Local newsNews

Nuwe horisonne vir mediese sorg-kliniek

'n Kliniek wat behoeftiges help wat mediese sorg nodig het, het onlangs geskuif maar die werk gaan voort.

Die Atterbury Trust se Triomf-kliniek het onlangs hande gevat met ’n privaat bekostigbare gesondheidskliniek in Silverton om die werk voort te sit wat hulle al tien jaar lank doen onder behoeftiges wat mediese sorg benodig.

Liauné Terblanche, ’n lid van die Atterbury-span wat die Triomf-kliniek se bedrywighede bestuur, sê danksy hul netwerk van ondersteuners en die kliniek wat spreekkamers aan hul netwerk van medici bied, Healthcare@Fountain, gaan Triomf-kliniek se dienste ononderbroke voort.

’n Geregistreerde beroepsgesondheidsverpleegkundige, Doret Fischer, het hande gevat met die Trust om as ’n tydelike maatreël vir hulle van die spreekkamers en gebruik van toerusting in die kliniek aan te bied.

Fischer het die kliniek op die been gebring nadat sy toerusting en spreekkamermeubels geërf het van haar broer wat ’n dokter in Vryburg was en met wie sy ’n hegte verhouding gehad het. Hy is tydens die Covid-19-epidemie dood.

Die Triomf-kliniek se span: Danelle Strydom (voor) Agter: Liauné Terblanche, Anaja Koenen en Jana Wilbers Foto: Elize Parker

Verskeie klinieke, soos ’n ortopediese kliniek, is reeds deur medici by die nuwe, tydelike tuiste in Fonteinstraat aangebied.

Die Trust is genoodsaak om ná tien jaar afskeid te neem van die Triomf-kliniek se oorspronklike tuiste nadat die SAVF se aftreeoord by die Margaretha Ackerma-ouetehuis by Vom Hagenstraat 472 in Pretoria-Wes hulle deure moes sluit.

By die nuwe tydelike perseel in Silverton gaan keurige en kundige versorging volgens die Trust se etos met waardigheid voort.

Terblanche verduidelik daar is geen onmiddellike haas om ’n nuwe perseel te vind nie, aangesien hulle die tydelike verskuiwing sien as ’n manier om ’n verstandige besluit oor ’n meer volhoubare toekoms vir die kliniek te neem.

Die kliniek is as die breinkind van die Trust in samewerking met ’n groep welmenende medici begin wat sedert 2014 hul dienste gratis aanbied.

Verlede jaar het die kliniek ’n hele paar rekords gemaak met meer as 800 pasiënte wat gesien is, meer as 100 kliniekdae gehou en 30 vrywillige dokters en gesondheidsdiensverskaffers wat hul dienste gratis verskaf het.

Met die aanvang van die kliniek is die kritieke tekortkominge in gesondheidsorg vir minderbevoorregte inwoners geïdentifiseer, ’n model wat met die tyd aangepas is, verduidelik Terblanche.

Sy beklemtoon dat ná die verskuiwing van die kliniek sal soortgelyke behoeftes steeds aangespreek word, en veral ook die gesondheidsbehoeftes van die groot aantal fabriekswerkers in die omgewing.

“Ons werk goed saam met Doret en haar ontvangsdame, Manda Booyse, en die kliniek is reeds ’n tuiste vir ons hier in Silverton waar ons dokters, spesialiste en ander medici pasiënte kan sien wat ons hulp nodig het,” sê sy.

Doret Fischer en Manda Booyse Foto: Elize Parker

Sy voel tuis met die nuwe model waar sommige pasiënte eers deur Fischer en haar span ondersoek word, voordat hulle na ’n spesialis verwys word.

“Ons spaar veral die tyd van spesialiste wat vir ons hul dienste aanbied,” sê sy.

Elke dag, Maandag tot Vrydag, tussen 08:00 en 15:00 is daar ondersoeke by Healthcare@Fountain-kliniek vir pasiënte wat deur die personeel van Triomf-kliniek se span verwys is.

Vir dienste soos tandheelkunde word pasiënte verwys deur die Triomf-kliniekspan om die medici in hul eie spreekkamers te sien sodat gespesialiseerde toerusting gebruik kan word.

Klinieke vir spesialissorg word van tyd tot tyd vir ’n goedgekeurde waglys van pasiënte in Silverton aangebied.

“Weens beperkte spasie in die tydelike kliniek in Silverton, kan ons ongelukkig nie op hierdie stadium ons oogklinieke aanbied nie, alhoewel daar ’n baie groot behoefte is,” verduidelik Terblanche.

’n Behoeftetoets word deur die personeel van die Triomf-kliniek en die organisasies waardeur pasiënte verwys is, uitgevoer om te verseker dat die pasiënte vir die hulp kwalifiseer.

Sulke reëlings word per e-pos getref en afsprake deur Terblanche en haar span word vir nodige mediese bystand gemaak. Bankstate moet byvoorbeeld vir die toets ingedien word.

Liauné Terblanche Foto: Elize Parker

Die kliniek werk saam met verskeie liefdadigheidsorganisasies.

“Ons wil organisasies help om individue te help,” verduidelik sy.

– Wenslys: Die Triomf-kliniek benodig alle medici om hul dienste vrywillig aan te bied, maar veral oogkundiges, spesialiste en fisioterapeute asook sielkundige dienste.

Die kliniek nooi alle vrywillige dokters om by die Triomf-span aan te sluit. Stuur ’n e-pos na info@triomf.org.za of voltooi die vorm aanlyn: https://triomf.org.za/raak-betrokke.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button