep: https://backabuddy.co.za/campaign/tribute-to-a-master-andre-van-der-nest

Kliek hier om ’n dansitem uit die vertoning te sien.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button