Local newsNews

Veldtog vir broerskind beoog om lewens te red

'n Bekroonde veldtog vir die bekamping van hondsdolheid beoog om voor Wêreld Hondsdolheiddag op 26 September meer as 1 000 inentings te doen.

Die hartseer rondom ’n Moot-inwoner se broerskind se dood as gevolg van hondsdolheid het haar gemotiveer om ’n bewusmakingsveldtog rondom dié dodelike virus te skep.

Werna Venter se broerskind Carlie du Plessis is op 17 Julie 2016 op sesjarige ouderdom aan hondsdolheid dood.

“Ons wou die seer in iets mooi omskep,” vertel Venter.

Vanjaar is die veldtog se visie om Carlie se 14de verjaarsdag te herdenk deur 1 400 inentings teen hondsdolheid te versprei, 100 vir elke lewensjaar.

“Haar pa en my broer, Johann du Plessis, het kort na haar begrafnis vir my gesê ons moet iets doen om meer kennis en inligting rondom hondsdolheid te versprei. Hy het gesê Carlie kon nie verniet gesterf het nie,” sê Venter.

Carlie was ’n plaaskind van Clocolan. Haar ouers het ’n gemengde boerdery op ’n plaas naby hierdie Oos-Vrystaatse dorp. Die geliefde rooikoppie was lief vir haar perd, het ballet gedoen en was as ’n klein rabbedoe altyd aan haar pa se sy op die plaas.

Venter het as ’n hulde-gebaar die Rooivlag-bewusmakingsveldtog teen hondsdolheid saam met Carlie se gesin en haar familie sowel as ander betrokkenes, begin om inligting oor dié dodelike virus te versprei en om die voorkoming daarvan te bevorder.

Die veldtog sou so geslaagd wees dat die Global Alliance Against Rabies in 2019 die veldtog genomineer en gekortlys het vir die World Rabies Day-toekenning.

In Julie 2016 toe Carlie op ’n Sondag in die hospitaal in Bloemfontein opgeneem is met griepsimptome, kon haar tante nie voorsien sy sou hierdie bewusmakingsrol inneem nie.

Carlie is op dieselfde dag oorlede. Haar sterfte het haar ma Mandie, sussie Milike en haar pa sowel as ’n wyd uitgebreide familie in rou gedompel.

Carlie het geen tekens van die siekte getoon nie.

Na verskeie toetse maar geen antwoorde nie, is haar breinweefsel vir toetse weggestuur.

Drie dae na haar sterfdag het die uitslag gekom en gelui: Positief vir hondsdolheid.

Die gesin en familie sou mettertyd hoor dat die virus al ’n geruime tyd in haar lyf was voordat dit haar brein bereik het.

Die hondsdolheidvirus kom in die speeksel van besmette diere voor en versprei deur die senuweevesels en nie deur die bloedstelsel nie.

’n Mens kan aansteek as die speeksel met jou in kontak kom deur ’n dierebyt, die slymvlies van die mond of oog of deur ’n oop wond op vel.

Hondsdolheid se simptome kan aanvanklik verwar word met griepsimptome.

Die simptome kan later vererger na hallusinasies, slukspiere wat in spasma gaan en vrees vir water.

Sonder behandeling is die dood onafwendbaar. Met korrekte en vroeë behandeling is die kans op oorlewing goed.

Vir die gesin was die voorkoms daarvan by Carlie vreemd.

Nêrens kon ’n byt aan haar lyf gevind word nie. Sy het nie op hul plaas kontak met ’n dier gehad waarby hondsdolheid gediagnoseer is nie.

Die moontlikheid het bestaan dat ’n hondsdol dier haar dalk aan ’n seerplek aan haar been gelek het. Dit is hoekom dit ’n geruim tyd geneem het voordat die virus haar brein bereik het.

“Ons het ons voorgeneem om te verhoed dat nog gesinne deur so ’n tragedie getref word,” vertel Venter.

Sy het by prof. Louis Nel by die Universiteit van Pretoria gaan aanklop vir leiding oor hoe om te werk te gaan om ’n bekampingsveldtog saam te stel.

Hy kon haar van genoeg materiaal en kennis voorsien om ’n veldtog te bedryf en inligtingstukke saam te stel.

Vandag is die veldtog se inligtingsdae rondom bulletjie-sportdae en mini-netbaldae wyd in die Vrystaat bekend. Meer as 300 deelnemers woon dikwels sulke toernooie by. Tydens die dae word inligting oor hondsdolheid aan die deelnemers verskaf deur ’n veeartspraatjie en pamflette word versprei.

Venter het ondersteuning gekry van Living Ball Ministery wat netbal- en rugbyballe met Carlie se se naam vir die toernooie borg.

Die kleur van die veldtog is hoofsaakliklik pers, Carlie se gunstelingkleur. Sy was ook die gesin se “vierseisoenekind”, soos die liedjie van Gian Groen lui en al die seisoene word dus ook met kleure op die bal aangebring.

Vir Venter gaan dit nie net oor die bewusmaking nie. Haar droom is om inentings namens die veldtog aan inwoners van gemeenskappe te skenk wat dit nie kan bekostig of vervoer het om hul diere na veeartsklinieke te neem nie. Sy maak op donasies en borge vir sulke dae staat.

Verlede jaar het die veldtog op Mandela-dag by die Soshanguve Animal Shelter met GROOTfm hande gevat sodat 50 honde hul hondsdolheid-inentings kon kry.

’n Boodskap wat sy gereeld oordra is dat deur jou troeteldiere met inenting te beskerm, beskerm jy jouself en jou gesin sowel as jou gemeenskap.

Sy vat dikwels hande tydens voorligtingsdae met ’n Pretoria-veearts, Didi Claasen, wat deel is van ZeroBy30, ’n globale veldtog om geen hondsdolheid teen 2030 internasionaal te waarborg.

LEES: Dis drie-uit-drie vir Midstream College in Stadsbeker liga

Tipies word vyf tot tien gevalle van menslike hondsdolheid per jaar in die Nasionale Instituut vir Aansteeklike Siektes se laboratorium bevestig. Gedurende die eerste kwartaal van 2024 (1 Januarie tot 30 April) is drie gevalle van menslike hondsdolheid in Suid-Afrika aangemeld. Hierdie gevalle is aangemeld deur die eThekwini- en die Ngqushwa-munisipaliteite.

Kaapstad se strande is ook in die nuus nadat strandgebruikers verlede jaar en vanjaar in Junie gewaarsku is nadat robbe dood op strande uitgespoel het. Daar is bekend gemaak dat vyf bevestigde gevalle van hierdie pelsrobbe hondsdolheid gehad het.

Venter glo ZeroBy30 is ’n haalbare ideaal. “Ons skuld dit aanmekaar om ons gesinne en diere met inenting veilig te hou teen hierdie siekte. Met elke inenting kom ons nader aan die ZeroBy30-ideaal.”

Besoek die veldtog se blad, www.rabieskills.co.za waar sosiale media skakels beskikbaar is.

Sou iemand enige bydrae wil maak tot vanjaar se inentingsdoelwit (dit is ’n wet dat elke kat en hond teen hondsdolheid ingeënt moet wees), kan hulle Werna Venter kontak by carlierooivlag@gmail.com.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button