Koorleier sluit loopbaan op hoogtepunt af

‘n Koorleier bekend vir haar gawe om talent te ontsluit, rond haar loopbaan met uitsonderlike prestasies af en gaan vir eers net ouma vir ‘n rukkie wees.

Die innemende koorleier van die Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Renette Bouwer, sal vanjaar op ’n hoogtepunt van haar loopbaan by die spogskool in Pretoria afsluit na meer as ’n dekade se verbintenis aan die skool.

Bouwer en die koor het in Julie in Sentraal-Europa getoer. Hulle het in Bratislava, Slowakye, opgetree en het by ’n internasionale koorkompetisie (International Youth Festival) skoonskip gemaak.

Die Blou Engele het twee kategorieë gewen. Die koor het die volgende punte behaal: 96% vir Youth Choir Sopranos and Altos en 97% vir Musica Sacra with Accompaniment asook die Grand Prix-prys vir kore.

Kore kwalifiseer slegs vir die Grand Prix-prys as hulle ’n punt van 97% en hoër behaal het.

“Ons dogters was uitmuntend,” sê Bouwer.

Sy is bekend daarvoor dat sy kore en koorlede tot nuwe hoogtes kan inspireer en hul potensiaal outentiek kan ontwikkel.

Die koor se bewonderaars en ondersteuners kon onlangs die bekroonde opvoerings in die Voortrekkermonument ervaar.

Bouwer se musiekloopbaan sluit in talle poste as orrelis nadat sy in Middelburg by die NG Kerk-moedergemeente reeds op ’n jeugdige ouderdom agter die klawers ingeskuif het.

Deesdae doen sy diens as orrelis by ’n Presbiteriaanse gemeente in Johannesburg.

Beide haar ouers was amateur sangers. Haar ingenieur pa het homself leer bladmusiek lees en haar ma het ook klavier gespeel.

Sy het musiek aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar het nie sang in haar studies ingesluit nie. Sy was wel in die Tukkies-koor.

Sy het hoë agting vir Petru Gräbe, haar koorleier en ook mentor in haar laaste jaar.

Bouwer het onder sy leiding die musiekgawe ontwikkel wat tot haar sukses as koorleier sou lei.

“Ek het ’n innerlike kennis van hoe musiek werk en kan dit aan koorlede oordra. Koorlede moet kan sing, luister en voel,” vertel Bouwer.

Sy is ook bekend vir haar optredes as solis, van Botswana tot in St Petersburg, veral met oratoria, maar is ook lief om by funksies op te tree en meer ligte klassieke liedere te sing.

“My eerste liefde is egter om kore af te rig en te lei tydens optredes,” sê Bouwer.

Renette Bouwer

Sy was ook al langer as 25 jaar die koorleier van die Universiteit van Johannesburg.

“Mens ontwikkel talle vaardighede en doen lewenservaring op met die kontak met kore en koorlede sowel as musikante wat saam met jou optree,” glo sy.

Vir haar is dit belangrik dat ’n koorleier moet weet wat bo die vuurmaakplek van die individuele koorlede, maar ook die koor in sy geheel, gaan wees.

“My taak is al werk ek met amateurs, moet hulle professioneel klink. Ek kan nie hul swakhede blootstel nie, maar moet hul sterkpunte na vore bring,” verduidelik sy haar filosofie rondom koorafrigting.

Vir Bouwer was daar met die koor se onlangse internasionale prestasie ’n aansienlike uitdaging aangesien die koor sonder sleutelstemme moes klaarkom.

“Die meisies het egter die geleentheid aangegryp en hul beste gegee deur vooraf hard te werk. Hulle stel hoë eise aan hulself en is mededingend,” wys Bouwer uit.

Van die voorwaardes in die kompetisie het ingesluit dat die koor a capella moet sing en twee heilige liedere moet insluit.

Afrikaans Hoër Meisiekool Pretoria se koor het ook wyer getoer in Oos-Europa tydens hul deelname aan ‘n internasionale kompetisie.

Die koorlede hou van die musiek van komponis Darius Lim, vertel Bouwer.

“Hulle hou van sy ritmiese impak,” verduidelik sy.

Lim het Bouwer en die koor, nadat die uitslae bekend gemaak is, met hul prestasie gelukgewens en stel sy musiek gratis aan die koor beskikbaar vir optredes.

Die koor het ook van Neil van der Watt se komposisies soos “Gemesmeraais” gesing. Van der Watt is een van Bouwer se gunstelingkomponiste omdat hy “soveel van skoonheid van die natuur in sy liedere inbring”.

Die koor het ook van hierdie komposisies in ander katedrale opgevoer soos in die indrukwekkende Basilika van St Stephen’s in Budapest.

“Die koorlede was so beïndruk met die asemrowende akoestiek van hierdie katedraal,” sê Bouwer.

Sy glo dis belangrik vir ’n koor om, nadat ’n repertoire in die begin van die jaar gebou is, daarop te kan voortbou, maar ook om slaggereed te wees vir versoeke vir optredes.

Bouwer is ouma van ses kleingoed en sien uit om saam met haar eggenoot van Kaapstad tot Nelspruit te reis nadat sy jare as gevolg van die streng skedule van koor-oefeninge en optredes nie altyd soveel vryheid van beweging gehad het nie. Sy sal ook weer aandag aan haar ander liefde, naaldwerk, kan gee.

“Ek hou my opsies oop en beplan niks vas nie. Ek sien uit om nie meer elke dag my dagboek hoef dop te hou nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version