Local newsNews

Babaskuilhuis bied ‘n tuiste vir vele jong kinders

Rock of Hope in Magalieskruin bied 'n tussenin-tuiste vir babas en kleuters onder die liefdevolle sorg van Wouter en Mientjie Prozesky.

Wanneer jy by Mientjie en Wouter Prozesky se huis in Magalieskruin, Pretoria instap, val die muur waarteen meer as 100 foto’s pryk, jou dadelik op.

“Ons familieboom!” spot die groothartige vrou met die aansteeklike lag.

Die foto’s is meesal van babas wat in die paartjie se huis ’n skuiling en tuiste gevind het nadat die Kinderhof hulle by hul ouers weggeneem het en in hul sorg geplaas het. Of dis babas wat tydelike verblyf by Rock of Hope-skuilhuis gekry het totdat ’n aannemingsproses voltooi is.

Hierdie babas is dalk in ’n mosesmandjie oftewel babareddingsboks in die muur van hul huis gelos nadat hulle deur welsynwerkers aan hul toegeken is. Die babas is verlate in winkelsentrums of ander plekke gelaat, vir aanneming opgegee asook deur hofbevel aan hul toegeken na mishandeling of verwaarlosing deur die ouers.

Mientjie, ’n graad 1-onderwyseres en adjunkhoof van Zambezi Akademie, vertel aangedaan van die eerste vyfjarige dogtertjie wat Rock of Hope op 23 April 2011 by hul drieslaapkamerhuis verwelkom het.

In Februarie van dieselfde jaar het die paar ’n profesie by hul kerk gekry van iemand wat hulle saam met vele kinders in ’n visioen gesien het. Hulle was nie die ouers in die visioen nie, maar moes die kinders versorg.

“Die troos was dat die profesie ook die wete ingesluit het dat die Vader sal voorsien,” sê sy.

Tydens ’n kort toer deur hul woonhuis, wat ook as tuiste vir ses tot 12 kleuters en babas sowel as vir hulself en hul drie kinders dien, sien jy hoe die Prozeskys deur die jare met geloof aan die profesie vasgehou het en hul roeping uitgedra het.

Met die inname van die eerste kind het Wouter nie ’n werk gehad nie en het hulle met vervoer gesukkel.

“Ons het geloof bo vrees gekies,” sê Mientjie. Op haar arm is die woorde getatoëer.

Mettertyd het ’n Britse weldoener vir Rock of Hope ’n groter huis as hul bestaande huis gekoop en dit toegerus om nie krag of water van die metro se netwerke te hoef gebruik nie. Hy het ook vir die aankoop van ’n bussie vir vervoer gesorg.

Dis ’n Belangrike skenking, want in hierdie huis staan ’n yskas met 100 bottels aangemaakte formulemelk en medisyne wat koel gehou moet word. ’n Formulemelk-maatskappy het vanuit hul eie Rock of Hope genader om formulemelkpoeier te skenk. Vir die vroeggebore babas verkry sy borsmelk van skenkers.

“[Dis] deel van die wonderwerk,” sê Mientjie.

Rock of Hope kry geen subsidie nie. Met frustrerende burokratiese rompslomp kon hulle oor die jare nog net vir vier kinders ’n toelaag ontvang.

In die waskamer staan die wasmasjiene wat meer as nege bondels wasgoed op ’n wasdag moet was.

Mientjie Prozesky met geskenkte speelgoed

Die Prozeskys het vier permanente assistente wat die dagwerk rondom die babas en kleuters waarneem.

Tans doen Rock of Hope fondsinsamelings om fondse te bekom om die R7 000 per maand vir ’n nagoppasser te kan betaal. Tot nou toe het hulle self snags opgestaan om die babas in die twee vertrekke langs hul slaapkamer te versorg.

Vooraf-geliefde teddiebere en sagte diere wat aan die skuilhuis geskenk is, word tans deur ’n vrywilliger, Jane Fryer, skoon- en reggemaak om tydens die Adopt-A-Bear-fondsinsamelingveldtog verkoop te word om geld vir die nagassistent in te samel.

Die hulp van vrywilligers is onontbeerlik vir die paar, van vriende, familie, lede van selgroepe en diegene wat vervoer waarneem.

Die emosionele prys van hul werk met die skuiling is hoog, vertel Wouter.

“Wanneer daar siek of mishandelde kinders inkom, kan mens nie anders as om diepe deernis te voel nie. Hoe kan mens nié ’n band vorm nie?” vra Wouter wat soos Mientjie talle kere al ’n baba in ’n aanneemouer se arms moes plaas.

Vir beide was die Covid-19-pandemietyd erg omdat hulle meer mishandelde babas as gewoonlik moes inneem.

Wanneer ’n baba aan nuwe ouers toegeken is en die skuilhuis verlaat, is dit met ’n geskenk van ’n herinneringsboks wat Mientjie en Wouter pak met kleertjies wat die baba met aankoms gehad het. Nuwe klere, foto’s, amptelike dokumente, ’n brief van hulle aan die ouers met ’n beskrywing van die kind se persoonlikheid en eerste paar maande sowel as hare van hul eerste haarsny.

“Wanneer ons moet groet is dit ’n tranedal, maar die vreugde op die aanneemouer se gesig is altyd ’n troos,” vertel Wouter.

‘n Weldoener het die bussie aan Rock of Hope geskenk.

As jy Rock of Hope wil help, House of Hope het hierdie wenslysie vir skenkings:

– Koopbewyse van afdelingswinkels wat ook apteke het
– hoes-diarree en koorsmedisyne
– nuwe klere vir die ouderdomme drie tot ses maande, ses maande tot 12 maande en ses maande tot 18 maande;
– speelgoed wat aangegee kan word as die baba aangeneem word
– brandstofaankoopbewyse
– skryfbehoeftes vir die groter kinders
– baba-toiletware soos sjampoe, boudjieroom en seep.

Hulle benodig tans hulp met die Aanneem van ’n teddiebeer in die Adopt-A-Bear-veldtog en skenking van weggooidoeke in die Mandelamaand-doeke-insamelingsveldtog.

Kontak Rock of Hope by wouter@rockofhope.co.za, 079 423 4799 of mientjie@rockofhope.co.za

Indien jy meer te wete wil kom: https://web.facebook.com/RockofHopePOS/?_rdc=1&_rdr

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button