Local newsNews

Vroedvrou met dagvaarding in spore gestuit

'n Privaat vervolgingseenheid se onrus dat 'n geskorste vroedvrou steeds met haar werk voortgaan en hul aanbod om ouers van twee kinders te help het nou daartoe bygedra dat sy strafregtelik vervolg gaan word.

’n Deregistreerde vroedvrou van Pretoria-oos wat in 2022 deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging geskors is, sal op 24 Julie in ’n magistraatshof in Pretoria verskyn.

Dit nadat ’n dagvaarding met tien klagtes deur ’n ondersoekbeampte van die Gautengse provinsiale kantoor vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdade op 24 Junie op haar beteken is.

Yolande Fouchee (voorheen Maritz) se regsverteenwoordiger, Nico Raubenheimer, het aan Rekord bevestig dat sy kliënt strafregtelik gedagvaar is.

Sy het na bewering na haar skorsing deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) in 2022 steeds voortgegaan om dienste te lewer.

Raubenheimer wou nie uitwei oor die aard van al die klagtes teen haar nie.

Geskorste vroedvrou, Yolande Fouchee (eertyds Maritz) tydens ‘n sonar ondersoek van Alysia von Kloeg alvorens Fouchee deur die SARV geskors is. Foto: AfriForum-webwerf

Sy is wel gedagvaar om onder meer op klagtes van aanranding in die hof te verskyn, volgens AfriForum se privaat vervolgingseenheid.

Woordvoerder Barry Bateman sê twee van die redes waarom Fouchee vervolg word, is dat sy na bewering medikasie aan verskeie swanger vroue toegedien het wat vermoedelik gelei het tot komplikasies tydens geboorte asook om sonder ’n lisensie as vroedvrou te praktiseer.

Die privaat vervolgingseenheid verteenwoordig Pretoria-ma Carien Möller (ma van Sophia) en Alysia von Kloëg (ma van wyle Noah) van Middelburg in Mpumalanga in hierdie saak.

Möller en Von Kloëg het onderskeidelik in 2020 en 2022 kriminele klagtes ingedien ná komplikasies tydens geboortes wat onder Fouchee/Maritz se toesig as vroedvrou plaasgevind het.

Hierdie komplikasies het gelei tot die dood van Von Kloëg se babaseuntjie nege dae ná sy geboorte en het Möller se vierjarige dogter met serebrale gestremdheid gelaat.

Die eenheid het deurlopend druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geplaas om die vervolging spoedig waar te neem.

“Vir ’n jaar en ’n half lank het die eenheid hulself daaraan toegewy om vir Carien en Alysia te ondersteun in hul soeke na geregtigheid en om te verseker dat Maritz aanspreeklik gehou word vir haar aksies,” sê Bateman.

Maritz is in 2021 deur die SARV skuldig bevind aan nalatige en onprofessionele gedrag en permanent gederegistreer as vroedvrou. Sy het teen die bevinding geappèlleer maar dit is van die hand gewys.

Die privaat vervolgingseenheid het in Januarie 2023 in gesprek getree met die NVG ná Möller en Von Kloëg hul kommer uitgespreek het oor die stadige vordering met die saak.

Bateman sê hy glo die betekening van ’n dagvaarding moes heelwat vroeër plaasgevind het.

“Ons het die vervolgingsgesag ingelig dat hul versuim om die vroedvrou te vervolg haar die geleentheid gegee het om voort te gaan met haar aktiwiteite en dat sy dalk nóg skade aan swanger vroue kan aanrig,” verduidelik Bateman.

Fouchee en haar man het na bewering ten spyte van haar skorsing weer op sosiale media begin adverteer onder die besigheidsnaam iBaby Mobile Ultrasound om tuisbevallings en swangerskap-sonars te doen.

Die Fouchee-egpaar het onder meer op Pretoria sosiale mediagroepe geadverteer deurdat haar eggenoot Paul statusse gedeel het. Hulle is ook vroeër vanjaar op heterdaad betrap deur TV-ondersoekprogram Carte Blanche op ’n plek waar sy sonar-skanderingsdienste gaan lewer het.

Vir Möller is dit moeilik om oor die aangeleentheid te praat.

Haar dogtertjie, Sophia, is serebraal gestrem na haar geboorte op 11 Julie 2019 en word oor twee weke vyf jaar oud.

Die SARV het bevind Fouchee het nie betyds mediese ingryping gevra tydens die bevalling nie en breinskade het ingetree.

Carien Möller en haar dogtertjie, Sophia. Foto: AfriForum se webwerf

Die krulkoppie verg deurlopende sorg as gevolg van haar gestremdheid.

“Dit is nou ’n tyd waar ons op belangriker dinge wil konsentreer. Ons konsentreer op die positiewe en die Here se seëninge,” sê Möller.

Sy het AfriForum in 2022 genader nadat ’n strafregtelike klagte reeds deur hulle in 2020 nog voor die SARV-tugverhoor ingedien is.

“Ons as gesin is verlig dat sy uiteindelik vervolg word. Ons is een stap nader aan geregtigheid. Ek het baie vrede in my hart wat ons reis aanbetref met Sophia en met die kriminele saak,” verduidelik Möller.

Sy glo dat “hierdie moes gebeur sodat dit nie met nog duisende ander kon gebeur het nie. Sophia het my roeping in die lewe vir my kom gee. Dit is nie altyd maklik of regverdig nie. Maar Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin’.”

Die waarnemende uitvoerende registrateur en bedryfshoof van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, Jeanneth Nxumalo, sê Fouchee is nie geskors nie maar van die Verpleegstersregister verwyder.

Dit beteken sy mag nie as verpleegster praktiseer nie en enige klagte of geval wat na hierdie verwydering aangemeld word, is ‘n kriminele klag en sal in terme van die kriminele reg hanteer word.

Paul Fouchee het met sosiale media statusse sy geskorste eggenoot se dienste as vroedvrou op sosiale media geadverteer in Mei 2023.

Nxumalo het aan Rekord bevestig geen klag is teen haar ingehandig sedert sy verwyder is nie en hulle het dus geen opvolgwerk gedoen nie.

“Om as ’n verpleegster of vroedvrou te praktiseer sonder om by die Vereniging geregistreer te wees, is in stryd met die Wet op Verpleging, 2005 (Wet Nr. 33 van 2005) en indien die Vereniging daarvan bewus word, kan ’n kriminele saak teen so ’n persoon geopen word,” verduidelik Nxumalo.

Artikels oor die geskorste vroedvrou in 2016 op die webwerf https://homebirth.org.za alvorens haar skorsing dui daarop dat die oud-Bloemfonteiner ’n ma van twee dogters is. Sy is op 19 Junie 2021 met Paul Fouchee getroud volgens haar sosiale media blad, https://www.facebook.com/profile.php?id=100080939313328.

– Kliek hier om meer te sien oor hoe die stryd teen Fouchee/Maritz momentum gekry het: https://www.facebook.com/AfriForumNasionaal/videos/2373230246177647

– Kliek hier om die Carte Blanche-program te sien oor hoe Fouchee (eertyds Maritz) op heterdaad betrap is:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

.

Back to top button