Local newsNews

JV-roman oor ongebreidelde ambisie nie altyd oortuigend nie

'n Afrikaanse JV-roman oor Olimpiese swemmers skiet tekort aan sommige van die kriteria van die gewilde genre.

’n Voormalige Pretorianer wat destyds vir Tukkies geswem het en by die einste universiteit se regsfakulteit klas gegee het, het onlangs ’n boektoer in Pretoria gedoen om haar boek vir jong volwassenes, Olifant op ’n Sweefstok, bekend te stel.

Skrywer Lelanie Roode (54) het ook ’n honneursgraad in kriminologie.

Die boek gee die oud-swemmer se blik op die mededingende wêreld van Olimpiese swemtoernooie, die emosies wat daarmee gepaard gaan en die lewenstyl van swemmers. Roode rig steeds swemmers af in Stellenbosch.

Op die agterblad is daar ’n waarskuwing dat die boek ’n aksie-roman is vir almal bo 16 jaar.

Die roman val in die JV-genre (Jong Volwassenes), oftewel Young Adult fiksie-kategorie, in Engels.

Hierdie genre word verdeel in ouer tieners (14 tot 16), jong volwassenes (16 tot 18) en nuwe volwassenes (19-plus) wat jou studente en jong werkendes insluit.

Olifant op ’n sweefstok pas by die laasgenoemde indeling in.

Die genre is deesdae so gewild dat verkope wêreldwyd in vele tale al meer as 35 miljoen eksemplare per jaar beloop.

Vele van hierdie Engelse titels, soos Suzanne Collins se distopiese Hunger Games-trilogie, die Twilight-reeks deur Stephenie Meyer en Divergent-reeks deur Veronica Roth het tieners aan die lees gekry en as jong volwassenes aan die lees gehou.

Binne die JV-genre is daar natuurlik nog subgenres soos romanse, fantasie, wetenskap- en avontuurfiksie.

Vier top JV-skrywers in Afrikaans is Jaco Jacobs, Anzil Kulsen, Hannes Barnard en Fanie Viljoen.

Olifant op ’n sweefstok deur Roode voldoen aan die vereistes van die genre deurdat haar verhaal kan resoneer met die unieke ervarings en uitdagings wat adolessente en jong werkende volwassenes en studente in die gesig staar.

Hierdie romans ondersoek dikwels temas van identiteit, selfontdekking en die oorgang na volwassenheid, en verskaf aan lesers herkenbare verhaallyne wat hul eie lewensreise weerspieël.

In hierdie roman is daar ook verraad tussen vriende en ’n fokus op die rol van gebroke ouers in jong volwassenes se lewens waarmee vele tieners en jong volwassenes dalk mee kan identifiseer.

Lelanie Roode.

In Roode se roman is die drie hoofkarakters Martinette, Kyle en Luke plus newe-karakters wat in liefdesdriehoeke, asook liefdesvierhoeke beland.

Alhoewel verhaallyne en intriges deurmekaar weef en daar nie ’n sentrale fokus in die verhaal is nie, draai die verhaal veral rondom die liefdesverwarring en vuurwarmhormone wat tot misverstande en gekruiste lyne op hierdie brose ouderdomme lei.

Voeg in hierdie romantiese skemerkelkie van skrapse swembroeke en half-kaal bo-lywe, die krag van ’n sosiale media-geboelie, koerante wat mense se lewe nadelig met sensasionele beriggewing kan beïnvloed en loopbane van sporthelde kan benadeel, sowel as ’n held met ’n geheim, en jy het ’n snelle maar verwarrende verweefdheid.

Sit hierby ’n blik op die gebruik van ketamien, die afspraakverkragtingsdwelm, en jy begin terugblaai om storielyne te volg en nie te verloor nie.

Een van die stylelemente van die genre wat in Roode se boek ontbreek, is spitsvondige humor wat met die lief en leed van ons tienertydsgees verbind word en veral ten opsigte van tussenteksverwysings oor populêre kultuur, deur ander JV-skrywers gebruik word.

’n Positiewe aspek is die gebruik en weergee van WhatsApps en hoe die manier van kommunikasies met emotikone en al, ook tot verdere liefdesverwarring kan lei.

Stereotipes is ’n kenmerk van die boek met Victor Ludorums, mediese studente, gebroke ouers, helde in uniform en buitelandse swemafrigters as newe- en hoofkarakters.

Daar is nie ’n rebel in sig nie.

Moontlik is ons met hierdie gehoor verby die era waar ons net skryf oor meisies sonder selfgelding of agentskap wat ten spyte van drywende ambisie steeds net op verhoudings fokus.

As dit ’n aksieroman is, soos die beskrywing op die agterblad, fokus op die aksie, en daarby word nie die verhoudingsaksie tussen helde en heldinne bedoel nie.

Die omslag en titel skep stroomlyn nie met die stoomaspek van die liefdestonele in die roman nie en moontlik sal die boek meer lesers trek indien ’n meer romantiese titel en voorblad die ware inhoud (JV-romantiese fiksie) weerspieël het.

Tonele wat geloofwaardig is, is die swemtonele en die uitbeelding van die ware wenners en verloorders in die sport.

Plekbeskrywings soos die omskrywing van Simonstad, word in goeie detail beskryf sowel as die Olympic Village en hoe so ’n ruimte tydens die Spele funksioneer.

Lastige stylelemente steur soos perspektiefwisselings van karakters in ’n hoofstuk. Die teks kan ook deur die werk van ’n knap en pedantiese teksredakteur verbeter gewees het wat opmaakwoorde soos skrams-toevallig en vassmelt-staar dalk meer sou omskryf.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

Back to top button