Local newsNews

Pypsluiting: Waterkenner maan metro om waterbronne op te pas

Alhoewel die vooruitsig is dat watervoorsiening aan Tshwane in alle waarskynlikheid nie deur die sluiting van 'n pyp van die Lesotho Hooglande Waterprojek geraak gaan word nie, maan 'n waterkenner dat waterbesparing deur die metro en sy inwoners prioriteit moet bly geniet.

Een van Suid-Afrika se voorste watervoorsieningskenners sê dat alhoewel die hoofwatertoevoer na Suid-Afrika se ekonomiese hartland, Gauteng, geskeduleer is om vir ses maande afgesny te word, behoort dit nie ’n beduidende impak op Tshwane te hê nie.

Prof. Anthony Turton van die Vrystaatse Universiteit waarsku egter dat dit geen rede vir die metro en waterverbruikers is om op hul louere te rus en krane links en regs oop te draai nie.

Die woordvoerder van die Departement van Water en Sanitasie, Wisane Mavasa, het onlangs aangekondig dat onderhoudswerk aan ’n 38km-lange tonnel van die Lesotho Hooglande Water projek in Oktober vanjaar sal begin.

Die projek is ’n lewenslyn vir miljoene Suid-Afrikaners en voorsien aan 60 % van Gauteng se waterbehoeftes.

Maar wat gaan die werklik impak op Tshwane se watervoorsiening wees?

Volgens Turton is Tshwane in die gelukkige posisie dat ’n gedeelte van sy water van ander diverse bronne kom as van Rand Water wat water vanaf die Lesotho Hooglande-projek bekom.

Hy het egter ’n waarskuwing gerig aan die stadsleiers van Tshwane om toe te sien dat watervoorsieningsbronne soos die Rietvleidam, wat vir 15% van Tshwane se water sorg, en die Tiervleidam, versigtig opgepas word.

“Moenie toelaat dat mynbedrywighede ’n onafhanklike waterbron soos Rietvleidam deur besoedeling benadeel nie,” waarsku Turton.

Die Katse-dam op die Malibamatsorivier in Lesotho is deel van die Lesotho Hooglande Waterprojek.

Hy het die stadsleiers van Tshwane geprys vir die werk wat hulle reeds rondom watervoorsiening aan die stad doen.

“Maar daar kan nog veel meer gedoen word. Ons is en bly ’n waterarm land en elke inwoner en munisipaliteit sal ’n bydrae moet maak om te sorg ons werk deurlopend oordeelkundig met die beskikbare water,” sê Turton.

Dit bekommer hom dat daar min aandag aan die volume water gegee word wat stadsrade deur waterlekke in hul netwerke verloor.

“Munisipaliteite verloor 45% tot 50% van die water wat hulle aankoop as gevolg van waterlekke tussen hul afsetpunte waar die water in die stelsel inkom en die waterverbruiker.

“Dit is ’n daaglikse werklikheid en dit help nie watergebruikers gebruik water spaarsamig, maar soveel water word onnodiglik in die stelsel verloor nie. Munisipale strukture stort oral ineen as gevolg van ’n gebrek aan onderhoud van watervoorsieningstelsels en gebruikers ly daaronder,” verduidelik Turton.

Die sistemiese ineenstorting van munispaliteite is ’n groot bekommernis vir hom.

“Met sommige metros soos Durban, kan hulle nie self meer die stad regruk nie en sal ingryping van buite nodig wees om alle stelsels, ook watervoorsiening, weer funksioneel te kry.”

Hy meen die feit dat stadsleiers soos burgemeester Cilliers Brink reeds prioriteit toeken aan watersake en die krisis rondom Rooiwal en skoon watertoevoer na Hammanskraal direk aangespreek het, is goeie nuus vir inwoners.

“Dis goeie nuus dat die stadsraad bereid is om dialoog hieroor te voer en na kundiges te luister om ook alternatiewe te vind,” sê Turton.

Hy wys daarop dat Tshwane inderwaarheid toegang het tot en trots moet wees op die feit dat die metro geleë is op ’n hidrologiese skat en veral in die Centurion-area daaruit kan baat.

Hy glo die stad se ondergrondse water kan van strategiese belang wees vir die toekoms van watervoorsiening aan inwoners.

“Die ondergrondse akwifer [waterhoudende grondlae], wat soos by die Fonteine-area in Tshwane dui op ’n wydverspreide ondergrondse meer, is ’n nasionale skat en moet opgepas word teen bedrywighede wat dit kan besoedel,” maan Turton.

Die Ash River Outfall-punt in Lesotho vanwaar die water van die Lesotho Hoogland Waterprojek na Suid-Afrika toe vloei. Foto: Facebook: Ash River Outfall

Volgens hom moet watergebruikers se gedrag egter ook rondom waterverbruik verander word.

Turton raai ook die stadsleiers van Tshwane aan om ’n stelsel te vestig waar verskillende tariewe vir verskillende waterverbruike aangewend word.

Nog een van sy aanbevelings is dat die metro weer moet begin bou aan sy kommunikasie rondom dienste soos watervoorsiening sodat verbruikers die metro se inligting daaroor kan vertrou.

Hy verwys na Stad Kaapstad se gesofistikeerde waterplan wat na die Dag Zero-krisis vyf jaar gelede in werking gestel is.

“Die metro moet ook na hul beleid kyk vir die herwinning en hersirkulasie van water. Daar is stelsels waarmee water wat gesuiwer is terug in die stelsel kan geplaas word om in toilette gebruik te word. Dit maak nie sin om toilette te spoel met drinkwater nie en dit is wat ons tans doen,” wys Turton uit.

Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, het op navraag gesê die metro kan nie voortgaan om skaars bronne en befondsing te gebruik om die provinsie en semi-staatsinstellings se werk te doen nie.

“Indien Tshwane se watervoorsiening vanaf Rand Water deur die sluiting van die pyp geraak word, is dit hul verantwoordelikheid om toe te sien dat ons watertenkers kry vir Tshwane, en hulle moet daarvoor betaal,” benadruk sy.

Sy het beklemtoon die metro sal egter nie toelaat dat inwoners sonder water gelaat word as gevolg van ’n moontlike verminderde watervoorsiening deur die Rand Waterraad nie.

“Ons sal nie inwoners sonder water los nie. Die troos is egter dat die besluit juis geneem is om die pyp in ons reënseisoen na Oktober te herstel. Ons voorsien nie dat die herstel van die pyp ’n impak sal hê indien dit reg bestuur word nie,” sê Uys.

– Kliek hier vir meer oor die projek: https://tinyurl.com/bdcsve8h

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Check Also
Close
Back to top button