News

Swanger Pretoria vrou met lepel verkrag

'n Swanger Pretoria vrou is met 'n lepel verkrag en ondanks bewyse het die NVG nog nie die verdagte van verkragting aangekla nie.

In ‘n skokkende gebeurtenis is ‘n swanger Pretoria vrou met ‘n lepel verkrag en ondanks bewyse het die Nasionale
Vervolgingsgesag (NVG) nog nie die verdagte van verkragting aangekla nie.

Volgens AfriForum se privaatvervolgingseenheid ignoreer aanklaers by die Pretoria-Noord-landdroshof hul versoek dat die saak na die streekhof oorgeplaas moet word en dat die verdagte van hierdie ernstige seksuele oortreding aangekla moet word.

Felicia Mkondo, die klaagster in hierdie saak, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader nadat die aanklaer in die saak haar glo sleg behandel het.

Mkondo het toestemming gegee dat haar identiteit bekend gemaak word.

Nie net is sy aan sekondêre trauma blootgestel nie maar het daar belangrike bewyse uit die dossier verdwyn.

Lees ook: Moedelose Lyttelton-inwoners deur Openbare Beskermer na stadsbestuurder weggewy

“Ek was seksueel en fisiek mishandel. Ek het foto’s gehad, ek het bewyse, maar elke dag as ek hof toe gekom het, was die bewyse nie daar nie. Die foto’s was elke keer weg.”

Sy was boonop hoog swanger toe die beweerde mishandeling plaasgevind het.

Die beskuldigde is reeds vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en seksuele teistering aangekla, maar nie van verkragting nie.

Woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Barry Bateman, sê die oortredings teen Mkondo het tussen Februarie 2020 en Desember 2022 plaasgevind.

Die klaagster en beskuldigde was in ’n romantiese verhouding.

“Die privaatvervolgingseenheid het in ’n skrywe aan die NVG gesê dat die beskuldigde die klaagster in hierdie tyd na bewering onderwerp het aan fisieke en seksuele geweld.

“’n Eetlepel is na bewering by haar private dele ingesteek, wat tot geweldige bloeding gelei het terwyl sy hoog swanger was. Voorts het hy haar ook na bewering geklap, geslaan, gewurg en haar teen mure vasgegooi.”

Volgens Bateman het die eenheid al twee skrywes aan die senior staatsaanklaer gerig om te pleit dat verkragting ook by die beskuldigde se lys oortredings gevoeg word aangesien daar meer as genoeg bewyse is om dié klag te staaf.

“Albei briewe is onbeantwoord gelaat en daarom is twee harde kopieë van die briewe Donderdagoggend by die hof aan die aanklaer oorhandig.” Volgens Bateman laat die NVG vroulike slagoffers van misdaad in die steek.

“Die wyse waarop slagoffers deur aanklaers behandel word, is ver verwyderd van die hewige beloftes wat deur die NVG-leierskap gemaak word, mense wat geen benul het van die werklikhede wat in die howe ervaar word nie.”

Bateman sê so lank as wat aanklaers versuim om met klaagsters te kommunikeer, hulle met minagting behandel, en hulle behoeftes ignoreer, sal misdadigers op vrye voet bly.

“Die privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te help en te verseker dat aanklaers hulle werk doen,” sê Bateman.

Die saak is tot 1 Augustus vir verhoor uitgestel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button