Local newsNews

Langneus-onnuts se storie eersdaags ‘n pantomime

'n Ervare musiekregisseur, 'n geesdriftige nuwe akteur en 'n meesterkomediant is die sterre van 'n nuwe Afrikaanse pantomime.

’n Nuwe Afrikaanse pantomime, Pinocchio, in Junie en Julie in die Pierneefteater in die Moot, belowe om nie net die kleingoed nie maar ook ouers, geliefdes en grootouers van die lag te laat skater en met tone-kielie-musiek saam te laat dans.

Die produksie is in die vernuftige en vaardige komponis en skrywer Machiel Roets se hande wat 12 jaar in Londen soortgelyke produksies op die planke gebring het.

“Ons slaan die note vinnig en hoog vir die een,” sê Roets.

Volgens hom is daar beslis ’n paar verrassings vir die gehoor.

Veel hiervan het te make met die groei van die klein onnuts, Pinocchio, se neus wanneer hy ’n leuen of twee of selfs wit leuentjies vertel.

“Kom ons sê maar net ek gebruik nie beligting om dit te laat lyk of die neus groei nie, en daar mag miskien ’n paar grillerige dingetjies rondom die neus wees wanneer hy wel verleng…” lag die spitsvondige boorling van Harrismith wat nou in Gauteng woon.

Roets is gebore op ’n plaas, Langspruit, naby Harrismith in die Vrystaat en het reeds vanaf negejarige ouderdom met klavierlesse begin wat na sy hoërskoolloopbaan tot sanglesse by prof. Werner Nel sou lei. Hy verwerf sy B.Mus-graad aan die Potchefstroomse Universiteit.

Hy was ook vir drie opeenvolgende jare ATKV-Crescendo finalis in 1999, 2000 en 2001.

Aangepas uit ’n roman deur C. Collodi, vertel Pinocchio die storie oor die avonture van ’n houtpop wie se eensame maker, Geppetto, vir ’n regte seuntjie in sy lewe wens. ’n Feëtjie gun hom sy wens deur die marionet lewendig te maak maar sê dat hy sy waarde moet bewys voordat sy hom in ’n menseseun sal verander.

Pinocchio se geneigdheid om leuens te vertel laat egter sy neus al hoe langer word totdat hy ’n besluit hieroor moet maak om ’n ware seun te word en ook vir Geppetto te red.

Machiel Roets speel Geppetto, die pa van Pinocchio, in die pantomime wat in Junie en Julie in die Pierneefteater in die Moot opgevoer word.

Vir Roets, skrywer van die filmmusiekblyspel Pretville, is dit belangrik dat die pantomime waardes oordra.

“Dit leer dat jy nooit leuens moet vertel nie. Kinders moet nie ongehoorsaam wees aan hul oudstes nie. Die Pinocchio-storie leer ook die les van liefde. Dit wys dat liefde ’n mens kan verander en selfs ’n houtpop in ’n mens kan omskep,” vertel Roets.

Vir Roets is die uitdaging om met die regte stel die produksie lewe te gee. Hy werk reeds sedert laat-Mei in die teater om veral ook die rekwisiete, soos die walvis, met ’n stelontwerper in orde te kry.

Geppetto (Pinocchio se pa) en gespeel deur Roets, word deur ’n reuse-walvis ingesluk terwyl hy na Pinocchio soek. Wanneer Pinocchio van hierdie nuus hoor, reis hy diep die see in om die walvis te vind wat Geppetto ingesluk het. Pinocchio maak sy pad binne-in die walvis en herenig met sy pa.

“Ons moes die walvis bou en op wieletjies kry! Die ander uitdaging is natuurlik om Pinocchio voor die gehoor se oë ouer te laat word en die jong seuntjie na ’n ouer seun te laat verouder. Ek beplan om dit te doen met sy stem en vokalisering. Ons sal die toonhoogtes moet verander,” vertel die bedrewe akteur wat self rolle vertolk het in films soos Relatief Jonk, Hoener met die rooi skoene en Pretville.

Om só ’n produksie gestalte te gee, is Roets se kos. Hy het sy meestersgraad in Musiek aan die Thames Valley University in Slough in Brittanje verwerf en by Redroofs-teaterskool in Maidenhead in Brittanje teaterkwalifikasies verwerf waar hy ook mettertyd klas gegee het.

“Selfs vir Amy Winehouse!” vertel Roets met ’n vonkel in sy oog.

Van sy liedjies soos “Afrika Kind”, “Bly By My” en “Ek Verlang” word gereeld gehoor. Vir die film Liefling moes hy 27 liedjies skryf.

Vir hom is hierdie kleiner teaterproduksie ’n goeie wegspringblok vir die pantomime.

Sulke musiekproduksies is nie vreemd vir hom as musiekverwerker nie want hy was ook betrokke by die musiekregie van die pantomime, Aspoestertjie, in 2015.

“Met só ’n produksie in ’n teater met direkte kontak met die gehoor is daar die bekoring van spontaniteit,” sê Roets. “Enige iets kan gebeur en dit sál gebeur met kindergehore!” glo Roets.

Hy sien uit om die produksie saam met sy geliefde vriend en staatmakerkollega in die bedryf, die Kaapse komediant Soli Philander (in die rol van die blou feëtjie) aan te pak.

“Ek is doodseker Soli gaan die gehoor aan die lag sit en aan die lag hou. Hy het so ’n natuurlike flair om die nodige komiese melodrama met sy spel en vertolking in ’n teks te gooi,” glo Roets.

Philander is veral bekend vir die TV-reeks Liriekeraai. Hy het ook die program Are You Smarter Than A 5th Grader? op TV aangebied, was lank ’n radio-aanbieder op onder meer Punt Geselsradio en het onlangs ’n rol in die TV-program Duiwelspiek vertolk.

Roets is ook opgewonde om oudleerder van Hoërskool Pretoria-Noord, Henrico Grobler, aan die wêreld bekend te stel as die nuwe Pinocchio.

Grobler het verlede jaar gematrikuleer en het al verskeie toekennings gekry het vir sy teaterwerk en dramawerk.

“En my drama-eksamens goed deurgekom danksy drama-juffrou Sanet Olivier,” sê Grobler.

Vir Grobler is die rol ’n stapsteen na ’n loopbaan waaroor hy as akteur droom.

“Ek wil op TV in dramas wees. Ek weet dit is nie net sommerso met die klap van jou vingers wat jy op TV beland nie. Dis harde werk en ek besef op die verhoog is waar dit werklik begin om jou vaardighede te slyp,” sê die bekroonde ATKV-tienertoneelwenner.

Grobler was op soek na ’n kollege om drama te studeer toe Roets hom in die gehoor raak gesien het.

“Ek dink hy het gesien hoe ek my inleef in die stuk en die musiek, en my toe genader. Ek hou van die uitdagings en die pret van die rol en veral ook die geheime rondom Pinocchio wat eers so met die speel op die gehoor bekend gaan word,” meen Grobler.

Die speelvak van die stuk is vanaf 14 Junie tot 6 Julie in Jopie Koen se Pierneefteater in die Moot en sluit verskeie gerieflike aanvangstye vir vertonings in. Die produksie word op die planke gebring ten bate van Solidariteit se Helpende Hand-fonds. Kinders: R110 en Volwassenes: R130.

– Kliek hier om meer van die produksie te sien: https://www.facebook.com/machielroets/videos/876512974237368

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button