Local newsNews

Smaaklikste lamsvleis kom van die Vrystaat

Skaapvleis was op almal se lippe op meer as een manier tydens 'n kompetisie om die smaaklikste lamsvleis in die land te vind.

Jason Davel van Donkerberg in die Vrystaat se lamsvleis van sy Ile de France-skaapkudde is aangewys as die beste lamsvleis by die Lamb Champs-kompetisie wat deur die familieboernetwerk Saai op 20 Julie by die Pretoria Botaniese Tuin aangebied is.

Davel het weggestap met die eerste prys van R80 000.

Gawie van Heerden van Noord-Kaap het die tweede plek behaal met sy Merino-lamsvleis en in die derde plek was Colene van der Merwe van Noord-Kaap met haar dormer-skaapvleis.

Dit is die derde jaar wat die kompetisie in Pretoria aangebied is. Die deelnemende boere se uitdagings en suksesse sal ook eersdaags in ’n TV-program gesien kan word.

Meer as 8 000 mense het die vleisfees bygewoon en reeds vroeg was die sappige reuk van die skape op die spitte in die lug en het monde gewater.

Twee van die beoordelaars van die Lamb Champs-skaapvleiskompetisie: Frans Cloete en Pieter Labuschagne van Pretoria-ooos
Skaapboer Hein Smit van Pretoria-oos was een van die deelnemers aan die Lamb Champs-skaapvleiskompetisie van Saai.

Die beoordeelaars was vroeg aan die proe en die publiek kon vanaf 12:30 ook vir hulself proe en weglê terwyl die musiek van kunstenaars van die sanggroep Jan Jan Jan en gewilde sanger Eloff hul vermaak het.

Sjarmante gasvrou en bekende TV-aanbieder, Minki van der Westhuizen, het die skare vermaak en talle pryse uitgedeel.

Die hoogtepunt van die dag vir vele was die skaapkop-eet-kompetisie toe sowat 50 deelnemers elk ’n skaapkop blink moes eet en ’n 500ml bier klaar drink onder 15 minute. Die kompetisie is gewen deur JP du Preez van De Aar.

“Die kuns lê daarin om gereeld die bier nader te trek terwyl jy die vleis afsny met ’n goeie, skerp knipmes,” vertel Du Preez.

Bekende bantam-gewig UFC-vegter, Cameron Saaiman, is as aanbieder van die Moer ’n Boer TV-reeks van die boere wat teen gevestigde vegters op die reeks vanaf 25 Julie te siene gaan wees op die VIA-kanaal, aan die gehoor voorgestel. Twaalf rateltaai plaasboere is vroeër vanjaar gekies en is in die MMA-gevegskuns opgelei.

Pretoria word deur Zac Steyn, ’n Angus-beesboer, verteenwoordig in die gevegskompetisie.

Giel en Evandre Bekker van Pretoria-oos
Sanger Eloff
Esmerelda Ferreira van Villieria met haar skaapteddiebere
Milanie en Daniel Niehaus het die plesierighede rondom die skaapvleiskompetisie saam met hul ma Leandrie Niehaus geniet.
Tanya Pieterse van Pretoria-oos het met die aanbied van die skaapkop-eet-kompetisie handjie bygesit met die organisasie om 50 gaar skaapkoppe voor die deelnemers, knipmes en al, neer te sit sodat hulle die skaapkoppe kon blink eet.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button