Vadersdag: Sanger neem ‘n blaaskans met kroos

Vir die sanger oorspronklik van die Moot is 'n dag in die parkie in sy Pretoria-ooskompleks soos 'n blaaskans in sy besige program en 'n behoorlike bederf.

Hy is ’n TV-aanbieder, sanger, stem- en woordkunstenaar, maar veral ook pa met ’n vonkel in sy oog wanneer hy met Kara-May, Alaya en Loah kan kuier.

Dit is die grappige Leon Gropp van Pretoria-oos wanneer hy saam met die driestuks in die parkies van hul woonkompleks skoppelmaai speel en geduldig verduidelik hoe dinge werk. Vir die besige oudleerder van Hoërskool Wonderboom is dit ’n broodnodige verposing.

Hier kan hy ook uitspan saam met vroulief Martelize en die drietjies in die knus huis tussen die herfsbome waar fonteine murmel en duiwe koer.

Voor: Kleinboet Loah en Leon Gropp Agter: Ousus Kara-May en kleinsus Alaya

Pure bederf vir ’n bedrywige pa wat sy draai tussen mikrofone moet ken, die van sanger en TV-aanbieder.

Die oase is wêrelde verwyder van die besige media- en musiekbedryf waar hy sy brood en botter moet verdien.

Hierdie Ontbytsake-aanbieder staan boonop ook in as beskermheer van die Jakaranda- en Louis Botha Kinderhuis vir die welsyn van vele en neem hierdie verantwoordelikheid ernstig op.

Gropp is al ’n aantal jare by die kinderhuis betrokke en het verlede jaar die jaarlikse Liggiefees amptelik op die terrein by Jakaranda Kinderhuis geopen.

Sy veelsydigheid en vernuftige denke maak van Gropp nie net ’n pa met ’n plan nie, maar ook een van Pretoria se vernuwende kunstenaars.

 

Voor: Kara-May en Leon Gropp; Agter: Loah en Alaya

Hy het op 25 Mei sy nuutste enkelsnit vrygestel met die titel “Moot Tot Die Dood”.

Musikant Christiaan Baartman las in die liedjie ’n skerp en spitsvondige kletsrymgedeelte by.

Soos die titel voorstel, is dit ’n tong-in-die-kies ode aan die enigmatiese area in Pretoria waar Leon groot geword het.

Die lied het beslis ’n lekkerluistergevoel, met ’n koorgedeelte wat ’n sterk kommersiële inslag neem, om dit vir almal genotvol te maak.

LEES: Celebrate fathers at these weekend events

“Die gedagte is beslis om die Moot in ’n positiewe lig te wys, as ’n onopgesmukte plek met wonderlike mense,” verduidelik Gropp.

Vir hom is die Moot immers (soos die lied tereg sê) “…nie ’n plek op ’n kaart nie, dis ’n plek in jou hart”.

Menige Moot-inwoner is in hul noppies met die ode aan hul buurt.

Lientjie Steenkamp sê: “Maak my sommer van voor af trots om gebore Mooter te wees”.

Izanda Ferreira meen hy vat die Moot ráák: “Mag jou liedjie sommer ’n super-treffer wees!”

LEES: Kinders leer van veiligheid by insiggewende sessie

– Luister en kyk hier na die liedjie:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version