Laerskool neem afskeid van geliefde onderwyseres na 40 jaar se diens

Laerskool Eben Swemmer het onlangs die merkwaardige loopbaan gevier van juffrou Mandy Nel, 'n toegewyde onderwyseres wat na 'n glorieryke 40 jaar diens aftree.

Laerskool Eben Swemmer het onlangs die loopbaan van juffrou Mandy Nel, ’n toegewyde onderwyseres wat na ’n roemryke 40 jaar diens uitgetree het, gevier.

Die skoolgemeenskap het op 13 Junie bymekaargekom om dié Afrikaanse juffrou se toewyding en bydraes te eer tydens ’n hartlike afskeidsfunksie wat by die skool gehou is.

“Sy het ’n groot liefde vir die tale net soos wat sy het vir die kinders en die personeel,” sê Robert Swart, onderwyser en goeie vriend van Nel. “Sy het regtig ’n passie daarvoor.

Juffrou Mandy Nel tree na 40 jaar af.

“Mandy het haar onderwysloopbaan in 1982 begin, waar sy kort daarna, in 1991, by Laerskool Eben Swemmer begin skool gee het,” sê Swart.

Die graad 7-leerders het almal een vir een afskeid geneem van hul juffrou. “Hule het almal in ’n lang ry gestaan en elkeen vir haar ’n blom gegee. Haar gunstelingmusiek het ook gespeel terwyl die kinders haar gegroet het,” vertel Swart.

Nel meen dat sy die kinders gaan mis. “Ek gaan verseker die kinders se vriendelike gesiggies mis, maar ook die ekstra myl wat ek ingesit het in die voorbereiding om van ’n gewone les, ’n uitsonderlike, verstaanbare les, vir die leerders te maak.”

Nel, wat bekend is vir haar passie vir onderrig, was instrumenteel in die vorming van die gedagtes en harte van jong leerders, deur ’n liefde vir kennis en ’n sterk morele grondslag by hulle te vestig.

Die afskeidsfunksie, wat deur haar gesin, huidige en oudonderwysers en beheerliggaamlede bygewoon is, is ’n bewys van die hoë aansien waarin Nel gehuldig word.

“Ek voel dankbaar vir genade en gesondheid wat die Here my gegee het om my passie vir 40 jaar te kon uitleef. My reis as onderwyseres is dalk nou verby, maar ek glo dat al die mooi herinneringe my die res van my lewe sal bybly,” sê Nel.

Die afskeidsfunksie het toesprake sowel as ’n video gehad wat haar tyd as onderwyseres ten toon gestel het en ook talle onvergeetlike oomblikke deur haar loopbaan beklemtoon het.

Skoolhoof, Annah Mangwathe, het in haar toespraak vir Nel geloof vir haar onwrikbare toewyding en besonderse onderrigvaardighede.

“Nel was ’n inspirasie vir ons almal. Haar toewyding aan haar studente en haar passie vir onderwys het ’n diepgaande impak op ons skoolgemeenskap gemaak. Ons is dankbaar vir haar jare se diens en wens haar alle sterkte toe in haar pad vorentoe.”

Terwyl Nel haar aftrede begin, sien sy daarna uit om meer tyd saam met haar gesin deur te bring en die wêreld te gaan sien. “Ons is bevoorreg om vir ons ’n karavaan te kon koop en as dit die wil van die Here is, gaan ek en my man in ons pragtige land rondtoer.”

Nel deel graag ’n bietjie raad aan nuwe of jong onderwysers. “Om ’n graad of vak vir die eerste keer aan te bied word baie foute gemaak – leer uit jou foute, onthou altyd om na die leerders se vlak te daal en beplan die volgende les altyd met jou ‘gehoor’ as fokuspunt.”

Sy het ook haar dankbaarheid uitgespreek aan almal wat die geleentheid bygewoon het. “Dit was ’n pragtige afskeidsfunksie en ek waardeer die moeite wat gedoen is terdeë. Al die lofprysing het vir my onwerklik gevoel en amper asof dit my nie toekom nie, maar die opregtheid van hul woorde en dade sal my altyd bybly.”

“Sy is bly om te gaan maar sy is hartseer om afskeid te neem,” sluit Swart af.

LEES: Haarkapper breek wêreldrekord om kinders in nood te ondersteun

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version