Local newsNews

Gemengde gevoelens oor Moody’s en ouditeur-generaalverslae

Die metro se finansiële bestuursvermoë kom ernstig onder skoot deur kenners se evaluering van verskeie aspekte daarvan soos personeelvaardighede, kredietstatus en volhoubaarheid.

Die onlangse beoordeling en verslae van drie instellings van die metro se finansiële posisie en bestuur dui op geringe vordering maar ook op verskeie kritiese aspekte wat dringend aangespreek moet word.

Die metro se kredietgradering deur die gerekende kredietgraderingsagentskap Moody’s is dieselfde gehou op ’n Caa2 langtermyn-uitreikingsgradering, ’n Caa2BCA en ’n Caa1.za NSR langtermyn-uitreikingsgradering.

Daar is egter een verandering: Die vooruitskatting van die kredietstoestand is van negatief na stabiel aangepas.

Burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, sê hierdie graderingstatus en verandering aan die vooruitskatting het geen onmiddellike impak op die stad of sy inwoners nie.

“Die stabiele uitkykgradering beteken dat die stad moontlik ’n opgradering kan kry in die volgende paar maande wat daartoe kan lei dat die stad kan kwalifiseer vir langtermynlenings om meer kapitaalprojekte aan te pak,” sê Uys.

Sy meen die feit dat daar geen negatiewe verandering aan die graderingstatus is nie, beteken ook dat die stad beter rentekoerse op korttermynskuld kan verkry.

Sulke beter rentekoerse kan ’n invloed op kontantvloei hê.

“Die stad het tans steeds ’n R4-biljoen begrotingstekort wat oorstaan van die tydperk toe die stad onder administrasie geplaas is,” wys Uys uit.

Sy het die ouditverslag van die ouditeur-generaal (OG) wat Donderdag, 11 April tydens ‘n spesiale vergadering van die stadsraad deur die ouditeur-generaal se kantoor voorgelê is, verwelkom.

“Ons streef na ’n ongekwalifiseerde oudit. Daar is egter reeds ’n beduidende verbetering waarop voortgebou kan word. Die burgemeester het in sy stadsrede in 2023 uitgewys dat dit ten minste twee finansiële jare vir die stad sal neem om so ’n ongekwalifiseerde oudit te bekom,” verduidelik Uys.

Volgens haar het die metro nou ’n ouditkomitee waar komiteelede aanbevelings maak oor maatreëls om ’n skoon oudit te behaal.

“Die burgemeesterskomitee werk ook aan sakesprosesse om ontbrekende beheermaatreëls sowel as ’n nuwe aankoopbestuurstelsel in plek te stel,” sê Uys.

Die voorsitter van die Pretoria Sakekamer, Fergus Ferguson, meen die Moody’s-gradering sowel as die ouditeur-generaal se verslag, moet in perspektief gesien word.

“Die aspekte van gebrekkige interne kontrole deur onbekwame en ongedissiplineerde personeel bly die enkele grootste risiko vir dienslewering aan die stad,” sê Ferguson.

Die Sakekamer verwelkom die vordering in die metro se finansiële omdraaistrategie wat in die OG se verslag wys.

Volgens hom moet daar egter gelet word op fundamentele tekortkominge soos uitgewys in die verslag.

“Hierdie tekortkominge laat die Sakekamer die ouditeur-generaal se verslag met gemengde gevoelens ontvang,” beklemtoon Ferguson.

Hy is bly oor die erkenning in die verslag oor die metro se vordering om wesenlike ongerymdhede aan te spreek.

“Daar is egter ’n aantal aspekte wat nog nie voldoende aangespreek is nie,” sê Ferguson.

“Geen of bittermin stappe is geneem vir invordering van ongeoorloofde en vrugtelose uitgawes. Geen optrede hierrondom is ook geneem in terme van vervolging van diegene wat sulke uitgawes aangegaan het nie. Geen stappe is dus vir die verhaling van sulke uitgawes gedoen nie,” sê Ferguson.

Die Sakekamer eis volgens Ferguson dat die metro se personeelprestasie verbeter.

“Die Sakekamer sal diegene verantwoordelik vir korporatiewe bestuur in Tshwane in die openbaar aanspreeklik hou,” maan Ferguson.

Volgens hom word ’n reeks PAIA-versoeke tans in die vooruitsig gestel om Tshwane-bestuur tot verantwoording te roep oor aspekte wat dienslewering, deursigtigheid en korporatiewe bestuur aanspreek.

“Ons verwag ook ’n daadwerklike toename in die tempo om dispute oor rekeninge en ongerymdhede in die administrasie op te los,” benadruk Ferguson.

Hy meen die oplossings van sulke dispute sal ’n beduidende impak op die kontantvloei en dienslewering van die stad hê.

Vir die Sakekamer is veral die laat indiening van finansiële state onaanvaarbaar.

“Die lang lys van die aspekte waaroor die ouditeur-generaal nie voldoende bewyse voor kon vind nie, soos die bevestiging van debiteure, sowel as die onvoldoende finansiële rekords waarna hy telkens moes na verwys, is kommerwekkend,” sê Ferguson.

Graderingsmaatskappy Ratings Africa het hul verslag en indeks oor munisipaliteite en die agt metro’s se finansiële volhoubaarheid verlede week die lig laat sien.

Navorser en samesteller van die verslag, Leon Claassen, sê die indeks vir 2023 evalueer operasionele prestasie, kontantvloeibestuur, skuldbestuur, begrotingspraktyke, bekostigbaarheid en infrastruktuurontwikkeling van ’n munisipaliteit.

Hy wys in die verslag daarop dat in die geval van ’n metro soos Tshwane, veroorsaak die lopende en werkende operasionele kontanttekort dat dienste nie gelewer kan word soos verlang word deur gebruikers, belastingbetalers en inwoners nie.

“Die praktiese gevolg van sulke tekorte is dat voorsieners van dienste aan munisipaliteite en metro’s deur utiliteitsmaatskappye soos krag en water nie betaal kan word volgens wet binne 30 dae nie. Dit kan tot ’n onderbreking in dienste vir besighede en inwoners lei wat katastrofiese gevolge kan hê en tot onruste kan lei,” verduidelik Claassen.

Uys sal by die vergadering van die Pretoria Sakekamer op 23 April om 08:00 terugvoering gee oor die omdraaistrategie van die metro.

Pretoria Sakekamer-voorsitter, Fergus Ferguson

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button