Local newsNews

Nuwe Slothuis-wandelpad ingewy deur Moot-fikses

‘n Nuwe wandelpad laat die Moot-gemeenskap moed en hoop skep.

Meer as ’n 100+ drawwers en stappers het opening van die 610m-lange sirkelwandelpad by die Moot Slothuis Park Suidspruit in Codoniastraat bygewoon.

Die deelnemers het ywerig in die pad geval nadat die openingslint na die pad deur Dewald Burger geknip is.

Burger het onder die leiding van die stigters van die Moot-projek, Johan Oberholster en Hennie Mostert, die wandelpadprojek aangepak om ’n oppervlak te skep waarop drawwers, stappers en diegene met ’n hond wil wandel, veilig en gemaklik kan stap.

Lede van stapklubs in die omgewing, leerders en gesinne plus ’n hele paar honde het reeds skuins na 08:00 saam met burgemeester, Cilliers Brink en stads- en dorpshervormer, Bernard la Grange, vyf keer rondom die wandelsirkelpad gestap om ’n medalje te verwerf.

Brink het die stigters, borge en gemeenskapslede gehuldig in ’n kort toespraak.

“Werklike helde bepleit eienaarskap deur gemeenskappe van openbare terreine. Dit is die nuwe manier om gesag uit te oefen. Met vennootskappe tussen vlakke van regering en inkoop van gemeenskappe, kan ons dorpe en stede red,” glo Brink.

Hy meen indien die voorbeeld van die Moot-projek gevolg word, kan Pretoria en die res van die land vervalle dele van buurte vir gemeenskappe red en terugneem.

“Dit gaan daaroor om positiewe energie los te laat in elke hoek van die stad en beter lewensomstandighede vir elke burger te skep,” benadruk Brink.

La Grange, wat een van die land se voorstanders van selfdoenprojekte deur gemeenskappe is, sê hy volg die Moot-projek se projekte, insluitend die sirkelwandelpad, al ’n geruime tyd.

“Die projek se leiers het gewys waar politieke wil ontbreek, kan gemeenskapswil inskop,” sê La Grange.

Hy staan aan die hoof van die inisiatief, Dialoog Vir Aksie, wat versoening in gemeenskappe en omgewingsverbetering in dorpe en stede voorstaan.

Hy sê die Moot-projek staan apart van die talle ander sulke selfdoenprojekte deurdat die leiers hande neem met die stadsregering en planne volgens ooreenkomste uitvoer.

“Wat hier in die Moot is, het ek nog nie op ander plekke gesien nie. Dit is ’n voorbeeld vir Suid-Afrika,” sê La Grange.

LEES: JV-roman oor ongebreidelde ambisie nie altyd oortuigend nie

Die projekstigter Oberholster het die vier ambassadeurs vir die projek aangekondig: Cilliers Brink, Barend la Grange, Elsie Weich en Dewald Burger.

Oberholster sê die wandelpad is een van die talle inisiatiewe van die Moot-projek om hul omgewing op die pad van vooruitgang te plaas.

“Die geweldige sukses wat reeds bereik is met hierdie inisiatief se projekte is ’n bewys dat nie net ’n dorp nie, maar dat ’n gebied binne ’n groter metro, ook met gemeenskapsbetrokkenheid suksesvol en volhoubaar vernuwe kan word,” benadruk hy.

Jaco den Oudsten sê lede van sy stapklub was gewillig en geesdriftig om die openingsoggend in te val en te wys hoe die wandelpad gebruik kan word.

“Ons lede het altyd nog een stapplek nodig en nou het ons nog een gevind. Die stapklub het gegroei en die park is ruim om almal gerieflik en gemaklik te laat stap,” verduidelik Den Oudsten.

Pryse is na die voltooiing van die roete aan stappers en drawwers uitgedeel met die 72-jarige Annemarie du Plessis wat die prys as die mees inspirerende stapper verwerf het. Du Plessis het die wandelpad op krukke voltooi.

Vir meer inligting besoek die webtuiste www.diemootprojek.co.za

Lees: Boerboeltannie op pensioen laat gehoor skater

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button