Local newsNews

Moot-vleisberoker vuur en vlam vir internasionale deelname

Nou gaan ons braai! Die Crimson Kings verteenwoordig Suid-Afrika eersdaags by ’n kompetisie vir berokers en braaiers waartydens hul aan ses verpligte afdelings moet deelneem.

’n Bobaas vleisberoker van die Moot is op pad om saam met drie ander spanlede van die Crimson Kings Suid-Afrika te verteenwoordig teen meer as ’n 100 ander spanne by die 2024 Wêreldbraaikampioenskappe in Stuttgart as vleisberokers en -braaiers.

Moot-inwoner Jacques Engelbrecht het op 6 Julie saam met spanmaat George Botha ’n proeflopie vir die kompetisie gehad toe hulle stalletjies met van hul beste produkte aan honger Mampoerfeesgangers by die Voortrekkermonument aangebied het.

George Botha

Benewens spanne van Duitsland, Oostenryk en Switserland, sal daar ook spanne deelneem van Latyns-Amerika. Die Interkontinentale Kampioenskap het verlede jaar in Costa Rica in November plaasgevind.

Crimson Kings-spanmaats, Gareth Daniel en Riaan Nel, is ook reeds besig om resepte vir die geleentheid uit te toets.

Die kompetisie is om die draai en sal by die Stuttgart-uitstallingsentrum op 27 en 28 Julie plaasvind.

Met beroking van vleis, vis of hoender word komplekse geure aan die produk gegee deur hout te verbrand.

Die kompetisie se deelnemers moet aan ses verpligte kategorieë deelneem: Beesvleis en bykos, varkvleis met been en bykos, varkvleis sonder been en bykos, hoender en bykos, vis en bykos en ’n plant-gebaseerde gereg.

Jacques Engelbrecht

Met spanne en beoordelaars van Italië, Chili, Costa Rica, Mexiko, Paraguy en vele meer, gaan die Crimson Kings al hul vernuf moet inspan.

Engelbrecht en Botha se stalletjies by die Mampoerfees was ’n fees vir die sintuie en diegene in rye wie se monde gewater het, was ’n goeie aanduiding dat hul stof in hul opponente se oë gaan skop.

Engelbrecht, wat ook bekend is vir sy bekende gerookte souse, verskeidenheid braai- en insmeersoute, glo aan ’n konstante, skoon houtvuur sowel as kwaliteitvleis wanneer dit by die beroking van vleis kom.

“’n Insmeersout gee ’n perfekte kors en is ’n moet vir biefrib,” glo Engelbrecht.

Die vraag met so ’n berokingsproses bly egter: Wanneer weet jy die vleis is reg?

“As jy weet, dan wéét jy,” sê Engelbrecht wat ernstig is oor die regte aroma en geur van vleis wat berook is.

Hy raai aan dat die regte hitte vir ’n spesifieke vleissoort gekies word. “En pas jou vuur op!”

Die span sal nie hul eie berokingsdrom kan saamneem nie as gevolg van in- en uitvoerreëls en kostes. Hulle sal moet staatmaak op toerusting wat verskaf word.

Botha glo weer tyd en geduld maak die verskil tussen kampioen gerookte vleis en die doodgewone berookte produk.

“Begin betyds en maak seker die vleis is reg voor jy dit bedien,” sê Botha.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button