BusinessLocal newsNews

Begroting van R50.6-miljard lyk belowend vir Moot-gemeenskap

Volgens ’n lid van die VF+, sal die Moot voordeel trek uit die nuwe begroting.

Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys het op 4 Junie ’n totale begroting van R50.60-miljard bekend gestel.

Die begroting bestaan uit ’n bedryfsbegroting van R48.3-miljard en ’n kapitaalinfrastruktuur-beleggingsbegroting van R2.3- miljard vir die 2024/25-boekjaar. Die begroting is deur die metro bekragtig.

Uys meen dat die voorgestelde verhogings in tariewe in vergelyking met dié wat deur ander metro’s ingestel is, die redelikste in die land is.

“In Tshwane het ons oor die algemeen van die mees bekostigbare tariewe en heffings van al die verskillende metro-rade,” meen Juanita du Plessis, voorsitter van die Artikel 79 Komitee vir Reëls en Etiek.

“Ons besef egter dat in die huidige moeilike ekonomiese klimaat en al die addisionele finansiële druk wat ons inwoners tans beleef, dat dit moeilik is om by alle uitgawes en verpligtinge uit te kom. Ons het dus bitter hard gewerk daaraan om die tariewe so laag as moontlik te hou, waar dit binne ons vermoë is,” sê Du Plessis.

Awie Erasmus, voorsitter van die finansieskomitee van die VF+, meen dat die Moot voordeel sal trek uit die nuwe begroting. “Alhoewel die volle bedrae nie slegs vir die Moot is nie, sal die Moot wel baatvind by die algemene toedeling van fondse.

Hy lig veral die volgende bedrae uit:

– R177-miljoen vir die onderhoud van die elektrisiteitsnetwerk.

– R25.5-miljoen vir nuwe straatligte en die vervanging van bestaande ligte met sonkragligte.

– R50.8-miljoen vir die herstel van slaggate.

Die VF+ het ook verskeie voorstelle gemaak waarvan een is dat daar ’n fluitjieblasereenheid daargestel word, met genoegsame befondsing.

Die party het inwoners bedank wat vir die metro bid. “Hou asseblief aan bid vir die herstel van die stad,” sê Erasmus.

Die VF+ het ook heelwat insette gelewer rakende die begroting. “Ons stel voor dat pensioenarisse groter afslag op eiendomsbelasting ontvang en dat hulle slegs elke drie jaar aansoek hoef te doen vir die afslag in stede van elke jaar wat administratiewe vertragings tot gevolg het.”

Uys wys daarop dat die tariefverhogings in lyn is met inflasie met 5.9% vir water en sanitasie, 5% vir vullisverwydering, en 5% vir eiendomsbelasting.

Sy meen dat die begroting ook voorsiening maak vir salarisverhogings van 5.1% vir werknemers en 5% vir raadslede.

“Ons het moeilike jare van geen inkremente gehad nie en dit sal ’n bietjie verligting vir almal bied. Die stad waardeer sy arbeidsmag. Ons het hardwerkende amptenare in hierdie stad wat elke sent werd is wat hulle verdien,” sê sy.

Sy voeg egter by dat alle werknemers moet aanhou werk om te help met die finansiële redding van die stad.

Die begroting het ’n paar kernprioriteite om inwoners en belastingbetalers in moeilike tye te help.

Die stryd teen werkloosheid het ’n verhoging van R18.5-miljoen ontvang vir die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP)-inisiatiewe en ander ondersteuningsdienste, insluitend R2.5-miljoen vir vroeë kinderontwikkelingsentrums.

Die begroting word ook geprioritiseer om inkomste-invorderingsbedrywighede ten volle moontlik te maak. Dit maak voorsiening vir R75-miljoen vir die uitrol van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters, R91.9-miljoen vir kredietbeheerbedrywighede en R3-miljoen vir tenderrekeninge op WhatsApp.

Vir Uys is ’n belangrike kenmerk dat stappe gedoen word om die belofte van die burgemeester dat voorsiening gemaak moet word om substasiebrande hok te slaan, na te kom.

Hierdie begroting bewillig R20-miljoen aan batteryspanningsbeskerming (surge protection) by substasies en R177-miljoen aan elektrisiteitsnetwerk-onderhoudsmateriaal.

“Die begroting lyk alles goed,” sê Moot-inwoner Piet Venter. Hy vra egter vrae rakende sanitasie en sonkrag. “Wat van sanitasie? Gaan die stadsraad kyk na die inskakeling van huishoudelike sonkrag?

Uys sê: “Wanneer straatligte snags aan is, verteenwoordig dit ’n stad wat werk. Om hierdie rede het ons R24-5 miljoen bewillig vir die Tshwane Openbare Beligtingsprogram om nuwe straatligte te installeer. Ons het ook ’n verbintenis gemaak om 30% hiervan te gebruik om huidige infrastruktuur met sonkragoplossings te vervang om vandalisme te oorkom en koste op elektrisiteitsaankope te verminder.”.

Die departement van water en sanitasie word ongeveer R536-miljoen vir die 2024/25-boekjaar toegeken.

Uys verduidelik dat baie werk gedoen word om die lewensduur en kwaliteit van paaie in verskillende gebiede te verbeter.

’n Totaal van R218- miljoen sal aan vervoerinfrastruktuur toegewys word.

Uys sê dat R111.2-miljoen sal gaan vir die opruiming van onwettige storting en R30.8-miljoen vir die huur van gespesialiseerde toerusting om te help met die poging.

Altesaam R3.4-miljard sal na die Tshwane-metropolisie departement gaan om wetstoepassers te bemagtig om hul mandaat na te kom.

Meer as R1-miljard sal na die nooddienste-afdeling gaan om voort te gaan om lewensreddingsdienste te lewer en om die departement se kapasiteit te versterk om doeltreffend op noodgevalle te reageer.

Uys sluit af deur te sê dat die begroting steeds ’n tekort van R4-miljard van vorige jare dra, wat veroorsaak is toe die stad onwettig onder administrasie geplaas is.

“Terwyl dit nie onder ons toesig gebeur het nie, is dit die verbintenis van die politieke leierskap om dit te oorkom en die stad terug te bring na finansiële gesondheid,” sê sy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button