Moot ‘Olimpiese Spele’ sluit ook eierloop in

'n Jeugbeweging het hande geneem om die ware gees van die Olimpiese Spele te herskep vir die inwoners van 'n Moot-kinderhuis.

Solidariteit Helpende Hand se Pretoria Jeug-tak het onlangs ’n opwindende sportdag by die Louis Botha Kinderhuis in Pretoria aangebied om die inwoners opgewonde te maak oor die Olimpiese Spele wat vandeesmaand in Parys plaasvind.

Daar was ’n paar items op die jeugtak se lys wat moontlik nie by die Olimpiese Spele verteenwoordig is nie, maar wat vir groot pret gesorg het soos eierloop, sakresies en driebeenresies. Daar was ook meer tradisionele sport soos krieket, netbal en rugby aangebied.

“Dit was groot pret om te sien hoe die kinders wat eers skugter was om deel te neem, mettertyd nie kon ophou vra wanneer kom ons terug nie,” vertel AJ Kriel, organiseerder van die jeugtak.

Jeugtaklede het gesorg vir springmielies, suigstokkies en worsrolbroodjies.

Vir Kriel gaan dit egter nie net daaroor om so af en toe een keer in te loer nie.

LEES: Skrywer gee wenke oor hoe om persoonlike groei te bevorder

Hy verduidelik dat die tak ’n verhouding met die kinderhuis se bestuur en die inwoners op ’n volhoubare manier wil voortsit.

“Ons wil nie net gesig wys en verdwyn nie, maar wil ’n permanente gesig by die kinderhuis word sodat ons werklik bemagtigende projekte kan aanpak. Soos om mettertyd sprekers te kan bring wat oor onderwerpe soos boeliegedrag en die bekamping van dwelms kan gesels,” vertel Kriel.

Die dag is ook ingekleur met die motorfietstak van die beweging wat ’n bakkievrag vol klere en fietse geskenk het.

“Ons wou nie net saam met hulle aan sport deelneem nie maar ook vir hulle wys dat ons as jeug vir hulle omgee. Ons wou die kinders leer dat die verskil wat hulle in die wêreld wil sien, tree vir tree by hulle begin,” sê Kriel.

Kriel sê jongmense wat aan die tak se bedrywighede deelneem moet besef dat hulle nie net die toekoms is nie, maar ook die “nou”.

Hy sê hulle wil ’n kultuur skep van jongmense wat bereid is om hulle tyd op te offer om in hulle gemeenskappe ’n verskil te maak en eienaarskap te neem.

Ina Kotze, die woordvoerder vir die Louis Botha- en Jakaranda-kinderhuis, sê sulke uitreike deur die gemeenskap, is werklik op meer as een vlak ’n positiewe ervaring vir die kinderhuis.

“Ons is werklik diep dankbaar oor die ondersteuning aan en vertroue in Louis Botha-kinderhuis. Instappies soos hierdie laat ons kinders deel voel van die groter gemeenskap en bied hulle ook die geleentheid om interaksie met ander jongmense buite hulle eie omgewing, te geniet,” sê Kotze.

“Solidariteit Helpende Hand en AfriForum se uitreike is altyd opbouend, pret, positief, aktief en tot boordens toe vol bederf vir ons kinders. Die omgee en aangee, die insluit en omarm laat ons kinders na elke instappie spesiaal voel, want dit benadruk: ‘Ek behoort!’”

LEES: CPF busts four for illegal electricity connection in Laudium

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version