‘n Dogter se reis na haar pa se selfdood

Vir Anria Delport was haar pa se selfdood toe sy 13 jaar oud was, iets waarvoor sy eers veel later in haar lewe aanvaarding kon vind.

“Dit was vir ons baie erg en onhoudbaar om in Pretoria te bly na my pa se selfdood. Die herinneringe van die huis waar my pa ook eens saam met ons gewoon het, was moeilik om mee saam te leef. In daardie tyd was daar nie oor selfdood gepraat nie. Dit was amper soos ’n skande wat ’n huishouding getref het. Ons wou as gesin net wegkom om ’n nuwe begin iewers te maak.”

Só sê skrywer Anria Delport (43).

Sy is in Pretoria gebore en het in die Moot-area grootgeword. Sy het daar skoolgegaan tot sy 15 jaar oud was. Die Delports het na Somerset-Wes verhuis toe sy in Graad 9 in die derde kwartaal was.

Toe Delport 13 was, het haar pa sy lewe geneem.

“Dit was vir my ’n baie traumatiese ervaring. Een wat my hele lewe verander het,” vertel sy.

Haar boek, Left Behind – Surviving a loved one’s suicide, oor hierdie ervaring en hoe sy dit verwerk het, is onlangs deur Naledi gepubliseer.

Anria Delport

Vandag voel sy herinneringe aan Pretoria is “goed en sleg vir my”.

“Dis waar ons nog kinders kon wees en in die strate speel, alleen fiets kon ry of skool toe loop. Ek kon kind wees, konserte hou by die huis, en my ma se oorgrote hoëhakskoene probeer dra. Ek kon ook saam met my pa dinge doen: verf, tuinmaak en help gras sny,” dink sy aangedaan terug.

Deel van Delport se doel met die skryf van die boek is om mense wat trauma en verlies ken, te help om self betyds hulp te kry sodat hulle kan voortgaan om ’n vervullende lewe te lei.

“Ek wil graag die boodskap oordra dat ons nie gevangenes is van ons verlede of wat ookal met ons gebeur het nie, maar dat ons dit eerder ons doel moet maak om triomfantelik anderkant uit te kom. Ek wil mense help om vrede en aanvaarding te kry in die dinge wat hulle nie kan verander nie,” verduidelik Delport.

Al val haar boek in die memoire-genre, wou sy nie die inhoud net oor haar lewensverhaal laat gaan nie.

Delport neem die leser in haar boek deur die nagevolge van trauma en verlies, asook die proses van hoe mens sulke emosies en gebeurtenisse op jou eie tyd verwerk.

“My hele lewe lank het ek al die gevoel in my gehad dat ek my lewensverhaal vir ’n groter doel wil gebruik. Dis om mense te help om deur hulle pyn te werk en anderkant uit te kom waar genesing en aanvaarding bereik word. Waar die oop wond vervorm tot ’n litteken. Indien jy nie volkome deur die stappe van genesing beweeg nie, plak jy net ’n rofie op die oop wond wat telkemale daarna weer oopgaan en bloei,” verduidelik sy.

Sy woon deesdae saam met haar katte in Kaapstad se noordelike voorstede en werk by die oudste wynplaas in Stellenbosch as ’n wynproelokaal-bestuurder.

Vir haar was die mees uitdagende oomblik met die skryf van die boek om die gebeure te herleef.

“Die trane het tydens die skryfperiode gevloei en my emosies was soms rou geskaaf. Omdat ek egter reeds deur my trauma en verlies gewerk het, was dit nie onhanteerbaar nie.”

Delport het in 2016 saam met ’n kunstenaarsvriend, Pieter van Tonder, gewerk aan ’n gesamentelike uitstalling van hul kunswerke in Robertson. Een aand toe hulle aan die skilder was, het hulle ’n ruskans geneem.

“Ek het my lewensverhaal vir hom vertel. Hy stel toe voor dat ek ’n boek skryf. Ek het gedink dis ’n lawwe idee, want ek was nooit goed met tale op skool nie. Maar die saadjie was tog geplant. Ek het joernale begin skryf, maar die boek is eers in 2023 voltooi.”

Sy het lank geworstel oor hoe mens die omvang en inhoud van haar boek in ’n titel sou uitbeeld.

“Ek het eendag, nadat ek die konsep en storie van my boek in my kop en op skrif gehad het met ’n vriend gepraat. Ek het hom vertel waaroor dit gaan. Hy noem toe wat van ‘Left Behind’? En sê dis tog seker hoe jy na só ’n gebeurtenis voel: agtergelaat. En in werklikheid is dit hoe ek gevoel het,” beaam sy.

Sy glo die terapie waardeur sy is om te probeer sin maak van die ervaring en haar gevoelens, het ’n betekenisvolle invloed op haar genesing gehad.

“Indien ’n mens nie vinnig na so ’n gebeurtenis die regte professionele hulp kry nie, dan worstel jy langer daarmee as wat nodig is. Jy weerhou jouself van ’n vol lewe. Ek dink in die tyd toe dit met my gebeur het en daarna, was dit meer ’n geval van onkunde en gebrek aan die soeke na professionele hulp,” verduidelik Delport.

Sy dink nie professionele mense, soos sielkundiges, was drie dekades terug so goed toegerus soos vandag om kindertrauma te verstaan en te behandel nie.

“Daar is soveel meer kennis, begrip en insig daaroor om mense vinniger op ’n pad van genesing te kan bring. Ek wil ook graag beklemtoon dat dit geen skande is om vandag ’n sielkundige te sien en deur enigiets te werk wat jou geestesgesondheid beïnvloed en dit so aan te spreek nie. Dit was ’n stigma wat daardie tyd ’n realiteit was, maar vandag nie meer so beskou word nie,” beveel sy aan.

Kliek hier om ’n onderhoud oor Delport se boek te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version