Local newsNews

Moot-potjiemeesters se vinnig-pruttende pot ‘n wenner

Elke potjiekoskok het sy geheime bestanddeel, maar by die onlangse potjiekoskompetisie in die Moot blyk dit dat hierdie bestanddeel dalk dieselfde by vele kan wees.

Die Moot se potjiekosmeesters is ’n onervare span rekenmeesters en regsadviseurs wat deur meer ervare potjiekosdeelnemers aan ’n kompetisie gespot is omdat die span ’n “maklike” potjie gekies het.

So sê die leier van die Minute-To-Winnit-span, Charl Moonstone, so tong-in-die-kies.

Hy het saam met spanmaats Gita Hancke en Schalk Burger die organisasie sonder winsbejag, YANA, se potjiekoskompetisie op 8 Junie by Toutrekpark gewen.

YANA staan vir You are Never Alone en is die Pretoria Association for persons with Schizophrenia se uitvoerende arm.

Die Minute-To-Winnit-span het stof in die oë van tien ander deelnemende spanne geskop en met pryse soos geskenkbewyse, ’n bottel wyn en ’n kampstoel weggestap.

Van die ander potte wat geprut het terwyl musikante van blues-band Levina musiek gemaak het, sluit ’n Meksikaanse bief-, lamskerrie- en beesstertpotjie in.

Moonstone glo deel van hul sukses was hul spanlid, Burger, se skoonpa se resep vir die biltongpotjie.

Hy wil nie te veel van die suksesresep weggee nie behalwe dat geelvetbiltong uit hierdie skoonpa se slaghuis of van ’n biltongkaravaan op Garsfonteinweg, dalk veel daarmee te make het.

“Ek kan maar net sê met kaas in ’n potjie, is dit soos poeding vir grootmense,” vertel Moonstone.

Hy verduidelik dat hul werkmetode dalk veel tot die sukses van die potjie bygedra het.

“Ons het die nommer drie pot gebruik en die pasta so halfgaar gekook en toe uitgeskep. Daarna het ons die gekerfde biltong in lae gepak met die kaas saam met knoffel sowel as peperrissies en dit net so 20 minute laat prut. Daarna het ons die pasta en die room bygeroer en weer die deksel opgesit net vir ’n rukkie,” vertel Moonstone.

Rondom hierdie span se kookarea het vele ander potte geprut met kundiges se geheime bestanddele netjies weggesteek onder veelkleurige vadoeke op die opslaantafels.

Dit wou egter blyk dat een soort sous ’n deurslaggewende bestanddeel by talle potte was – Worcestersous!

“Dis die souterige ansjovissies daarin,” meen Jacques Fuller wat saam met wederhelfte Annemarie ’n beesstertpotjie op die kole gehad het.

LEES: Nuwe Slothuis-wandelpad ingewy deur Moot-fikses

Musikant Illimar Neitz van Lavina sê die orkes ondersteun gereeld vir YANA deur by hul fondsinsamelingsgeleenthede op te tree.

“Ons glo aan gemeenskapsuitreike. Dis ons manier om lewens aan te raak. Met geestesgesondheid voel ons die aspek van welsyn word soms afgeskeep met ondersteuning. Dit lê ons weer na aan die hart. Ons help graag die YANA-inwoners want hulle is gasvrye mense wat ons tuis laat voel,” sê Neitz.

Die drie beoordelaars van Reef Catering – Jean-Mari Bester, Terry Chapman en Isaac Bosoga – het die biltongpotjie aangewys as die wenner “omdat dit in alle opsigte gebalanseerd was”.

Hulle het in die algemeen aan die hand gedoen dat die aartappels in ’n potjie nie oorgekook moet wees nie en nie die tekstuur van kapokaartappels moet aanneem nie. Speserye moet nie ’n gebrande smaak hê nie en eerder voor die tyd saam met uie gebraai moet word.

Die YANA-organiseerder van die kompetisie, Linda Prinsloo, sê die organisasie maak voorsiening vir persone gediagnoseer met skisofrenie in groepshuise en met rehabilitasieprogramme sedert 1984. Die eerste huis vir mans is in 1993 gevestig en gevolg deur ’n tweede huis in 1996. Die huis vir dames is in 2000 gevestig en in 2007 is die huisvesting verder met twee huise uitgebrei.

Skisofrenie is ’n geestestoestand wat ’n individu se vermoë om te dink, te voel en gepas op te tree, beïnvloed.

Wenke van die Moot-potjiekoskokke:

– Voor jy begin om die potjie te pak, pak ’n paar stukke spek onder in en maak goed warm op vuur. Laat die vet uitbraai, smeer die kante goed daarmee met ’n kwassie en skep die spek uit. Plaas ’n klontjie botter onder in die pot voor dit gepak word.

– Sorg dat jou implemente reg is: Lang opskeplepels, ’n lang en sterk stok om die pot van die kole af te lig en dik vatlappe om die deksel af en toe te lig.

– Indien jy knoffel in die potjie gebruik, smoor die toontjie van die knoffel vooraf vir ’n intense smaak eerder as om dit te braai. Braai wel jou droë speserye soos wonderpeper en naeltjies vooraf in olie voordat jy dit met die vloeistof by die potjie se bestanddele voeg.

– Gooi so deur die geprut langs die kant van die potjie die vloeistof bietjie-bietjie en sorg dat dit nie koue vloeistof is nie maar wel louwarm.

– Groente wat die langste neem om gaar te word moet bo-op die vleis gepak word. Die groente wat die maklikste gaar word moet heelbo in die potjie gepak word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button