Local newsNews

“Ons Plek” toegewy aan kinders se ontwikkeling

Dis ’n toevlugsoord vir byna 70 kinders, waar akademiese ondersteuning en persoonlike groei hand aan hand gaan.

Solidariteit Helpende Hand se “Ons Plek” in Derdepoort het ’n toevlugsoord geword vir byna 70 kinders van nege verskillende skole, waaronder drie van die skole aan spesiale behoeftes voorsien.

Hierdie toegewyde sentrum, onder leiding van die bestuurder, Elize Bezuidenhout, bied ’n omvattende middagsorgprogram wat beide akademiese en persoonlike groei koester.

Ons Plek is geleë op die terrein van die Gereformeerde Kerk Derdepoort. Tans het ons nagenoeg 70 kinders in ons sorg in die middae. Ons bied ’n gekookte middagete, koeldrank, huiswerkhulp, eksamen- en assesseringsvoorbereiding, ekstra klasse, wolkskool, ekstra vraestelle, en ook terapie wat deurslaggewend is vir die kinders se ontwikkeling,” verduidelik Bezuidenhout.

Die kinders kon aan hierdie perd vat en hom vryf terwyl hulle leer wat alles daarmee saamgaan om vir ‘n dier om te sien.

Behalwe vir akademie, is Ons Plek daartoe verbind om die kinders se lewens met verskeie aktiwiteite te verryk.

“Vakansie kapperjolle is altyd lekker by ons. Ons hekke maak al 07:00 oop en dan kry die kinders ontbyt. Ons bied ’n wonderlike opvoedkundige program aan wat fyn en groot motoriese vaardighede verbeter. Met die perde wat hier is, leer hulle meer oor hoe om vir ’n perd te sorg asook hoe om perd te ry. Dit is vir ons verskriklik belangrik om hierdie kinders se horisonne te verbreed,” verduidelik sy.

Die sentrum is geheel en al afhanklik van skenkings, en is dus besig om ’n putt-putt dag op 15 Augustus te reël om fondse in te samel.

Bezuidenhout doen ’n beroep op die publiek om bystand te lewer. “Ons soek graag ondersteuning om ons te help om ons dienste voort te sit en uit te brei.”

Karmien Buys, jeugorganiseerder van Helpende Hand sê, “Ons het ’n twee-dag vakansieprogram uitgewerk waar ons een dag perde gehad het wat deur die kinders besoek is sodat hulle bietjie meer van perde kan leer. Die tweede dag het ek ’n lekker hindernisbaan uitgewerk vir die kinders. Hulle het dit regtig baie geniet.”

Die kinders leer uit ’n demonstrasie oor wat dit behels om vir ‘n perd te sorg.

Ons Plek is meer as net ’n naskoolprogram; dit is ’n koesterende omgewing waar kinders die gereedskap en geleenthede gegee word om te floreer.

Die sentrum se holistiese benadering verseker dat elke kind nie net opvoedkundige ondersteuning ontvang nie, maar ook lewensvaardighede wat hulle op die langtermyn sal bevoordeel.

Vir meer inligting of om Ons Plek te ondersteun, kontak Elize Bezuidenhout per e-pos by elize@helpendehand.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button