Local newsNews

Waterbeperkings en OVK-skuif terugslae vir metro

Die metro berei hul voor om bedreigings en uitdagings rondom die 29 Mei-verkiesing te kan hanteer.

Twee terugslae het die goeie nuus van Tshwane se verbeterde ouditstatus soos deur die ouditeur-generaal verlede week bekend gemaak, in die skadu gestel.

Vroeër verlede week het burgemeester Cilliers Brink aangekondig die stad se gekwalifiseerde ouditverslag is ’n verbetering op die vorige verslag.

’n Dag daarna, op 15 Maart, is aangekondig dat Tshwane die geleentheid verloor het om die verkiesing se uitslagsentrum van die Onafhanklike Verkiesingskommissie te huisves.

Die OVK het die nuus bekend gemaak tydens ’n vergadering van die Nasionale Persklub op 14 Maart.

Die OVK meen die geoormerkte gebou op die skougronde van Tshwane Events Centre is nou té verwaarloos en vervalle.

Die skok is skaars verwerk, toe moes Brink op Saterdag, 16 Maart ’n dringende noodvergadering van Randwater saam met twee ander metro’s bywoon.

Die burgemeesters is meegedeel Randwater se voorraadwater staan op minder as 30%.

Daar is ook gewaarsku dat die watervoorsieningstelsel opsigself op die rand van totale verval staan.

“Ons het ’n goeie verstandhouding met die Raad, maar hul kapasiteit skiet te kort. Die feit dat ons van ’n enkele voorsiener afhanklik is, kommer my ook,” sê Brink.

As gevolg van geweldige druk op stelsels, het die metro vanaf Saterdag waterbeperkings ingestel.

Plante mag nie tussen 06:00 en 18:00 natgelei word nie. Voertuie, opritte en plaveisel mag nie met tuinslange skoongespuit word nie.

Inwoners is gevra om toilette net te spoel wanneer nodig, nie die kraan te laat loop wanneer jy tande borsel nie en nie swembaddens met munisipale water te vul nie.

LEES: Tuine Tiere bied unieke bokstoernooi aan

Brink het benadruk die metro het nou ’n lopende waterrekening met Randwater en skuld die instansie nie enige geld nie.

Die verlies rondom die gebruik van die uitslagsentrum deur die OVK is vir hom ’n groot verleentheid.

“Dis ’n laagtepunt vir die metro, maar die OVK moet in sy beste belang optree,” sê Brink.

Oor die verkiesing op 29 Mei en die aanloop daartoe, het hy ook aan Rekord gesê die munisipaliteit maak voorsiening om verskeie uitdagings en bedreigings die hoof te bied.

“Tshwane is voorberei op deurlopende en moontlike landgrype deur mense aangehits deur die EFF. Hierdie landgrype lei net tot swaarkry vir talle aangesien die besette grond dikwels in vlei-areas geleë is. Waar is die EFF as die mense veral in die winter begin swaarkry?” vra Brink.

Hy het aangedui dat Tshwane reeds verskeie maatreëls in plek gestel het om te verseker dat metrogrond en -bates nie deur landgrype in die aanloop tot die verkiesing en daarna geraak sal word nie.

“Ons is self ook kwesbaar as metro. Die volhoubare oplossing is egter dat wetgewing aangepas moet word sodat meer tyd aan grondeienaars gegee kan word om die oortreding op hul eiendom aan te meld. Dit kan verhoed dat hierdie kwessies individueel elke keer deur ’n hofbevel besleg moet word,” meen Brink.

Met so ’n aanpassing van die wet, moet daar volgens hom ook opgelet word na die verantwoordelikheid op die metro se skouers om akkommodasie te verskaf wanneer grondbesetters hervestig moet word.

“Soms wil dit voorkom asof hierdie reëling besetters doelbewus laat grond inneem sodat hulle ’n aanbieding van alternatiewe akkommodasie kan bekom. Wetgewing moet klousules insluit wat sê indien sulke voornemens bewys kan word, verval die akkommodasie-verpligting op die munisipaliteit,” verduidelik Brink.

Hy verwys ook na ’n ongekende kriminele aanslag wat tans en moontlik met die verkiesing ’n risiko vir die metro se infrastruktuur inhou.

