Pa van Laerskool Mayville-leerder: “Bid vir ons”

'n Graad 7-leerder het van haar beserings beswyk nadat sy van 'n balkon by die skool se gebou geval het. Haar ouers vra ruimte om die tragedie te verwerk.

’n 14-jarige leerder van die Laerskool Mayville in die Moot, Clair Aucamp, is op Saterdag, 20 Julie in die Milpark-hospitaal in Johannesburg dood nadat sy twee dae vroeër by die skool geval en ernstige kopbeserings opgedoen het.

Aucump het glo rondom 11:00 vanaf ’n balkon op die tweede verdieping van die skoolgebou geval.

Sy is per lugambulans na die hospitaal geneem nadat paramedici van Best Care-nooddienste haar op die toneel gestabiliseer het.

Haar pa, Gavin, sê dat hy nie enige kommentaar oor die voorval wil lewer nie.

“Bid net vir ons in hierdie moeilike tyd,” versoek Aucamp.

Clair Aucamp

Xander Loubser, ’n paramedikus van die nooddienste, sê dis belangrik om te bevestig: “Sy is nie van die balkon oor die reling gestoot nie”.

Die skool het Saterdagmiddag die nuus van die afsterwe van die leerder in graad 7 op hul sosiale mediablad gedeel en medelye met die gesin, familie en geliefdes betuig.

Daar is ook deur die skool, sowel as die Departement van Onderwys, bevestig dat ’n volledige ondersoek na die voorval gedoen sal word.

Die onderwysdepartement het die leerders, ouers en personeel met traumaberading verskaf.

Die skool het ook op hul Facebookblad materiaal oor traumabegeleiding gedeel wat deur ouers gebruik kan word om met hul kinders oor die voorval te gesels. Die materiaal is van die onderwysdepartement ontvang.

Die lugambulans wat Clair Aucamp van die skool na Milpark-hospitaal vervoer het. Foto: Verskaf

Volgens polisiewoordvoerder Johan van Dyk is ’n geregtelike doodsondersoek deur Wonderboompoort-polisiestasie geopen.

Verskeie Pretoria-skole soos Laerskool Kameelfontein en Hoërskool Pretoria-Noord het hul meegevoel aan Clair se ouers en die skool op sosiale media betuig.

Bewerings is op sosiale media gemaak dat leerders by Laerskool Mayville geboelie word.

’n Bekommerde gemeenskapslid wat ’n verbintenis met die skool het maar anoniem wil bly, het aan Rekord gesê dat daar onlangs sprake van ouergroepe was om ’n vergadering te hou om die probleme en klagtes rondom boeliegedrag by die skool te bespreek.

“Hierdie is nie skinderstories nie en ons wil nie die skool swartsmeer nie. Ons soek werklik na oplossings,” sê die gemeenskapslid. “Al is daar soms kamera-materiaal van voorvalle beskikbaar, word nie genoeg aandag hieraan gegee nie.”

Die gemeenskapslid voel dit is belangrik om met die ’n vergadering voort te gaan en beoog om ouers te nader.

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 9 Junie 2022 by Laerskool Mayville besoek afgelê.

Die skool se kennisgewing aan ouers en leerders oor Clair Aucamp se dood.

Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

AfriForum-woordvoerder, Leandie Bräsler, sê die hantering van boeliegedrag in skole bly ’n sensitiewe en belangrike saak wat deur ouers, onderwysers en beheerliggame met die nodige sorg en deernis hanteer moet word.

Sy het riglyne ter voorkoming gegee oor hoe ouers boeliery kan rapporteer asook die nodige stappe wat gevolg kan word om te verseker dat die situasie nie vererger nie.

“Vroeë ingryping help. Tree dadelik op sodra daar aanmeldings van boeliegedrag is. Vroeë ingryping kan verhoed dat die situasie vererger of dat daar verdere skade aangerig kan word,” sê Bräsler.

Sy doen ook aan die hand dat skole deurlopende kommunikasie met leerders en ouers oor enige voorvalle in stand hou, asook die stappe wat geneem kan word om moontlike boeliegedrag aan te spreek.

“Bevorder ’n kultuur van respek, verdraagsaamheid en samewerking binne die skoolgemeenskap om ’n omgewing te skep waar boeliery nie geduld word nie,” sê Bräsler.

Beide die skool en die Gautengse Departement van Onderwys is om verdere kommentaar genader maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version