Local newsNews

Digters se woorddoepa dokter taalliefhebbers

Afrikaans en digkuns was die wenner toe Centurion-digkunsliefhebbers by 'n digvertoning bymekaar gekom het.

Digkuns- en taalliefhebbers het op 10 Julie in die Centurion-teater op ’n nuwe manier na gedigte oor die natuur begin kyk.
Nekende akteur en oud-Pretorianer, Lizz Meiring, digter Jak J. Brits en Centurion-skilder, Mariette Beukes, het met kleure en seisoene op ’n pittige manier woordpret gemaak.

Die digkuns as ’n manier om te oorlewe en om “medisyne” vir die siel te wees is by hierdie Poësie Apteek-vertoning in sterk dosisse aan die Afrikaanse digkunsliefhebbers uitgedeel.

“Medisyne tussen die lyne” noem die woordapteker en taal-entrepreneur, Brits, die doepa teen die blues.

“’n Gedig is vir elkeen iets anders, maar dit is soos ’n pil en verlig die pyn van die lewe,” sê Brits.

Hy het van sy gedigte uit van sy bundels soos Lei my na ’n heilige plek voorgelees.

Brits is al deur die bekende letterkundige en digter, Daniel Hugo, uitgewys as ’n sterk jong Afrikaanse digter wat hom hoop vir Afrikaans gee.

Brits is ook ’n liedjieskrywer en kunstefees-verhoogbestuurder en het van sy lirieke en melodieë tydens die digvertoning gedeel.

Jak J. Brits. Foto: Elize Parker

Hy het al stories begin neerpen vandat hy die eerste keer ’n biblioteek ontdek het.

Intussen het talle bundels al uit sy pen verskyn soos Woordspel: Heruitgawe. Ook op sy lys van publikasies is: As die see jou mis (Gedigte, 2014) ’n Vuisvol Draadwerk (Gedigte, 2017), en A Lonesome Flocking (gedigte en kortverhale, 2019).

Tydens die Poësië Apteek se digvertonings word gesprekke oor digters, die aard van digkuns gevoer en gedigte word voorgelees.

Van die Pretoria-pendokters wat reeds by sulke digvertonings opgetree het is Ané Kotze, bekend vir haar digtersonderneming, Kaalwoorde.

Kotzé het die visie gehad om haar woorde en gedagtes met die wêreld te deel en mense te wys dat hulle nie alleen is nie.

Sy het ’n groot aanhang op sosiale media en het al saam met van Suid-Afrika se bekendste akteurs en musikante saamgewerk om haar gedigte trefkrag te gee.

Brits se ideaal met die digvertonings sluit hierby aan. Hy het twee jaar gelede begin met ’n sosiale media bladsy waar digters van hul gedigte aan liefhebbers van die woord kon wys.

Die blad het gegroei tot bykans tien lewendige in-persoon byeenkomste van digters en ander taal- en skryfentrepreneurs. Dit word eersdaags met nog vertonings in Pretoria by verskeie teaters soos die Centurion-teater, die Wilge-teater en met huisvertonings voortgesit.

Beukes het as skilder eenkant gestalte gegee op ’n skilderdoek met akrielverf aan die krag van die woordspel tussen Brits, Meiring en die gehoor deur ’n skildery te skep oor die stemming wat die gedigte geskep het. Die skildery was na die tyd te koop aangebied.

Vir Beukes het haar reis met die uitbeelding van gedigte by wyse van “die prentjies wat ek in my kop sien” ook vroeg begin.

“As ek Leipoldt se gedigfrase ‘Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand’ gehoor het, het ek altyd dadelik aan jakarandas gedink,” vertel Beukes.

Woordkunstenaar Lizz Meiring was op haar komieklike beste.

Sy het vertel hoe sy as sesjarige in Pretoria moes hoor sy praat so baie dat haar tong gou deurgeslyt gaan wees.

“Ek het gereeld ’n klompie telefoonboeke opmekaar gesit en daarop gestaan en bevrees my tong se welstand ondersoek,” vertel die geliefde akteur bekend vir veral haar komiese rolle.

Meiring het verduidelik sy was maar bang om Engels te praat al was haar ma ’n taalonderwyser.

Dit was juis haar eerste kennismaking met die rympies in die bekende Dr Zeuss-boeke soos The Cat In The Hat wat haar ’n liefde vir rympies en gedigte gegee het.

By sulke digvertonings bly kontak met die gehoor en woordspeletjies ook nie uitgesluit nie.

Lizz Meiring

Meiring het loshande die kompetisie gewen, waartydens ’n tongknoperfrase opgesê moes word.

Die woorde van die rympie “geen gogga gil gretig gegrond op die feit dat dit groen geel is nie” het soos warm stroop van haar lippe gerol.

Vir Meiring verwoord digkuns “die diepte van ons siele”.

Sy het sielvol voorgelees uit ’n keur van veral ouer digters soos NP van Wyk Louw en Eugène Marais se werk wat met die natuur en veral die kleur groen, die tema van die aand, verband hou.

– Luister hier na Lizz Meiring gedurende die digvertoning:

https://www.facebook.com/reel/3924107061154048

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

Back to top button