Local newsNews

Kruger-goedere uit Switserland nou tuis in SA

Besoekers aan die Voortrekkermonument kan nou ook in 'n nuwe uitstalling in die Kruger-galery 'n blik op sy lewe in Switserland kry.

Die inhoud van oudpresident Paul Kruger se Clarens-sterfkamer het ’n nuwe tuiste in ’n toegewyde glasvertrek in die Kruger-galery by die Voortrekkermonument gevind.

Die Kruger-sterfkamer, ’n replika van die vertrek waarin hy op 14 Julie 1904 in Clarens, Switserland gesterf het, is op 12 Julie bekend gestel.

Dit sluit in ’n replika van die bed waarop Kruger geslaap het, hangkaste uit sy slaapvertrek, die Bybel waaruit hy gelees het, ’n gunstelingstoel en tafel waarby hy aantekeninge gemaak het, sowel as geraamde foto’s en dokumente wat hy in sy ballingskap as herinneringe vertroetel het. Die gordyne en selfs die gordynkappe, is getrou nagemaak om die regte agtergrond te skep. Eenkant staan ook ’n beeld van ’n kryger uit die Vryheidsoorlog en ’n destydse ZAR-skild en skildery met Kruger en die vierkleur op.

Die inisiatief is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) geloods om saam te val met die weekvieringe rondom die 120-jarige herdenking van oudpresident Kruger se sterfdag op 14 Julie 1904.

Kruger is op 16 Desember 1904 in die Kerkstraatbegraafplaas in Pretoria begrawe.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument, het tydens die geleentheid verduidelik hoe die inhoud van die eertydse Krugerhuis, nou Villa Kruger, in die besit van die federasie gekom het.

Villa Kruger is in 1873 gebou en is geleë in Clarens, langs die Genève-meer in Switserland.
Kruger het in ballingskap in die huis gewoon en gesterf. Die huis is reeds sedert 1910 as ’n informele museum bedryf.

Die huis is in die laat veertigerjare aan die Suid-Afrikaanse regering te koop aangebied wat die federasie as bewaringsvereniging van kultuurgoedere betrek het.

Die FAK het die nodige geld ingesamel en in 1951 is die huis aangekoop en aan die federasie oorgedra.

Kort voor die 1994-verkiesing het die regering goedkeuring gegee dat Krugerhuis verkoop mag word. ’n Bewaringserwituut is op die eiendom deur die nuwe eienaars aan die federasie toegestaan vir die sterfkamer. Die huis het daarna weer van hande verwissel.

Met die verval van die serwituut in 2021, moes die inhoud van die vertrek waarin Kruger oorlede is, terug na Suid-Afrika gebring word.

Langner het die Roode-familie van Kapama-wildreservaat en Kapama-trust bedank vir die befondsing en hulp om die inhoud van die Clarens-sterfkamer in Suid-Afrika ’n rusplek te laat kry.

FAK-voorsitter, Danie Goosen, het tydens die huldigingsrede die vraag afgevra hoekom Kruger nog in 2024 relevant is.

“Ons kan leer by Kruger van liefde vir die eie, dat vryheid ook ’n vaste staanplek kan beteken en van sy sin vir verstandige handeling binne veranderende omstandighede,” sê Goosen.

Hy glo Kruger se voete en optrede is gedryf deur ’n diepe wete en besef dat ondanks die chaos van die lewe, daar op ’n dieper vlak altyd ’n goddelike plan is.

“Kruger het geglo niks is toeval nie en dat ’n vaste identiteit jou kompas moet wees,” benadruk Goosen.

Die geleentheid is bygewoon deur twee van Kruger se sesde geslag-nasate, twee Kruger-broers, Pieter van Hartbeespoort en Paul van Somerset-Wes.

Vir beide was die ervaring om die oudpresident se sterfkamer binne te kon stap, ’n emosionele oomblik.

Pieter sê daar was altyd in sy gemoed soveel waaroor hy gewonder het rondom die oudpresident se verblyf in die destydse Krugerhuis.

“Dit is goed om vandag hier te kon instap en geskiedenis voor jou oë te kon sien afspeel,” sê Pieter.

Vir Paul was dit ’n groot eer om die kamer binne te tree.

“Dit is so goed dat mens nou nie meer Switserland toe hoef te gaan om die stuk van die geskiedenis te beleef nie,” sê Paul.

Beide sien uit om hul eie kinders, die sewende nageslag-Krugers, na die kamer te bring.

Die dag het ’n spesiale kleurtjie en geurtjie gekry toe die gaste op die oudpresident se gunstelinggeregte soos sy eggenoot, Gezina, se lensiesop en Hertzoggies-koekies, getrakteer is.

Pieter Verster het sy roman, Onze Rust, waarin Kruger ook figureer, tydens die geleentheid bekend gestel.

In ’n gesprek met advokaat Marius Ackermann het hy uitgewys hoe Kruger en president MT Steyn hulself die vraag bes moontlik afgevra het of hulle die regte ding gedoen het om die stryd gedurende die Tweede Vryheidsoorlog doelgerig en onwrikbaar voor te sit. In sy roman verbind Verster ook hierdie vraag met die Grensoorlog van die tagtigerjare en of die voortsetting daarvan so lank moes duur.

Verster het tot die slotsom gekom dat “ek dink dis maar deel van Afrikaners se DNS om steeds so te peins oor foute van die verlede”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button