Local newsNews

Boerboeltannie op pensioen laat gehoor skater

Die kuns om 'n Afrikaanse gehoor in die palm van jou hand as komediant te hou, is 'n vaardigheid waaroor die spitsvondige en woordvaardige Matie van Graan beskik.

Die bekende TV-advertensiemodel, veral bekend vir haar optredes in die klere-advertensies van Boerboel, Matie van Graan het met haar eerste lewendige optrede as komediant op 31 Mei in die Centurion-teater die gehoor uit haar hand laat eet.

Sy het hulle met ’n mengsel van eie staaltjies oor haar lewe, opmerkings oor die onlangse verkiesing en haar eiesoortige mengsel van mense, plekke en aksente vermaak.

Van Graan het die rol van plattelandse tante en almal se liefling sowat twee jaar gelede totsiens gewuif, maar haar humorsin het in haar lewe as advertensie-akteur en seremoniemeester behoue gebly.

Die goue draad wat deur die uur lange vertoning met ’n bobaas storieverteller se hand geweef is, is die geleenthede en poste in haar loopbaan waar sy uniforms met ’n kakiekleurige voorkoms moes dra. Soos toe sy ’n veldgids was, asook toe sy vir die Departement van Waterwese gewerk het.

Die vertoning dra dan ook die gepaste naam Ons prati khaki, ons dra dit. Van Graan verskyn op die verhoog in ’n fleurige uitrusting in dié kleur en met verskeie rekwisiete wat van ’n vrugbare inkopietog na ’n snuffelwinkel getuig. Sy wys die nie-waardevolle artikels soos ’n plastiese naaimasjientjie en ’n diskobal-drinkglas aan die gehoor tydens die vertoning uit.

Hierdie kakie-tema werk goed vir veral die sterker persoonlike aanslag van verhale uit haar lewe waar sy of ’n poets gebak is (sy word as veldgids die slagoffer van ’n ervare kollega wat haar op die spoor van ’n geveerde pylstert-likkewaanvanger plaas). Of self ’n poets gebak het (toe sy die nut van die gebruik van gekookte eiers in ’n kantooropset teen lastige kollegas besef het).

Van Graan is ’n storieverteller in die TV-program Spies-en-Plessis-formaat. Die humor is nie bloot in die verhaal se storielyn nie, maar ook in hoé die storie vertel word.

Afrikaans word gerek en geplooi om veral ongewone woorde nuwe lewe te gee. “Kooikategese” en “skeletklets” staan as nuutskeppings uit.

Van Graan het weggespring deur die gehoor skertsend te waarsku sou hul selfone lui, beantwoord sy graag die fone namens hulle.

Daarna het sy gou die temas aangespreek wat normaalweg Afrikaanse gehore aan die giggel kry: Vals tande, slaapkamerstories en verkeersbeamptes.

Haar woordkuns is nie beperk nie en veral haar vergelykings steek nogals in jou kop vas: “So groot soos ’n dubbeldeuryskas” of “suip soos ’n rioolplaas.” En ’n beskrywing van ’n ouer man: “Hy staan op soos ’n vlag wat gehys word.”

Toe Van Graan se gehoor eers begin skater het, was hulle in die luim vir lag en sy het nie teleurgestel nie. Sy vermaak met sketse rondom haar pa se besoek aan ’n bende Hells Angels, haar jeugervarings in Kemptonpark se skole toe sy vir ’n filmtoets gegaan het en haar kortstondige werkstydperk as ’n skakelbordoperateur.

Maar moenie hierdie intelligente komediant met haar fyn waarnemings en mensekennis onderskat nie.
Deurgaans is daar ’n lewensrypheid en wysheid waarop die gehoor goed reageer het. So verwys sy na ’n moontlik bedenklike motorfietsbende wat “liefdevolle mense is wat nou slegte tye ervaar”.

Matie van Graan

Haar namaak van ander stemme, soos dié van ’n Britse personeelbestuurder, is vol in die kol sowel as die aksent van Namakwalanders.

Sy het, soos ’n waarlik begaafde komediant, ’n oor vir plaaslike dialoog en aksente.

Haar lyftaal is bedrewe tydens vertellings en sy sê veel met die lig van ’n wenkbrou en ’n kop wat skeefgehou word.

Van Graan kan dalk net nog beter rapport met haar gehoor bewerkstellig deur meer van die volle verhoog gebruik te maak.

Dit is egter by die ontplooiing van haar spontane ad lib-antwoorde aan die gehoor waar Van Graan se op-die-plek humor op sy beste geskitter het.

So raai sy sanger Brendan Peyper aan om na aanleiding van sy TV-program met die vrou-soekhoek “eerder ’n ouer vrou te soek” en wys op die voordele daarvan.

Van Graan is glad nie platvloers nie, eerder pittig en spitsvondig.

Toe sy op 55 met hierdie tweede beroep in komedie begin het, was dit bepaald vir haar geen grap nie.

Vir Afrikaans en haar gehore is dit beslis ’n bonus dat die nou afgetrede “Boerboeltannie” se blaf ook meer komiese byt het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button