Local newsNews

Bela slaag ten spyte van betogings en oproepe tot aksie

Opposisie vorder teen die Bela-wysigingswetsontwerp te midde van betogings en oproepe tot optrede.

Besorgde ouers regoor Pretoria het vandeesmaand strate toe gegaan met hulle kommer en frustrasie oor die omstrede Bela-wetsontwerp.

Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) het met ’n deurslaggewende stemming in die Nasionale Raad van Provinsies (NROP) geslaag, met agt lede wat ten gunste gestem het en een wat die wetsontwerp verwerp het.

Hierdie resultaat, alhoewel verwag, het aansienlike opposisie ontlok, en vra vir openbare protesoptredes, wat kritici beskryf as regeringsoortreding.

In reaksie op die aanvaarding van die wetsontwerp is ’n landswye betoging op 16 Mei gehou wat wydverspreide ontevredenheid getoon het.

Ondersteuners is aangemoedig om by plaaslike betogings aan te sluit of self te organiseer waar hulle ook al was.

Betogers was aangeraai om hul getalle tot ’n maksimum van 15 mense per groep te hou, om nakoming van regulasies te verseker terwyl hulle hul standpunt teen die Bela-wetsontwerp demonstreer.

Plakkate wat tydens die betogings gebruik is

Mia Coertze, ’n spellingterapeut en voormalige onderwyseres het haar kommer oor die Bela-wet uitgespreek.

“Dit is vir my onaanvaarbaar dat hulle miljoene rande wil spandeer aan ’n ideologie, maar daar is steeds skole wat nie eers basiese geriewe soos badkamers het nie. Daar is soveel grondvlakkwessies waaraan die Departement van Basiese Onderwys eerder aandag aan kan gee,” sê sy.

“Die departement moet eers fokus op die publieke skole en die probleme wat daar ervaar word oplos, tot voordeel van al die kinders in die land.

“Burgers van Pretoria, die Pestalozzi Trust, ACDP, die VF+, die DA, AfriForum en vele ander organisasies en partye is ontevrede met die Bela-wetsontwerp,” sê Van der Walt.

“Ons ondersteun die onlangse betogings teen die Bela-wetsontwerp, en baie van ons lede het aan die betogings deelgeneem,” meen Karin van Oostrum, die hoof uitvoerende beampte van die Pestalozzi Trust.

“Die wetsontwerp stel wysigings aan die wet voor dat die staat sy beheer verskerp en besluitnemingsprosesse van sy burgers ontneem, wat tot ’n selfs meer verswakkende onderwysstelsel sal lei.

“Ons en ons lede is sedert 2017 aktief betrokke by protesaksies teen die Bela-wetsontwerp, en het deelgeneem aan talle skriftelike en mondelingse voorleggings in die Parlement asook die landwye provinsiale verhore,” sê Van Oostrum.

“Ons as ouers het skriftelike en mondelinge kommentaar by Bela-verhore gelewer, maar ons bekommernisse oor die 54 klousules (waaruit die Wysigingswetsontwerp bestaan) is eenvoudig nie oorweeg nie,” deel Van der Walt bekommerd.

“Die Bela-wetsontwerp is van een komitee na die volgende geskuif en sal heel waarskynlik deur die president onderteken word.

“Op 16 Mei het ons (ouers, grootouers, lede van die tuisskoolgemeenskap, onderwysers, kinders, lede van verskeie politieke partye en organisasies) besluit om ons diepe ontevredenheid bekend te maak. Ons het gepicket!” sê Van der Walt.

“Die protesaksie was nasionaal,” sê Van der Walt. “Mense in Stellenbosch, Mitchells Plein, Hermanus, Wesbank, Parkwood, Wynberg, East Lynne, Eersterust, Laudium, Garsfontein, Queenswood, Lynnwood en vele ander gebiede in verskeie provinsies het deelgeneem. Ons het met tekens op straathoeke en langs besige paaie gestaan.”

Daar is besware teen verskeie dele van die voorgestelde wet:

– Klousule 2 wat voorstel om die straf vir oortredings te verhoog van ses na 12 maande.

– Klousules 4 en 5 wat die departementshoof bemagtig om ’n openbare skool te rig om meer as een onderrigtaal aan te neem.

– Klousule 25, wat die LUR bemagtig om ’n openbare skool te sluit in die geval van ’n laerskool wat 135 of minder leerders is, en, in die geval van ’n sekondêre skool, 200 of minder leerders.

– Klousule 35 wat tuisskool onbekostigbaar en ingewikkeld sal maak ten opsigte van de kriteria wat die departementshoof moet oorweeg wanneer hy besluit om ’n aansoek goed te keur of nie.

– Klousule 39 wat die bevoegdhede van die minister uitbrei om regulasies te maak oor die bestuur en toelating van leerders tot openbare skole, aan minimum norme en standaarde vir provinsiale onderwyserontwikkeling en rolle en verantwoordelikhede van onderwysdistrikte.

“Ons ondervinding met die Bela-wetsontwerp is dat diegene wat daarteen betoog, kommer wek oor sake wat nie in die wet gedek word nie. Daar was oor die afgelope agt jaar ruim geleentheid vir publieke deelname en insette. Die Parlement was oop vir almal en die departement se eie konsultasie het tyd geskep vir insette.

“Die wetsontwerp is in die Nasionale Vergadering met ’n groot meerderheid aanvaar ná die steun in die ander forums van die Parlement,” sê Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die Departement van Onderwys.

Volgens Mhlanga word die wet in plek gestel om beter bestuur toe te pas. “Die wysigings poog om bestuur in skole te versterk deur diskriminerende neigings uit te roei.

“Diegene wat dit teëstaan, wil nie verandering hê wat die deure van leer verder sal oopmaak nie,” sê Mhlanga.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button