“Die aanslag kom op verskillende vlakke. Substasies en hul veiligheidspersoneel word op verskeie maniere geteiken, maar op ’n kleiner skaal word komponente van straatligte ook gesteel sodat buurte onveiliger word. Verder is daar die konstruksiemafia wat op verskeie maniere verhoed dat kapitaalprojekte voltooi word,” verduidelik Brink.

Hy glo die oplossing lê daarin dat die bestaande veiligheidstrukture se voetspoor, soos deur privaat maatskappye gevestig, benut moet word.

Oor die skuif van die uitslagsentrum bes moontlik na ’n ander metro, het Brink opdrag aan die stadsbestuurder, Johann Mettler gegee dat tugstappe gedoen moet word teen diegene wat klaarblyklik nie hul rol as veiligheidspersoneel by die skouterrein nagekom het nie.

Hul opdrag was om toegang streng te beheer sodat die terrein beveilig is.

Brink meen egter steeds die terrein moet deel wees van die metro se planne om stadsraadbates, wat nie deel is van hul kernmandaat nie, deur privaat ontwikkelingsmaatskappye te laat oorneem.

Daar is wel lig in die tonnel volgens Brink, veral rondom verbeterings reeds aangebring deur die metro en soos deur die ouditeur-generaal uitgewys.

Brink meld in ’n 2017-ondersoek is ondersoek ingestel na maniere om beter beheer oor die metro se finansies te kry.

Daar is egter eers onlangs gevind nie al hierdie voorstelle van konsultante oor die metro se finansies is doeltreffend deurgevoer nie.

“Die sleutel vir ons om ’n nog beter verslag einde van 2024-boekjaar te kry, is om ons interne finansiële stelsel te herbou en ons oog op onreëlmatige uitgawes te hou sowel as om ’n aksieplan na gelang van die ouditeur-generaal se verslag op te stel,” sê Brink.

Hy benadruk die oudit-aksieplan sal verwesenlik word deur maandelike vergaderings van die burgermeestersbestuurkomitee.

“Ons gaan nie einde van 2024 by die goudstandaard van ’n skoon oudit kan uitkom nie. Ons is egter beslis onderweg,” verduidelik Brink.

Hy gaan in sy stadsrede oor ’n paar weke klem lê op drie prioriteite: finansiële redding, energie-onafhanklikheid en verbeterde dienslewering.

Die metro het volgens Brink nog nie van Nasionale Tesourie gehoor oor metro-voorleggings rondom die moontlike verlies van ongebruikte subsidies en toelaes nie.

Meeste van die fondse wat verbeur sal word, is toegeken aan water en elektrisiteitsprojekte.

Dit maak Brink wel kwaad dat min gesê word oor die feit dat twee ander metros, Ekurhuleni en Johannesburg, in dieselfde geldbootjie is.

“Die kans om die toegekende fondse te verbeur was nog nooit so groot nie. Die regering is self in finansiële knyp,” meen Brink.

Hy verduidelik dat alhoewel die metro daarop ingestel is om wel toegekende fondse te benut, daar nie net voor die voet fakture betaal sal word nie.

“Ons moet waarde vir ons geld kry. Ons spandeer dus stadiger geld maar wil meer waarde daarvoor kry,” beklemtoon Brink.

Hy waarsku dat die metro wel in die onmiddellike toekoms van Tesourie sal moet hoor anders sal ’n spesiale aanpassingbegroting opgestel moet word.

LEES: Jukskei en boks help sentrum se inwoners

Vir Brink is dit egter ’n troos dat die stadsraad opsigself tekens van groter stabiliteit toon.

“Ons het elke beplande stadsraadsvergadering suksesvol sonder konflik of dat ons handgemeen raak afgehandel, en daar was nog geen mosie van wantroue in my leierskap nie,” sê Brink.

Dis verder vir hom ’n riem onder die hart dat daar ’n goeie verstandhouding tussen die koalisieregering en die Speaker van die stadsraad is alhoewel laasgenoemde nie deel van die koalisie is nie.

“Ons is ook die enigste metro in Gauteng wat ’n begroting afgehandel en goedgekeur het,” sê Brink. “Dit blyk of ’n era aangebreek het waar die stadsraad moeilike besluite sonder politieke onenigheid kan maak.”

Hy glo die metro sal baat by ’n moontlik mulitpartyregering op provinsiale vlak na die verkiesing.

“So ’n verandering van regering op provinsiale vlak sal beslis tot die voordeel van Tshwane wees,” benadruk hy.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button