Local newsNews

Montana-legende stap op 80 die wedloop van sy lewe

Die 80 verjaarsdagkilometers sou hom 16 uur en 44 minute neem om af te lê.

Sol Jacobs is ’n skraal en besonders fikse 80-jarige met ’n ligte rugsak op sy rug, gemaklike drafskoene en ’n effe verweerde maar spoggerige drafhoed, een wat hy al jare lank vertroetel.

Hy is ’n bekende figuur in die omgewing onder die bulte van Montana wat hy ook lief is om uit te stap.

Waar sy draf- of stapspore ook al sedert sy amateur loopbaan as atleet geval het, het die voormalige bestuurder in gehalteversekering in die staalbedryf, gesorg vir die regte draf- of stapdrag.

Hy het ’n superfikse lewensbenadering en wys trots tydens ’n toer die 2km-roete rondom straatblokke in Pretoria-Noord se omgewing waar sy tred ligweg geval het.

Hy het 43 keer rondom hierdie straatblokke op ’n vaste roete gestap om sy 80ste verjaarsdag te vier.

“Sonder om enige blase of beserings te kry!” vertel Jacobs.

Hy lig sy smal hand en wys na die landelike area van sy roete, maar kyk ook stip na die ongelyke sypaadjie langs ’n besige straat wat hy gevolg het.

Hier het hy altesaam 80km in sy verjaarsdagweek gestap om elke lewensjaar te vier.

“’n Kilometer per jaar uit dankbaarheid vir hoe die Here my lewe sewe keer gespaar het,” vertel die opgeruimde Jacobs.

Hy beskryf die aanloop tot die 80km-viering op Vrydag, 5 Julie, sy verjaarsdag.

Predikante en gemeentelede het hom op hierdie dag met gebak en goeie wense by hul Evangelies-Gereformeerde Kerk, Wonderboom se kampus ingewag.

Die 80 verjaarsdagkilometers sou hom 16 uur en 44 minute neem om af te lê.

“Op 2 Julie het ek ’n marathon so al om die blokke reg oorkant die kerk gestap, op 4 Julie ’n halfmarathon en op 5 Julie, die laaste 17km,” verduidelik Jacobs.

Die kerkgebou en -kampus as eindpunt was vir hom belangrik.

Die ondersteuning van die kerkbestuur, leraars en gemeentelede tydens sy voorheen kerkgerigte fondsinsamelingsprojekte by wyse van sy sportaktiwiteite, het hom geïnspireer en gemotiveer om die projekte aan te pak.

“’n Gebalanseerde geestelike sowel as alledaagse lewe, leer mens om konsekwent te wees, vasbyt te kweek en jou prioriteite reg te kry,” glo Jacobs.

Hy is ’n wandelende stophorlosie-met-’n-geheue oor die tye van sy belangrikste wedlope, soos sy tien Comrades-prestasies sowel as sy stapwedlope.

Jacobs het ’n volhoubare uithouvermoë én ’n sterk wil om te slaag wanneer hy wedlope, hetsy stap of draf, aanpak.

Hy het die Twee Oseane-marathon sewe keer aangedurf asook die meeste ultra-marathons in Gauteng en Mpumalanga. Dit sluit in 12-uur, 6-dag en 10-dag wedlope.

“Ek kon nogals bewéég op my dag,” sê hy en kyk nostalgies na foto-albums waarin foto’s van sy talle wedlope oor die jare in versamel is.

Hy is veral trots op die een nommer waarna talle Comrades-atlete streef. So ’n nommer word toegeken na tien Comrades-wedlope en word jou nommer vir enige toekomstige Comrades-wedlope.

Jacobs se ere-nommer is 2691. Die voorreg is in 1991 aan hom toegeken.

Hy is dankbaar vir die kere wat sy lewe gespaar is tydens onder meer twee ernstige motorongelukke, ’n slag toe hy per ongeluk ’n ernstige besering teen sy kop opgedoen het en ’n voorval met ’n lewendige elektriese draad.

Sol Jacobs

Jacobs is die enigste oorlewende van vier Jacobs-kinders waaronder ’n tweelingsuster.

Hy praat oor hoe belangrik oefening en fiksheid vir hom is sedert sy eerste pretwedloop in Kuilsrivier in die Wes-Kaap op 35-jarige ouderdom.

Sy fiksheidsreëls is eenvoudig: Veld- en padwerk, maar ook een tot twee ure elke dag in die gymnasium.

In die gymnasium werk hy volgens ’n sekere paar fiksheidsbeginsels wat die ontwikkeling en handhawing van stabiliteit, beweeglikheid, sterkte en uithouvermoë insluit.

Voeg by die fiksheidsfokus die balans van ’n gesonde eetstyl wat vrugte, groente, vloeistowwe en hoofsaaklik witvleis insluit, genoeg rus en ’n positiewe ingesteldheid, en jy het Jacobs se suksesresep.

Sy huwelik met Ena en sy gesinslewe dra ook veel by tot sy ewewigtige temperament, glo Jacobs.

“Die lewe het soos ’n wedloop sy op- en afdraandes. Indien jy fiks is na siel en liggaam, is die stryd halfpad gewonne.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button