Local newsNews

Nuwe metro-sentrum sal eenstopdiens vir rekeningprobleme lewer

Altesaam 14 000 wanbetalers van die metro het kennisgewings ontvang om te betaal anders sal verdere regstappe geneem word.

Die opening van die metro se nuwe operasionele sentrum, wat ’n eenstopdiens sal bied vir die oplossing van probleme en uitdagings rondom die betaling van munisipale rekeninge, word eersdaags waar.

“Ons beoog om dit moontlik nog in Mei te loods,” sê Jacqui Uys, burgemeesterskomiteelid vir Finansies.

Die sentrum in Tshwane-huis sal verskeie departmente, wat met die betaling van rekeninge te make het, in een reusevertrek huisves.

Hierdie strategie is volgens Uys ingestel om die kommunikasieproses tussen administratiewe en rekening-assistente en bestuurders van departmente sowel as inwoners, beter te laat vloei, te vergemaklik en te bespoedig.

Uys is positief oor die waterskeidingsoomblik vir inwoners wat al ’n geruime tyd klagtes lug omdat die oproepsentrum, SMS-diens en e-pos-klagtelyne nie behoorlik funksioneer nie en veral nie daadwerklike oplossings vir probleme bied nie.

Intussen sê Uys kry die metro se skuldinvorderingsprosesse momentum en is kredietbeheer ’n prioriteit.

Altesaam 14 000 Seksie-129-kennisgewings is in die week van 16 Mei aan inwoners, besighede en ambassades sowel as organisasies deur die metro uitgestuur.

Indien die agterstallige geld ingevorder kan word, sal die metro se koffers met R445-miljoen aangevul kan word.

Sulke kennisgewings is die vertrekpunt vir moontlike verdere regstappe.

“Die kennisgewings is gestuur aan eienaars van besighede en huishoudings, ambassades en regeringsinstansies wat nie water- en elektristeitsrekeninge kry nie, maar wel erfbelastingrekeninge. Van die kennisgewings is ook beteken op diegene wat nog nie vorentoe gekom het en rekeninge betaal het nie nadat hul dienste afgesny is,” verduidelik Uys.

Hierdie stap is deel van die metro se skuldinvorderingsproses sowel as die metro se groter Ya Tima-projek wat ook die proses insluit om diegene met onwettige konneksies met beide elektrisiteit en water vir hul oortredings aan te keer.

Hierdie betekening van kennisgewings is die eerste stap in ’n proses wat kan lei tot die inbesitneming en konfiskasie van bates, insluitende eiedom.

Uys erken daar sal altyd teenstand met sulke prosesse wees.

“Ons weet en erken mense is onder ekonomiese druk en nie almal kan betyds of ten volle rekeninge vereffen nie. Ons is dankbaar vir diegene wat wel betaal.

“Ons vra vir diegene wat kan betaal, maar nié rekeninge vereffen nie, om wel hul verpligtinge na te kom. Vir diegene wat nie kan betaal nie, vra ons om ’n reëling te maak of aansoek te doen vir die bekostigbaarheidstoets om ’n gedeelte van hul skuld afgeskryf te kry. En vir diegene wat glad nie kan betaal nie, om vir die behoeftigheidsfonds aansoek te doen,” verduidelik Uys.

Sy glo met soveel prosesse en stappe in plek vir inwoners is dit glad nie aanvaarbaar om nie vir hul skuld verantwoordelikheid te neem nie.

“Hierdie deurlopende fokus op skuldinvordering is belangrik in die finansiële redding van die stad,” glo Uys.

LEES: Nuwe hoof maak ’n sagte landing op sy eerste dag

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button