Byeboere onder druk oor mededinging

Byeboere se bobaasprodukte soos geroomde heuning, grimering met heuning as bestanddeel en heuningwyn was te kope op 'n uitstalling oor bye en heuning in Pretoria-oos.

Talle byeboere van Pretoria het aan die Noordelike Byevereniging se Expo by Safari in Die Wilgers op 25 en 26 Mei deelgeneem.

Die uitstalling volg kort op die hakke van Wêreldbyedag wat op 21 Mei gevier is.

Johan Bornmann, prokureur en voorsitter van die vereniging, sê byeboere is onder groot druk as gevolg van mededinging deur ingevoerde goedkoop heuningprodukte, duur diesel- en arbeidspryse, diefstal asook vandalisering van korwe.

“Ons moet na ons byeboere se belange omsien want sonder bye om bestuiwing vir landbou te doen, het ons geen voedselsekuriteit nie,” sê Bornmann.

Woordvoerder van die vereniging, Mariaan Esterhuizen, verduidelik ’n ingevoerde bottel nie-rou heuning, wat dikwels eerder mieliestroop is of daarmee gemeng is, kan R34 kos terwyl rou heuning meesal vir dubbel dié prys op die rakke staan.

“Heuningliefhebbers moet twee keer dink voordat hulle heuning koop en eers die etikette lees om die bestanddele te eien en om te sien waar die produk vandaan kom,” waarsku Esterhuizen.

’n Duidelike aanduiding van rou heuning is gekristalliseerde of versuikerde inhoud.

“Soms dink mense sulke kristalle beteken die heuning is oud, maar dit is geensins waar nie,” sê sy.

Haar byekorwe staan in Dinokeng, Wallmansthal, Kameeldrift, maar ook in die Moot.

Sy benadruk dat nagemaakte heuning nie die medisinale waarde van rou en suiwer heuning het nie.

“Heuning het anti-virale en antibiotiese waarde. Dit is inderwaarheid ’n medisyne wat ook voorkomend gebruik kan word en bou weerstand teen siektes op,” verduidelik sy.

Talle verskillende heuningprodukte soos grimering en skoonheidsmiddels is ook uitgestal.

Drie entrepreneurs van Pretoria-oos – Nico Grobler en sy dogter, Kayla en seun Darrien – se vuuraanstekers was ook te koop. Hierdie unieke produk word gemaak van die afvalprodukte van hul heuning- en heuningwynprodukte.

Chris Schoeman, ’n inligtingstegnologiekundige van Magaliesberg, is vroeër vanjaar by die Royal Agricultural Show in Pietermaritzburg as die nasionale kampioen byeboer aangewys.

Schoeman se korwe staan in Davel in Mpumalanga, maar hy het ook verskeie korwe wat in die Magaliesberg staan.

Hy is ook ’n bekende byeredder en haal gereeld bye uit dakke indien die insekte problematies vir huiseienaars raak.

Schoeman neem die bye na sy Magaliesberg-byeskuiling waarvandaan dit aan belangstellende nuwe byeboere geskenk word.

“Ons kan nie bekostig om een korf te verloor nie,” sê hy.

’n Byeboer van die Moot, Chris Viljoen, is ook ernstig oor die beskerming van sy korwe wat meesal in wildreservate staan.

“Die veiligheid in die wildreservaatgebiede is beter vir my korwe,” glo Viljoen.

Hy verwerk self die heuning en is al agt jaar ’n byeboer.

“Ek glo nie daaraan om die rou heuning oor te verhit in die verwerkingsproses nie om sodoende al die medisinale kwaliteite te behou,” verduidelik hy.

Die Du Toits van Montana is al twee generasies lank byeboere met pa Abraham wat al in 1980 met bye begin boer het.

Die boerdery word nou al die afgelope 12 jaar deur sy seun, Philip, bedryf. Die Du Toits is ook ervare bestuiwingsboere en het lank na bestuiwingskontrakte vir groot avokadoboere in Limpopo omgesien.

“Dit was eers my pa se stokperdjie, maar nou is die boerdery die brood en botter op ons en ons gesinne se tafels,” sê Phillip.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

Exit mobile version