Local newsNews

Geraas by winkelsentum hou inwoners wakker in die nagte

Inwoners van Waverley probeer al nege maande om probleme oor 'n kragopwekker en konstruksiewerk se geraas op 'n sinvolle manier op te los, maar voel hulle bereik nie veel nie.

Vir inwoners van Hertzogstraat oorkant en in die omgewing van die Waverley Plaza-winkelsentrum, is dit ’n stryd sedert Mei verlede jaar om snags te slaap.

Die redes is klanksteurnisse as gevolg van ’n kragopwekker sowel as ’n bouery by die sentrum buite toegelate ure.

Binne die gevestigde buurt met sy stil en boomryke strate is daar in die onmiddellike omgewing van die sentrum ’n ouetehuis, ’n skool en ’n kinderhuis.

Na nege maande soek die inwoners oplossings en nie langer “verskonings en leë beloftes” van die metro, sentrumbestuur en eiendomsverhuringsmaatskappy nie.

Van die inwoners se eerste klagtes en navrae oor die ontwrigtende geraas is in Mei 2023 aan die metro se department vir gesondheidsomgewingsbeheer vir Streek 3A gerig.

Die inwoners is egter tans moedeloos en ondersoek ander maniere om die probleme aan te spreek.

Ten spyte van hul klagtes en om die regte kanale te volg, kon hulle snags teen einde Februarie en die eerste weke van Maart steeds bykans nie ’n oog toemaak nie.

Inteendeel, volgens sommige inwoners, het die klanksteurnisse rondom die bouery net vererger in plaas van verbeter in die pasafgelope nege maande.

Metro-amptenare het die klagtes met die bestuur van die winkelsentrum op 9 Mei opgeneem en terugvoer aan die inwoners hieroor gegee.

Die bestuur is ook deur die metro gewaarsku dat boetes gaan volg as hul aanhou om in die nag te bou en te breek.

Die amptenaar het ook die sentrumbestuur in ’n e-pos versoek om aandag aan die klankdigting van die kragopwekker te gee.

Die inwoners sê die probleem met die kragopwekker het begin toe die winkelsentrum die installasie van die een kant van die winkelsentrum (die heuwelkant) na die ander kant (stadskant) geskuif het.

Die verskuiwing is glo juis gemaak om die inwoners aan die een kant te akkommodeer.

“En nou skep dit vir ons aan hierdie kant ’n probleem,” verduidelik ’n radelose inwoner. “Inderwaarheid het hulle net die probleem verskuif.”

Nadat die situasie nie na klagtes en aanmelding by winkelsentrumbestuur en die metro verbeter het nie, is inwoners deur die metro gevra om vir twee weke ’n rekord te hou van die klanksteurnisse.

So ’n deeglike rekord is wel gehou en as ’n verklaring by die polisiestasie te Villeria op 27 Junie verlede jaar ingedien en aan die omgewingsbeheerbeampte vir Streek 3A gestuur.

Inwoners het die metro ook om inligting gevra rondom regulasies oor klanksteurnisse en is aangeraai om hulle te vergewis van die feite in die metro se handleiding oor klanksteurnisse en ontwrigtende klanke.

Volgens die stel regulasies wat die metro gebruik, die Gauteng Geraasbeheerregulasies van 1999, mag geen persoon ’n ontwrigtende klank maak hetsy dit deur die persoon self of ’n masjien gemaak word nie.

Die kragopwekkerinstallasie op die parkeerterrein van die Waverley Plaza-winkelsentrum.

Van Oktober verlede jaar tot nou toe het die inwoners steeds beide die probleem van die kragopwekker en die bouery probeer aanspreek.

“Ons is van bakboord na stuurboord gestuur. As ons kla oor veral die bouery dan gaan dit ’n rukkie beter, maar net om weer na ’n paar aande hervat te word,” sê een inwoner.

Tans meen die inwoners die geraas van die kragopwekker is bedags aanvaarbaar.

“In die nag hoor jy hom nog in jou huis alhoewel hy baie stiller is,” vertel ’n inwoner. “Die nagmerrie is egter nou die bouery se geraas snags daarby.”

Die konstruksiewerk het glo aan die begin van Maart nie net eers meer tot 21:00 geduur nie.

Volgens inwoners het die werk soms tot om middernag die afgelope paar weke aan die einde van Februarie en begin Maart geduur en soms ook om 05:00 begin.

”As mens by jou huis is, soek jy net rustigheid. Ons het geen agenda met hierdie klagtes nie. Ons wil net hê dat die sentrum se bestuur die reëls nakom en dat die metro die regulasies afdwing,” sê ’n inwoner.

Letitia Findlay, woordvoerder van City Property, sê die sentrum het toestemming van die stadsraad om konstruksie buite normale werksure te doen.

“Maar ons verstaan inwoners se klagtes rondom die bouery en ondersoek alternatiewe om hul klagtes aan te spreek met inagneming van ons huurders en inkopiegangers. Ons prioriteit bly die voltooiing van die projek tydig terwyl ons ook die ongerief vir die gemeenskap in ag neem,” verduidelik Findlay.

Met die onlangse aanhoor van klagtes van inwoners in die tweede week van Maart is alle konstruksiewerk volgens haar na-ure gestop.

Sy beklemtoon konstruksiewerk tydens die sentrum se inkopie-ure kan ’n gesondheids- en veiligheidsrisiko inhou.

Sy verduidelik die eerste fase van die projek sal teen die einde van April voltooi wees.

“Ons sal die volgende fases aan die direkte omliggende inwoners kommunikeer per brief. En met plakkate en sosiale media aan die res van die gemeenskap,” benadruk sy.

Die kragopwekker is teen Junie 2023 geïnstalleer, verduidelik Findlay en voldoen volgens haar aan die metro se akoestiese vereistes.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo het bevestig dat die wettige tyd waartydens konstruksie van groot geboue en winkelsentrums mag geskied van 07:00 tot 17:00 is.

Mashigo sê opsigself het Tshwane nie sub-regulasies oor geraassteurnisse nie.

Daar word volgens die Gauteng Geraasbeheerregulasies van 1999 wetstoepassing gedoen.

Die metro se boudepartement het nie teen druktyd kommentaar gelewer op navrae nie.

Raadslid Frans Smit is om kommentaar genader maar het Rekord na die sentrumbestuur en eiendomsverhuringsmaatskappy vir inligting verwys.

Klagtes rondom Waverley Plaza kan gerig word aan 012 319 8811 of by propworld@cityprop.co.za.

Om ’n geraasklagte aan te meld, skakel gedurende werksure 012 358 4656 of stuur ’n e-pos aan Ehonestop@tshwane.gov.za of MHSinfodesk@tshwane.gov.za.

LEES: Two truck hijackers caught red-handed on R21

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button