Local newsNews

Braaibroodjie-koning glo brood gebotter aan beide kante

Sanger en liedjieskrywer Muller Brandt se nuutste enkelsnit is onlangs vrygestel, maar hierdie keer het dit maar min met braai uit te waai.

Mens kan darem nie ander as om die boer die kuns af te vra van hoe om ’n braaibroodjie te maak wanneer jy die sanger ontmoet wie se treffer “Braaibroodjies” reeds 2 miljoen trefslae op musiekstroomdienste het nie.

Muller Brandt glimlag breed oor die groot debat van waar smeer jy die botter op ’n braaibroodjie – aan die binnekant van die brood of die kante wat op die rooster lê?

Hierdie bobaas braaier en bosveldliefhebber het reeds lankal hierdie kuns onder die knie.

“As jy reg braai, maak dit nie saak nie. Maar ek smeer dit sommer buite en binne,” sê Brandt op sy gemaklike en opregte manier.

En, maan hy, hou die kaas Cheddar en moenie die blatjang vergeet nie.

Vir ’n lang tyd kon die sanger egter nie eers brood bekostig nie – wat nog te sê van ’n braaibroodjie se bestanddele.

Hy onthou die tyd wat hy van rys en melk geleef het.

“Daar kom ’n tyd in jou lewe wat jy jou eie rekeninge moet betaal. Dan weet jy nou pak jy jou lewensreis alleen aan,” vertel die pa van twee seuns.

Muller is sedert 2022 bekend vir liedjies soos “Hartsland”, “Brand die skepe” en “Wildebees” – almal liedjies wat redelik onlangs vir hom ’n bewonderaarbasis opgebou het.

Deesdae is hy ’n bekende gesig met sy passievolle optredes by die BitterLekker-vertonings, wat al by verskeie feeste gehou is.

Sy emosionele vertolkings en ontspanne verhoogpersoonlikheid laat gehore maklik aanklank by hom vind.

Daar is aan hom en sy liedjies ’n gesonde heilsaamheid soos die buurseun langsaan met die gesonde sin vir humor wat jy al jare ken.

Die oudleerder van Laerskool Boerefort in Wonderboom-Suid en Hoërskool Witbank het in 2014 Pretoria toe gekom om ’n lewe weg van sy ouerhuis in Witbank te lei en vir homself te sorg.

Dis juis as tiener wat hy moes hoor hy is glad nie aangelê vir musiek nie, maar dit het Brandt nie gestuit nie.

“Ek het altyd my ouers se ondersteuning gehad,” sê Brandt.

Sy pa, Barend, het hom lief gemaak vir country-musiek en hy het gou besluit om in hierdie musiekgenre sy liedjies te sing.

Na ’n liedjieskryf-slypskool met onder meer wyle Christa Steyn, het Brandt begin om die lirieke en melodieë te skryf wat aan hom uiteindelik benoemings as finalis vir musiektoekennings soos die Aitsa-toekennings van Pretoria FM in aanmerking sou laat kom.

“Ek sal so sit en gedagtes vir liedjies kry. My idees begin met ’n vers en dan sal ’n frase by my opkom wat ’n lekker kapstok is. Dan kan ek by my rekenaar gaan sit en my kitaar nader trek,” vertel die glimlaggende Brandt.

Een so ’n liedjie wat met ’n blink idee begin het, was toe Brandt, wat ’n stewige 1.82m in sy sokkies staan, gedink het wat sal gebeur as die romanse tussen twee mense begin skeefloop omdat die held korter as die heldin is.

So is sy mees onlangse vrystelling “Esmari” gebore.

Rug Teen Rug Musiek, die eerste platform wat onafhanklike Afrikaanse kunstenaars verteenwoordig in vennootskap met ontbytSAKE op kykNET, het in laat Junie hierdie nuutste enkelsnit van Brandt bekend gestel.

Maar tuis het sy eie verhouding met sy geliefde eggenoot, Amé, nie veel uitdagings nie, behalwe ’n kleinding wat op ses maande tande sny. . .

Dit was nog altyd Brandt se droom om ’n gelukkige huwelik en vervullende gesinslewe te hê en hy werk hard daaraan.

“Ek het lank vir ’n vrou soos Amé gebid,” erken hy gemaklik.

Hy het ook al sy hand aan die skryf van gospelliedjies soos “Praises of Creation” gewaag.

“Ek het in my moeilike swaarkrytye geweet God het ’n belofte oor my lewe gespreek en Hy is ’n Waarmaker van sy Woord. Ek het nog altyd hieraan vasgehou.”

Kliek hier om na Esmari se video te kyk: https://www.youtube.com/watch?v=viE-kcDHolw

Facebook: RugTeenRug Musiek Facebook / ontbytSAKE Facebook,
Instagram: RugTeenRug Musiek Instagram / ontbytSAKE Instagram

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

Back to top button