Jukskei en boks help sentrum se inwoners

Boks en jukskei is van die aktiwiteite wat inwoners en deelnemers by 'n sentrum vir mense met intellektuele gestremdhede se aktiwiteitskalender inkleur.

’n Tuiste vir volwassenes met intellektuele gestremdhede in Pretoria-Noord vind al ’n geruime tyd baat deur die ontwikkeling van boks as ’n ontspanningsport. Hulle gaan nou ook deur jukskei hul deelnemers en inwoners aan bedrywighede by die sentrum aktief hou.

Mariana Kriel van Solidariteit Helpende Hand sê hulle het onlangs jukskeibane by die Uitkoms-versorgingsentrum ontwikkel om die deelnemers die geleentheid te gee om buitekant in die vars lug te wees, son te kry en aktief te wees.

Kriel wil ook lede van die gemeenskap en besighede uitnooi om daar jukskei vir spanbou te kom speel.

“Mens moet uitgedaag word om te kom leer jukskei speel en om met persone met gestremdhede te integreer. Ons organisasie glo daarin om te bou en volhoubare projekte neer te sit,” verduidelik Kriel.

Van die vele aktiwiteite om inwoners en dagbesoekers te stimuleer sluit ook weeklikse slaansak-aktiwiteite met bokshandskoene in.

Die sentrum het juis onlangs ’n skenking van bokshandskoene (vir beide mans en dames) ontvang wat die ontwikkelingsprogram momentum gee.

Louis van Winkel van Shape Up Boxing Club besoek inwoners weekliks en laat hulle teen ’n slaansak oefen.

Hy is ’n voormalige Springbok-bokser en die vriend asook afrigter van wyle Corrie Sanders, voormalige WBO-wêreldbokskampioen.

Van Winkel sê in sy 38 jaar as polisiebeampte, het hy ’n groot passie vir mense ontwikkel.

“Na ek afgetree het, wou ek my kennis in die bokswêreld deel met ander. Ek het ’n boksklub waar ek opkomende amateurboksers afrig en is ook betrokke by Knikkie Knakkie Kleuterskool om by kinders van jongs af ’n passie vir boks te kweek,” verduidelik Van Winkel.

“Ek het besluit Uitkoms-versorgingsentrum se opregte liefdevolle mense kan baat vind by boksoefeninge. Dit verbeter hand- en oogkoördinasie, help met postuurkorreksie, help kognitiewe denke verbeter en verseker beter balans. Die dopamien wat vrygestel word deur die brein is altyd ’n bonus. Hierdie inwoners en dagbesoekers is baie na aan my hart. Elkeen het ’n spesiale plek in my hart.”

Die versorgingssentrum maak staat op skenkers en fondse vanaf ouers en voogde en ontvang geen subsidies vanaf die staat nie.

Indien enige leser sou belangstel om ’n verskil te maak in die lewens van die inwoners en deelnemers by wyse van donasies, skenkings of by die sentrum betrokke wil raak, kontak gerus die bestuurder, Christo Topham by 012 548 0352 of Liane Ellis (bemarking) by 082 580 1338.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version