Local newsNews

Nuwe hoof maak ’n sagte landing op sy eerste dag

Laerskool Pierneef se ouers en beheerliggaam wou hul nuwe skoolhoof op sy eerste dag op ‘n ongewone manier verwelkom en het die hulp van Wonderboom-lughawe nader geroep.

’n Laerskool in die Moot het hul nuwe skoolhoof, Stefan Thompson, onlangs op ’n verbeeldingryke manier as nuwe skoolhoof verwelkom, minwetend dat hulle ’n droom van die oud-sewesrugbyafrigter bewaarheid het.

Laerskool Pierneef se beheerliggaam het vir Thompson gevra om vroegoggend saam met sy agtjarige seuntjie, ook genaamd Stefan, by Wonderboom-lughawe aan te meld.

Hier het ’n helikopter op hulle gewag om Thompson op hierdie oorspronklike manier van die lughawe tot by Laerskool Pierneef se rugbyveld te vlieg.

Op die paviljoene by die rugbyveld het die leerders en personeel hom al wuiwend ingewag en verwelkom toe hy uit die helikopter klim.

“Dit was ’n see van geel en blou vlaggies. Wat ’n merkwaardige dag in my loopbaan. Ek wou altyd ’n helikoptervlieënier word en op hierdie groot dag word ’n wens toe bewaarheid,” vertel die vriendelike en opregte Thompson.

Hy is in die rigting van die onderwys gerig deur ’n skoolhoof by Hoërskool Vereeniging, vertel Thompson.

“Dit was toe ons vakke moes kies in ons graad 10-jaar. Hy het vir my ouers gesê ek is ’n gebore onderwyser! En dit gemotiveer deur te sê ek hou van mense, ek is lief vir sport en kan lekker gesels,” lag Thompson.

Die voorsienigheid van iemand wat hom goed opgesom het, het Thompson in die regte rigting laat studeer.

Die oudleerder van Laerskool Risiville het ’n draai as onderwyser in Roodepoort gemaak en was as adjunkhoof by Laerskool Dr. Havinga in die voorstad van Johannesburg in 2021 aangestel.

Nuwe skoolhoof van Laerskool Pierneef, Stefan Thompson, by die geskiedkundige rooi posbus op die skoolterrein.

Thompson se besluite draai rondom sy gesin se welstand.

Hy en sy onderwyseres-eggenoot, Ronica, het vroeg besluit dat hulle ’n “Groot Trek” sal aanpak voordat hul seun die hoër grade moet aanpak.

“Die Moot is my soort mense. Ons kon nie die geleentheid van Laerskool Pierneef van die hand wys nie. Dit kom op die regte tyd,” verduidelik die fikse sportman.

Thompson is trots op die geraamde skeidsregtertruie wat reeds teen die mure van sy netjiese kantoor hang. Hy het diens gedoen as skeidsregter by talle van die HSBC Sewes Challenge se rugbytoernooie en onthou veral Hong Kong se toernooie.

“Ek hoop om hierdie selfde liefde vir sport by ons leerders te vestig sonder om hulle onder druk te plaas. ’n Sterk mededingende gees kan ’n liefde vir aktiwiteite gou dood maak. Ek wil die leerders geleenthede vir groei bied,” sê Thompson.

As hy deesdae batterye wil herlaai, haal hy sy gholfstokke uit en skakel ’n vriend of twee om saam balle te klits.

Sy ideaal is om Laerskool Pierneef weer die voorkeur-laerskool in die omgewing te maak.

“Die buurt se ouers moet nie verby die skool ry nie, maar weet hier sal hul kinders tuis wees. My doel is om ons goeie naam weer daar buite te kry,” sê Thompson.

Hy gee om vir die omgewing, en wil ook die “papieroorlog” in die onderwys minder maak. Hiervan spreek sy netjiese lessenaar waar tegnologie duidelik ’n groter rol as papier gaan speel.

Thompson glo dat hoe beter dit met die omgewing rondom ’n skool gaan, hoe beter sal dit met leerders en die skool gaan. Uitreik-aksies na die gemeenskap is vir hom belangrik.

“Ons samelewing kry swaar. Ek dink ons kort meer jonger mense in die Moot en wil die laerskool ’n plek maak waarheen hulle hul kinders sal wil bring. Dit kan ons regkry as ons ook die uitdagings in die omgewing aanpak en oplossings vind.”

Hy het reeds sy eerste vuurdoop vyf dae na sy aankoms gehad toe die skool ’n kermis aangebied het.

“Die gees het die kermis so lekker gemaak. Hier is raakvatters by hierdie skool wat tot aan die einde van die dag gewerk het. Almal koop in en niemand se hande staan vir iets verkeerd nie.”

– Kliek hier om die groetvideo van Laerskool Pierneef se hoof te sien:

 

– Kliek hier om van die leerders en personeel te sien:

 

– So is die nuwe hoof van Laerskool Pierneef met sy aankoms by skool verwelkom:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button