Local newsNews

Sentrum vir welwees herstel individue en gemeenskappe

Die span vriendelike en bedagsame kundiges by die sentrum in Pretoria-oos is op heling en herstel van individue en gmeenskappe ingestel.

Wanneer jy die span van die hulporganisasie Helplift van die Moreleta Wholeness-sentrum by die Moreleta Kerk op ’n heuwel in Pretoria-oos ontmoet, weet jy dadelik hierdie raakvatters trek saam om ’n valnet te wees vir mense en organisasies.

Voorvatters, El-Jean Strydom en Yolandie Moodley, is die administratiewe en beplanningspil waarrondom hierdie diensorganisasie draai.

Hier word die tekkies op die teer geplaas wanneer die versoeke om hulp vir dienste van ondersteuningsorganisasie Helplift en die Wholeness-sentrum bymekaar gemaak word en dan aangegee word na samewerkende organisasies wat hand bysit met versoeke en behoeftes.

Strydom se deernisvolle blik op die samelewing maak haar ideaal vir die saamtrek en organisasies van mense en vrywilligers.

“Ons kan nie alleen funksioneer nie en waardeer die hulp van al die kundiges by die Wholeness-sentrum sowel as al die vrywilligers,” sê Strydom.

By die sentrum is spreekkamers vir vyf beraders en ander vrywillige mediese kundiges wat hul dienste aanbied. Diegene met ’n platsakbeursie kan ook deur die sentrum na kundiges verwys word.

Beradersdienste vir diegene wat verslawing wil beveg, huweliksberading benodig of ander spesialisberadingsdienste, soos om verslawing aan pornografie te beveg, is beskikbaar teen ’n minimale fooi. Indien die kliënt nie die fooi kan bekostig nie, word ’n bekostigbaarheidstoets van die aansoeker gedoen wat dan uit ’n subsidiefonds betaal word.

Welsynwerkers verbonde aan die sentrum lewer ook dienste en versorg tans 30 gesinne met ondersteuning en koshulp.

“Ons moes na Covid-19 dink aan ’n ander model om al ons werksaamhede te ondervang in een eenheid. Die omgewing waarin ons dienste moet lewer het op maatskaplike gebied verander en ons moes nuut dink,” sê ds. Ian Dubery, die vriendelike en openhartige leraar vir die Wholeness-sentrum.

Die gemeenskapsgerigte model waarvolgens die sentrum werk, lewer ’n verskeidenheid dienste. Soos om deur Helplift en hul vrywilligers, “Helplifters”, verskeie take op ’n praktiese en liefdevole wyse aan te pak en te organiseer vir buitehulp vanaf ’n stewige vrywilligerslys van sielkundiges, beraders en ander professionele medici.

“Ons help mense om op hul voete te kom,” bevestig Dubery.

Daar is ’n span baksters, vir wie se hande niks verkeerd staan nie. Hulle word ingespan wanneer ’n verjaarsdagkoek by ’n ouetehuis nodig is of ’n bak kolwyntjies vir ’n verjaarsdag by die kinders van die skool op die kerk se kampus afgelewer moet word.

Met matriekafskeidtyd spring die span en samewerkende “Helplift” haarkappers, grimeringsdeskundiges en naeltegnikuste in om veral kinderhuiskinders te help om op die groot aand op hul beste te lyk. Aandrokke of matriekafskeidrokke kan aan Helplift geskenk word vir sulke geleenthede.

Retha Erasmus staan aan die hoof van die winkel op die kerk se kampus.

Erasmus en ’n assistent sorg dat klere-skenkings behoorlik skoongemaak en gestryk word en bied dit op ’n keurige manier uitgestal in die snuffelwinkel aan.

“Ons wil waardigheid aan mense gee deur hul te help om soos in ’n winkelomgewing klere te kom uitkies en aanpas,” vertel Erasmus. Die bekostigbare “kopies” vul menige klerekas aan.

By die sentrum is daar een dag ’n week ’n mediese dokter, Jeanine Cronje, beskikbaar. Cronje het haar eie besige program ingeruim om hier te help om pasiënte wat nie toegang tot mediese fondse het nie, gratis te help met ondersoeke vir chroniese siektes soos diabetes sowel as om algemene ondersoeke te doen.

Wenslysie- vir diegene wat wil help:

– Kruidenierskoopbewyse

– Vooraf-geliefde klere

– Gratis dienste deur mediese kundiges, veral radiografie, tandheelkundige en oogkundige dienste, asook dienste van haarkappers

Skakel die Wholeness-sentrum by 012 997 8035 of stuur ’n e-pos na wholeness@moreleta.co.za.

Vind die Wholeness-sentrum op sosiale media: www.moreleta.org

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button