Local newsNews

Skrywer gee wenke oor hoe om persoonlik te groei te bevorder

Die gehoor van ’n werkswinkel oor persoonlike groei in Pretoria-Noord, het leiding gekry oor hoe om deur selfaanvaarding en die soeke na hul eie waarhede hul lewens te herbelyn.

Die Gereformeerde Kerk Kameeldrift-Oos het op 27 Julie in Pretoria-Noord ’n naweekwerkswinkel oor persoonlike groei aangebied met skrywer, berader en breinkenner, dr. Gerdi van den Berg, as aanbieder.

Van den Berg het die groep vroue toegelig oor wat die verband tussen hart, gees en brein is.

Sy het haar voorbeelde en plan vir persoonlike groei telkens gestaaf met wetenskaplike feite rondom die fisiologie van die brein en die hart.

Van den Berg is die skrywer van ’n topverkoperboek oor persoonlike groei, Jy kán verander – Laat God jou herskep deur sy Woord, wat ook in Engels beskikbaar is as A Change of heart – Realigning your life to unlock your true potential.

Nadine Grobler en Lindie Zietsman van Monument Park

As berader spesialiseer sy al vir meer as 25 jaar in kognitiewe gedragsterapie met ’n Christelike invalshoek.

Van den Berg ondersoek ook veral hoe leefstyl, dieet en denke ’n individu se trauma en lewensontevredenheid beïnvloed asook hoe volhoubare verandering in lewensingesteldheid gekry kan word.

Sy het aan die gehoor verduidelik hoe nadelige kindertydervarings wat onderdruk word, veral na 35-jarige ouderdom tot angs, depressie en woede-uitbarstings kan lei.

“Die lang onderdrukte gevoelens en ervarings wat jy nie in die oë wou kyk nie, meld veral op hierdie ouderdom aan by die bewussyn. Dan kan die wieletjies afkom,” verduidelik Van den Berg.

Sy het daarop gewys dat mense aan die dieper kant van hul menswees moet aandag gee anders sal ware emosionele herstel nooit plaasvind nie.

“Ongelukkig verdwyn emosionele pyn nie sommer netso oornag en vanself nie,” verduidelik sy.

Gedurende die werkswinkel is die gehoor gelei om verskeie vrae aan hulsef te stel soos, “sien hul hulself as ’n leeuwyfie of ’n vertrapte katjie?” Wenke is ook gegee oor hoe om meer selfgeldend op te tree.

“Jou selfdefinisie hang ook af van hoe jy jou ervarings verwerk en hoe jy gaan toelaat dat die emosies en aannames daarrondom jou beïnvloed,” benadruk Van den Berg.

Sy het die gehoor aangeraai om selfondersoek in te stel en veral op te let na die invloede van buite op hul gees en emosies.

“Met te veel invloede van byvoorbeeld sosiale media kan jy ’n lae selfbeeld kry,” benadruk sy.

Vir haar is respek die merk van iemand met ’n gesonde selfbeeld.

“’n Mens wat haarself onvoorwaardelik aanvaar, voel welkom, veilig en geliefd by andere en dit wys in haar liefdevolle en deernisvolle optrede,” vertel Van den Berg.

Volgens haar is konflik met jouself egter nie altyd ongesond nie.

“Dis deel van die baarmoeder van groei,” benadruk sy.

As breinkenner, wys sy daarop dat die fisiologie van die hart en brein nooit buite rekening gelaat kan word indien mense wil verander nie. Klein verstellings aan leefstyl soos gereelde oefening en matige blootstelling aan die son kan hierdie fisiologie positief beïnvloed.

“Wat egter dikwels nagelaat word om in ag geneem te word is die verband tussen die geestelike hart en die emosionele hart. Dis veral die geestelike hart waarvan die ontwikkeling nie afgeskeep kan word nie,” vertel sy.

Hetta Coertze van Pretoria-Noord, Beulah Erasmus van Villieria en Maria Loock van Pretoria-Noord

Sy benadruk dat jou geeestelike hart jou sal bly afvra: “Wie is jy?”

“Hierdie antwoorde gaan bepaal hoe jy God sien, sy liefdesopdrag vertolk en in jou lewe toepas. Dit is dus noodsaaklik dat jy jouself afvra: Stem jou lewensstorie ooreen met God se waarheid vir jou lewe? Dit kan jou AHA!-oomblik word wat jy weet wie jy is en wat jou storie is.”

Kliek hier om meer van Gerdi van den Berg se uitgangspunte rondom verandering te wete te kom:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button